Aflegging: Dis hoe jy moet maak

Wanneer aflegging jou tref voel dit asof jou die mat onder jou voete uitgeruk word. Maar daar is ’n pad vorentoe – Nico gee praktiese wenke om nie net die emosionele impak te hanteer nie, maar ook slim finansiële keuses te maak wat jou toekoms sal beskerm.


Aflegging: Dis hoe jy moet maak

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  30 Junie 2024

Hier is wenke vir wanneer werkgewer jou trekpas gee

Aflegging deur ’n werkgewer, daardie geldnagmerrie wat lojale werknemers selde kan sien kom, spook weer by my. Vriende, kennisse en ’n paar kliënte moet nou hierdie werklikheid in die gesig staar.

Wat om te doen? Hier is ’n paar riglyne. Hopelik help dit om die emosionele impak beter te verwerk, maar veral wil ek voorstelle maak oor hoe om die langtermyn finansiële gevolge beter te bestuur.

Die werklikheid van ’n beroepsaflegging kom altyd as ’n groot skok. Jou loopbaan was gebou op lojaliteit teenoor die werkgewer. Jy het jouself daar sien aftree. Jy het jou en jou geliefdes se toekoms daarop gebou.

En dan, skielik, is dit weg. Sommiges raak depressief. Baie word kwaad. Almal is teleurgesteld en voel verwerp. Met goeie rede.

Die uitdaging nou is om jou nie te laat onderkry deur die omstandighede nie. Moenie mismoedig raak nie. As jy jou gaan sit en verknies is dit klaarpraat met jou.

Lig jou kop. Kyk net na die positiewe kant en soek vir nuwe geleenthede. Dit is daar. Dit is altyd daar. Jy moet net uitkyk daarvoor.

Ek weet, ek was ook daar.

Jou geldprobleem is tweërlei

Enersyds het jou inkomste waarop jy maandeliks staatgemaak het, tot ’n einde gekom.

Andersyds sit jy nou met ’n bedrag geld, of toegang tot ’n bedrag geld, wat reg bestuur moet word. Vir nou en vir die toekoms.

En dit behels die regte keuses. Daar is langtermyn finansiële gevolge, ingesluit belastinggevolge, vir wat jy nou besluit.

En daarom kan ek nie sterk genoeg aanraai nie, dat jy vir jou ’n kundige onafhanklike finansiële raadgewer aanstel om jou te help. Die bondel-advies wat  werkgewers se personeelafdelings en hul gekose finansiële produksmouse aanbied, is myns insiens net nie goed genoeg nie.

Jy is nie – in elk geval nie meer nie – ’n bondelmens nie. Jy is nou uniek. Jy skuld hulle geen lojaliteit meer nie.

Jou behoeftes is uniek. Sommiges is alleenlopers. Ander is in huwelike of verhoudings. Ander is enkelouers met klein kinders.

Ek behandel kortliks ’n paar belangrike kwessies.

Risiko

Jy het nie net jou werk verloor nie. Jy verloor ook jou risikodekking, lewens- en ongeskiktheid, wat jy as deel van jou werknemervoordele in die pensioenfonds het. Dekking wat sou help as jy as inkomsteverdiener vir jou gesin en jou kinders sou sterf of ongeskik raak.

As jy persoonlike dekking uitgeneem het, is die probleem nie so erg nie, maar as jou enigste dekking die by jou werkgewerfonds was, moet jy iets daaraan doen.

Gewoonlik sal jy ’n voortsettingsopsie kan kry, maar neem in ag dat jy as lid van die fonds help dra het aan jou kollegas se risiko, byvoorbeeld, die rokers, die siekes, en so meer.

Kry dus maar onafhanklike kwotasies vir risikodekking gegrond op wat jou nuwe behoeftes is en vergelyk dan as jy wil.

Kontantonttrekkings

Kontantonttrekkings uit ’n aftreefonds val in twee kategorieë vir belastingdoeleindes: ’n onttrekkingskontantvoordeel en ’n aftreekontantvoordeel.

