Soms lê die antwoord op ons finansiële struikelblokke elders as waar ons dit verwag. Hierdie artikel ondersoek die wyse raad van ‘n ou gesegde en die implikasies van finansiële besluite op langtermyn sukses.
Oplossing vir geldprobleme lyk nie altyd logies
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 21 April 2024
Sien eers na jouself om voor jy geld aan kinders gee of leen
As jou voete koud kry, sit jou hoed op.
Maak dit sin? Maak dit finansieel sin?
Soms lê die oplossing vir ’n mens se probleme, insluitend geldprobleme, nie waar jy die probleem ervaar nie, maar elders.
Soms ver van die oorsprong.
Laat ek verduidelik.
In my bergklimwêreld het ek gou die ou gesegde te harte geneem: As jou voete koud kry, sit jou hoed op. Dit het ek ook oor jare heen vir nuwe berg-avonturiers probeer tuisbring.
Jou liggaam verloor eerste sy hitte deur sy verste punte, jou hande en voete. En jou kop.
Jou vingerpunte en tone (vir ons met die ligte pigmentasie) raak eers rooi en dan wit. Dit is om die bloedsomloop af te sluit en jou so te beskerm teen die koue.
Maar jou kop? Daar kan die bloedsomloop nie afgesluit word nie omdat jou brein dit nodig het. En dit is dus waar jy die meeste liggaamshitte sal verloor.
Dis hoekom jy jou hoed moet opsit as jou voete koud kry.
Die mes sny twee kante toe
Ons geldsake werk soms net so. Jy kan ’n probleem hier hê, terwyl ’n maklike oplossing elders lê. As jy maar net geweet het.
Ek het in verlede week se rubriek, “Skenkingsbelasting, help jou kind só”, hieraan geraak
Ek het onder meer aan die hand gedoen dat ’n lening in sekere omstandighede vir jou beter kan wees as ’n skenking.
As jy die letter van die wet volg, kan dit help dat jy nie skenkingsbelasting hoef te betaal nie. En selfs ook nie rente hoef te vra nie.
Uiteraard moet dit met omsigtigheid en met kundige hulp aangepak te word. Niks in hierdie lewe is heeltemal eenvoudig nie.
En net soos wat my inleiding hierbo en my voorstel van ’n lening pleks van ’n skenking wys, kan die antwoord vir ’n probleem soms elders lê.
Net so kan dit ook ’n probleem elders skep. Die mes sny twee kante toe.
Byvoorbeeld, ek het verlede week se rubriek geëindig met: “Wat as jy sterf? Die uitstaande leningsrekening is oproepbaar deur jou boedel.”
Die dood is nie die einde nie
Hier is kortliks ’n paar belangrike punte om in gedagte te hou.
Die dood van ’n persoon bring nie ’n einde aan ’n kontrak waaraan hy deel het nie. ’n Leningsooreenkoms is so ’n kontrak.
Die eksekuteur (in die geval waar jy as lener eerste sterf ) moet daardie lening oproep. Die uitstaande waarde daarvan word in jou boedel opgeneem en is onderworpe aan boedelbelasting.
Jy kan natuurlik die lening testamentêr aan die kind bemaak, in welke geval dit steeds in berekening gebring sal word vir boedelbelasting. En ja, vir die eksekuteurstarief ook, omdat die eksekuteur daarmee moet werk.
Jy het dus geskenkbelasting gesystap, maar toe wag boedelbelasting.
Hier is ’n ander vraag. Wat as die laassterwende eerste sterf?
Mense gaan nie in volgorde dood nie. Neem die stukkie waarheid tog in ag elke keer as jy jou finansiële plan hersien.
Die uitstaande lening is ’n verpligting wat sy boedel moet nakom. Dit is soos enige ander skuld. Die vraag is, is daar genoeg geld in die boedel om die skuld aan jou te kan betaal?
Jy kan ook nie sommer net besluit, ag, los maar die skuld nie.
Niemand is verplig om ’n erfenis te aanvaar nie.
Maar skuld is nie ’n erfenis nie, dit is skuld. En as jy dit afskryf, kom blaas skenkingsbelasting opnuut hier in jou nek.
En nog ’n vraag. Kan julle ooreenkom dat die kind die uitstaande lening in sy testament aan jou bemaak?
Slegte nuus. So ’n ooreenkoms is uit die staanspoor nietig. Die regstaal hiervoor is “pactum successorium”.
Dit is as asof die ooreenkoms nooit bestaan het nie. En dit sluit in selfs enige ooreenkoms om nie jou testament te wysig nie. Dit is om mense se testeervryheid – jy mag met jou goed maak soos jy wil – te beskerm.
Soos ek hierbo verwys, soos wat die oplossing vir ons probleem – om geld by kinders te kry – elders kan lê, net so kan die probleem elders lê en wag.
Soos boedelbelasting, pleks van skenkingsbelasting.
Besin mooi oor skenkings
Nietemin, my raad is om tog maar mooi te besin voor jy jou geld vir ’n kind skenk, of selfs leen. Jy wil nie jou spreekwoordelike hoed weggee en die dag as jou geldvingers begin vries van die koue, dan het jy nie ’n hoed om op te sit nie.
Ek sien gans te veel gevalle waar ouers hier kort ná aftrede sommer geld aan kinders begin uitdeel. En dan later jare self in ellende sit omdat hulle niks het om op terug te val nie. Geen geldhoed nie.
En ongelukkig is daar dan baie van daardie kinders wat nie kan help nie, want pleks dat hulle geleer is om vir hulself te werk en eie verantwoordelikheid vir hul geldbesluite te aanvaar, het hulle hul ouers leeg gesuig.
Nietemin, dit is nie my taak om voor te skryf oor wat mense met hul geld moet doen nie. Ek kan net raad gee. En voorstelle maak.
Jy moet eers na jouself omsien. Jy weet jou lewe gaan die een of ander tyd tot ’n einde kom.
Wat jy nie wil hê nie, is dat jou geld voor jou sal doodgaan
Nog raad
’n Skenking in afwagting of ná dood
Daar is twee maniere om skenkings te maak, sonder dat skenkingsbelasting gehef word.
Dit sal moeilik wees met geld, maar met ander eiendom kan dit oorweeg word.
Die eerste is die sogenaamde donatio mortis causa. Dit is ’n skenking in afwagting op die dood. Die skenking tree eers in werking by die dood van die skenker. Die eiendom word eers oorgedra ná die dood van die skenker.
Die tweede tipe skenking is een waar die persoon wat die skenking ontvang, geen voordeel uit die skenking verkry tot ná die dood van die skenker nie.
Die verskil tussen die twee is dat met die eerste die skenker die reg het om die skenking te enige tyd te herroep. Die tweede tipe skenking is egter nie herroepbaar nie.
Die vraag is hoekom so ’n skenking?
Daar is geen skenkingsbelasting by een van die twee tipes skenking nie.
Onthou skenkingsbelasting is betaalbaar in die jaar van die skenking.
By die dood van die skenker, in albei gevalle, is die bate “geagte eiendom” in die boedel van die oorledene. Maar teen die waarde wat dit gehad het toe die skenking gemaak is, nie die waarde by dood nie.
Met die boedelbelastingkorting (R3,5 miljoen) ter sprake by dood kan dit ’n belastingbesparing beteken.