As jy en jou ma rolle ruil

Wat gebeur as jy en jou ma rolle ruil… Nico van Gijsen gesels oor die versorging van bejaarde ouers en die finansiële verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Jou besluite verg goeie finansiële beplanning. As jy meer wil weet, lees verder.


As jy en jou ma rolle ruil

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  30 Januarie 2022

‘n Vraag van ‘n leser oor die versorging van haar bejaarde ma gee die agtergrond vir vandag se bespreking.

Dit is ‘n onderwerp wat baie meer dinkwerk en baie meer finansiële voetwerk vereis as om bloot te sê, kom trek by ons in.

Dit behels ‘n finansiële gevolg, of liewer, ‘n finansiële verantwoordelikheid. En dit, gesien vanuit my oog as ‘n finansiële beplanner, is ‘n finansiële risiko wat aandag moet geniet. Anders gestel, dit moet deel vorm van jou finansiële beplanning as jy jou in so ‘n situasie bevind, of dalk metteryd daaroor gaan moet besluit.

Sonder om te oordeel, daar is baie redes waarom ‘n ouer in sy of haar latere lewe vir  versorging afhanklik raak van kinders. Maar eintlik kom dit neer op te min geld. Te min eie voorsiening.

En oor die redes hiervoor kan ‘n mens ook lang gesprekke voer. Soos, eenvoudig net nie genoeg gespaar vir oudag nie en die gevolge van inflasie is heeltmal onderskat. Of eie aftreefondsvoordele wat uitgegee is op kinders se studies, kinders se huise, aan kinders geleen en wie weet wat nog alles.

Swak gelddissipline en swak beleggingsbesluite is nog redes.   

Maar dis nie die onderwerp vir vandag nie. Ek noem hierdie oorsake van latere geldpyne net kortliks ter wille van diegene wat nog jonk genoeg is om iets aan hul eie heil te doen. Diegene wat wil seker maak dat hulle nie eendag in ‘n posisie beland waar hulle op hul kinders sal moet staatmaak vir onderhoud nie.

Die implikasies van jou belofte

“Toemaar, ons sal vir mammie sorg vir solank mammie leef,” is sekerlik nie te onbekende woorde vir baie lesers nie. Dit is mooi en dit is edel. ‘n Mens los nie jou familie op straat nie.

Dit is ook ‘n finansiële verantwoordelikheid, of verpligting, wat jy op jou neem. En ‘n finansiële verpligting wat jy op jou huweliks- of lewensmaat kan plaas as jy nie behoorlik daarvoor beplan nie.

Kom ons gebruik ‘n dogter en haar ma as voorbeeld.

“Solank mammie leef,” gaan ‘n heel ander perspektief kry as mammie langer as dogter leef. Mense gaan nie in volgorde dood nie. Wie gaan dan na mammie kyk?

As mammie ingewoon het by dogter en haar man, sit die man nou met die verpligting. Gaan hy tevrede wees daarmee? Gaan hy tevrede bly? En as hy ‘n nuwe liefde raakloop, wat van  nuwe liefde? Gaan sy tevrede wees met ‘n inwonende bejaarde tannie na wie sy moet help omsien?

Dit is hoekom ek altyd tot versigtigheid maan waar ouers by kinders hul intrek wil neem.

Word mammie onderhou, maar woon op haar eie, of in ‘n tehuis vir bejaardes, of in ‘n versorgingsoord, raak dinge darem makliker wat die mensfaktor aan betref. Maar die geld-verpligting word nie minder nie.

Gaan manlief tevrede wees om vir jou ma te bly sorg? En nuwe liefde?

Goed, wat om te doen.

As jy lewensversekering het, maak jou boedel die begunstigde op minstens ‘n goeie deel daarvan. Maak seker dit is genoeg om vir mammie te kan versorg in haar oudae. Die berekeninge kan gedoen word deur jou finansiële adviseur as hy weet wat hy doen.

En as jy nie genoeg lewensdekking het nie en jy is gesond genoeg, kry lewensdekking. Ek is bevrees te veel vroue het in elk geval te min lewensversekering. Byna asof ‘n vrou se lewe  nie na waarde geskat word nie.

Wel, hier is een rede waarom jy lewensdekking kan oorweeg. Die ander, belangriker dalk, is om geld na te laat vir man en kinders. Selfs al is jy ‘n sogenaamde tuisteskepper, is daar ‘n geldwaarde aan jou bydrae tot die huishouding. Verseker dit.

Hoekom die polis begunstig aan jou boedel en nie direk aan mammie nie?

As al die polisgeld na mammie gaan, is dit haar syne. En as sy sterf, na wie toe gaan dit? Jy wil tog seker dat dit wat oor is na jou eie kinders, of jou man, gaan, of hoe?

En ‘n tweede rede, demensie en Alzheimer se siekte is ‘n werklikheid by ouer mense wat ‘n mens nie kan ignoreer nie. En sulke mense kan nie met geld werk nie.

Die volgende stap is om in jou testament ‘n klousule in te bring wat die opbrengs van daardie polis in ‘n testamentêre trust sal plaas. En maak jou ma die enigste begunstigde van daardie trust totdat sy sterf en dan kan die geld uitgedeel word aan ander begunstigdes soos jy bepaal in jou testament.

As sy (die dogter) lid van ‘n pensioenfonds is, of ‘n uittree-annuïteit (UA) het, kan sy vir mammie as ‘n begunstigde daarop benoem.

Die probleem is dat die trustees van die pensioenfonds, of UA, die finale sê het oor die uitkeer van pensioengeld. Jy kan dus nooit 100% seker wees dat jou wens uitgevoer gaan word nie.

Die trustees moet volgens wet na alle afhanklikes kyk. Hulle kan nie al die geld net aan een afhanklike betaal nie. Daarom is dit beter om doodseker te maak.

Scroll to Top