In ’n wêreld waar bedrog en wantroue aan die orde van die dag is, kan ’n enkele handtekening jou duur te staan kom. Lees hoe selfs die mees versigtige beleggers hul hele portefeulje onwetend kan wegteken – en hoe jy jouself kan beskerm.
Loop lig! Jy kan maklik jou hele portefeulje wegteken
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 26 Oktober 2025
Daar is deesdae al hoe meer wolwe in skaapsklere wat jou onkant kan vang as jy nie baie versigtig is nie, skryf Nico van Gijsen.
Ek hou die nuus dop oor die parlementêre ad hoc-komitee se ondersoek na die opspraakwekkende bewerings oor polisiekorrupsie deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi.
Maar ek hou nie asem op dat iets daarvan gaan kom nie.
Ek hou nietemin die nuus dop. Nie net oor die bewerings nie; ons almal weet dat die korrupsie- spook diep loop en dat selfs die polisie deurspek is met misdadigers. Kom ons kyk wat word hiervan.
Die punt wat ek wil beklemtoon, is dat ons in ’n wêreld leef waar jy eintlik min of niemand meer kan vertrou nie. En dit is veral jou geldsake wat jy moet oppas.
Ek kyk vandag na voorbeelde uit eie ervaring. Dit is voorbeelde wat jou onkant kan vang as jy nie baie versigtig is nie.
Ek noem met opset nie die name van die instansies nie. Dit strook nie met my siening van etiek om my voorkeur-toegang tot die media te gebruik om ander in ’n swak lig te stel nie. Maar wat ek noem, is belangrik. Dit kan enigeen raak. En enige instansie kan onverhoeds betrek word.
Geval een – die beleggingshuis
Die afgelope week sukkel ek kliphard met ’n bekende beleggingsinstansie om te keer dat ongewenstes toegang tot die geld van ’n kliënt in Bloemfontein kry.
Die kliënt is siek en in die hospitaal. Sy kognitiewe funksies is nie meer aldag wat dit was nie.
Ek kry toe ’n e-pos van sy adres af waarin gevra word hoeveel geld hy kan onttrek. In sy naam, asof dit hy is. Ek het snuf in die neus gekry, want dit is nie hoe ons mekaar aanspreek nie.
Net hierna kom ek agter dat daar ook probeer is om deur die aanlyn diens geld uit sy belegging te onttrek. Ek het die instansie ingelig en ons staak toe die aanlyn diens.
Maar sowaar, die volgende dag het hierdie mense klaarblyklik ’n makelaar nader getrek en die kliënt ’n vorm laat teken wat hierdie onbekende makelaar aanstel en my verwyder as die kliënt se finansiële raadgewer.
Die instansie – al die rooi ligte en al my waarskuwings ten spyt – sê bloot: Die kliënt het geteken. Hy word aangestel. Ek is verwyder. En basta verder.
Met die skryf hiervan is ons besig met ’n interdik-aansoek by die hof en ’n verdere moontlike strafregtelike ondersoek. Die instansie weier om die makelaar se naam bekend te maak.
Die les hierin is om familielede wat in tehuise vir bejaardes of hospitale opgeneem is, te beskerm. Ja, soms teen hulself.
Veral ouer mense raak afhanklik van ander. Afhanklikheid lei tot vertroue, soms vals vertroue. Die afhanklike raak broos. Hy of sy wil vertrou en ander tevrede stel.
En daar is mense wat dit uitbuit.
Geval twee – die bank
Ek moes ’n nuwe kredietkaart by my bank kry, maar die ding word nie afgelewer nie. As ek navraag doen, hoor ek die koerier is op pad. Tot ek uitvind die adres waar dit afgelewer gaan word, is in Johannesburg. Ek is in Kaapstad.
Ek gaan kyk toe op my bankprofiel en sowaar, die selnommer op rekord is nie my nommer nie.
Ek vra toe ’n prokureursvriend om van se kantoornommer hierdie verdagte nommer te skakel. En sowaar, daar is antwoord. En sowaar, die persoon gee my naam as sy eie. En sowaar, hy is erg omgekrap omdat sy nuwe kaart nie afgelewer word nie.
Ek kon dit betyds stop.
Wat my kwel, is dat ek dit by die bank se bedrogtak aangemeld het. Met die boef se telefoonnommer. Hulle hoef hom net te gebel het en hom in hegtenis gaan neem het. Dit is nie gedoen nie.
Dit is die probleem waarna ek hierbo verwys. Baie word gepraat oor misdaad, maar dit bly meesal by praat.
En natuurlik hang die vraag nog: Wie by die bank kon my besonderhede verander sodat die boef so byna my kredietkaart in die hande gekry het?
Gaan kyk gerus so elke nou en dan na jou profiel by die bank of beleggingsinstansie of jou persoonlike besonderhede nog korrek is. Anders kan jou geld maklik in ’n ander kanaal beland.
Geval drie – die onetiese makelaar
Ons hoor so baie: Kyk wat jy teken. Maar as ’n verteenwoordiger van ’n groot versekeringsinstansie jou vra om ’n dokument te onderteken, glo my, gaan min mense dit eers volledig deurlees. En selfs daarna gaan hulle nie verstaan wat hulle gelees het nie.
Meer as een keer had ek al hiermee te doen.
Tannie, ek wil net kyk. Nee, ons doen niks, ek wil net kyk, dalk kan ek beter doen.
En dan teken tannie. Of oom teken.
En in die proses het die oom of tannie sy of haar hele beleggingsportfeulje oorgeteken op die
naam van die nuwe makelaar. Vir die kommissie natuurlik. Vir werk wat hy nie gedoen het nie.
Ek wil twee punte hier beklemtoon.
As jy tevrede is met jou finansiële raadgewer, het ander niks met jou te soek nie. Hy of sy kan
net beter beloftes maak, maar nie beter opbrengs kry nie.
Opbrengs is die gevolg van jou behoefte. As jy hoër groei belowe word, los dit uit. Dit is meer risiko. As jy twyfel, praat met jou finansiële raadgewer dat hy of sy kan verduidelik.
Kyk wat jy teken. Is dit ’n aanstelling, of is dit “om net te kyk”?