Die aftreekontantvoordeel is die belastingvriendelikste van die twee. Jou skeidingspakket word tesame met jou aftreevoordeel (pensioenfondsgeld) beskou as ’n aftreekontantvoordeel en as sodanig belas.

Sou jy bedank en jou aftreefondsgeld laat uitbetaal, sal die onttrekkingskontantvoordeel se belasting van toepassing wees. Maar omdat jy afgelê word, geld die aftreekontantvoordeel se belastingskaal.

As jy nog nie by aftree-ouderdom is nie kan jy dus al jou aftreefondsgeld tesame met die skeidingspakket laat uitbetaal. Dit word dan saam belas ingevolge die skaal vir aftreekontantvoordele (omdat jy afgelê is).

Die eerste R550 000 word belas teen ’n nul koers, teen 18% op die volgende R220 000, teen 27% op die volgende R385 000. Op alles daarbo (dus bo R1 155 000) word jy belas teen 36%.

Kortom, jy kan ’n yslike klomp geld aan Jan Taks afstaan as jy al jou geld in kontant neem.

Doen die berekeninge en beperk jou belasting. Dit help nie om geld te gaan weggee net omdat jy nou benoud of kwaad is nie.

Jy kan ’n deel van jou geld in kontant neem (kyk na die belastingskaal hierbo) en die res kan jy in ’n bewaringsfonds belê waar dit vir jou belastingvrye groei verdien.

Die geld so belê gaan vry van belasting oor. En jy het eenmalig toegang daartoe sou die nood vorentoe druk.

Jy hoef nie jou volle skeidingspakket te laat uitbetaal as jy een van die gelukkiges is wat nie nou ’n dringende behoefte aan kontant het nie.

Wat min mense weet, is dat jy jou skeidingspakket in byvoorbeeld ’n uittree-annuïteit (UA) kan belê. Dit gaan vry van belasting oor en jou groei in die UA is belastingvry tot jy eendag besluit om af te tree.

As jy nou by aftree-ouderdom is, kan dit beter wees (minder belasting) om liewer af te tree as om al jou geld in kontant te laat uitkeer.

Neem ’n bedrag in kontant. Belastingvrye geld (die R550 000) is altyd ’n plesier. Dalk tot R770 000 afhangend van jou skeidingspakket, want belasting teen 18% op R220 000 is byna belastingvry, afhangend van jou marginale belastingkoers.

Met die oorblywende geld kyk jy na ’n pensioeninkomste, ’n lewende annuïteit, of ’n gewaarborgde lewensannuïteit. Die geld gaan belastingvry oor en jy trek ’n pensioen vir die res van jou lewe.

My voorstel tussen die twee sal beslis die gewaarborgde lewensannuïteit wees. Dit bied sekerheid en die syfers is tans uitstekend.


Nog raad

Staal jouself so teen afleggingspook

Geen werknemer is verseker dat hy of sy nie afgelê kan word nie. Dit het altyd ’n finansiële gevolg. Lees die hoofrubriek vir wenke oor hoe om dit te hanteer.

Maar hoe kan jy jouself staal daarteen in ’n toekomsplan om seker te maak dat jy nie in finansiële ellende beland sou dit met jou gebeur nie? Hier is ’n paar wenke. Kry, afsonderlik van jou werkgewer se aftreefondsvoordele, ’n eie spaar en risikodekkingsplan aan die gang.

Die spaargeld sal help teen die finansiële impak van ’n inkomste wat skielik wegval.

Die les? Dis beter om te spaar as om skuld te maak op grond van ’n salaris waarvan jy seker is – en wat soos ons sien nie so seker is nie.

By aflegging verloor jy jou risikovoordele (lees die hoofrubriek). Maak seker jy het jou eie dekking ook. Dit is goedkoper hoe jonger jy is en val nie “weg” nie.

Jy kan jouself verseker teen aflegging self. Dit is ’n byvoordeel wat aangebied word, wanneer jy byvoorbeeld ’n lewens- of gevreesdesiektepolis (wat elke mens moet hê na my mening) uitneem.

Old Mutual het byvoorbeeld so ’n polis wat inkomste van tussen R3 000 en R30 000 per maand bied ná aflegging.

Scroll to Top