Belastingvry? Nie so vinnig nie. Die waarheid oor lewende en vrywillige annuïteite is meer ingewikkeld—en halwe waarhede kan jou duur te staan kom.
Vrywillige annuïteite: Oppas vir halwe waarhede
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 01 Maart 2026
Maak seker jy weet wat die verskille tussen ’n lewende annuïteit en ’n vrywillige annuïteit is. En aan watter belastings dit alles onderhewig is. Vrygestel van boedelbelasting beteken byvoorbeeld nie vrygestel van ’n ánder belasting nie, skryf Nico van Gijsen.
Boedelbelasting bly maar vir baie mense ’n kopseer. Selfs diegene wat nie ’n boedelbelastingprobleem het nie, of een behóórt te hê nie as hulle net kundige finansiële hulp wil kry.
Met dié stelling as agtergrond kyk ek vandag na ’n leser se vraag.
Hy wil weet of ’n “vrywillige annuïteit ook vrygestel is van boedelbelasting soos ’n lewende annuïteit”.
Oppas vir sulke stellings. Die finansiële werklikheid is baie meer ingewikkeld as eenvoudige stellings soos in hierdie vraag. Vrygestel van boedelbelasting beteken byvoorbeeld nie vrygestel van ánder belasting nie.
En dan is hier ook ’n ja- en ’n nee-antwoord op dieselfde vraag.
Maar voordat ek my eie kop deurmekaar skryf, kom ons begin deur te kyk na die verskille tussen die twee: ’n lewende annuïteit teenoor ’n vrywillige annuïteit. En dan kyk ons na die belastings.
Lewende annuïteit
’n Lewende annuïteit kan seker bes beskryf word as ’n persoonlike pensioen. Sy volle naam is beleggingsgekoppelde lewende annuïteit.
Dit is sy eerste kenmerk. Gekoppel aan beleggings. As die beleggingsportefeulje waarin jou lewende annuïteit (of dan pensioen) belê is, goed presteer, wen jy. As dit swak presteer, verloor jy.
Jy dra ál die risiko.
En, so terloops, wees versigtig om jou lewende annuïteit in ’n aftreefonds te hou. Kyk mooi en jy sal sien dat die kontrak uitdruklik sê: “Ons aanvaar geen verantwoordelikheid vir onderprestasie nie.” Kry raad by ’n finansiële beplanner. Goedkoop hou sy eie risiko’s in.
En die belangrikste vir laaste: ’n Lewende annuïteit kan net met verpligte geld aangekoop word. Dit is geld afkomstig uit ’n aftreefonds, soos ’n pensioen- of uittreeannuïteitsfonds (UA).
Vrywillige annuïteit
’n Vrywillige annuïteit, soos die naam aandui, word aangekoop met diskresionêre geld. Nie verpligte geld nie.
Met verpligte geld móét jy ’n pensioen aankoop, waarvan ’n lewende annuïteit een opsie is. Met diskresionêre geld kan jy vir jou ’n annuïteit aankoop, of nie.
Met ’n lewende annuïteit dra jy al die beleggingsrisiko, soos genoem. Die vrywillige annuïteit bied ’n gewaarborgde inkomste lewenslank. Jy is dus nie aan markbewegings blootgestel nie. Dit is die versekeraar se probleem.
’n Vrywillige annuïteit bied ’n gewaarborgde inkomste, soortgelyk aan ’n pensioen, uit jou diskresionêre geld. Jy kan selfs twee lewens daaraan koppel, byvoorbeeld joune en jou wederhelf s’n. Dit betaal dan tot by dood van die langslewende.
Jy kan ’n jaarlikse inkomstestyging vir inflasie daaraan koppel vir lewenslank.
Met ’n vrywillige annuïteit word die inkomste, net soos met ’n lewende annuïteit, as inkomste belas. Maar in dié geval is net ’n deel belasbaar omdat jou inkomste deels uit kapitaal gefinansier word.
En jy kan die oorspronklike bedrag kapitaal wat jy belê verseker by dood vir ’n begunstigde.
Belasting by dood
Nou moet ek eers stilstaan by die woordspelings en my vraag is dan: Word die waarheid verdraai?
Die oorblywende geld in jou lewende annuïteit word wel van boedelbelasting vrygestel. Maar moenie jou hierop blind staar nie. Oppas vir die verkoopstories om diskresionêre geld eers in ’n UA te belê en dan ’n lewende annuïteit aan te koop om boedelbelasting te vermy.
Die rede waarom die geld in ’n lewende annuïteit van boedelbelasting vrygestel is, is omdat dit ingevolge die tweede skedule van die Wet op Inkomstebelasting (58 van 1962) belas word.
En, as die begunstigde die kapitaal in die lewende annuïteit neem, kan dit teen ’n hoër koers belas word as wat gehef sou word as dit onder boedelbelasting sou geval het.
Boedelbelasting word gehef teen 20% vir belasbare boedels onder R30 miljoen. Sou die begunstigde die geld in ’n lewende annuïteit onttrek, is belasting van 27% betaalbaar op die bedrag bo R770 000 en teen 36% op enige bedrag meer as R1 155 000.
En daar is nie aftrekkings teen hierdie bedrae nie. In die geval van boedelbelasting is daar vele aftrekkings, byvoorbeeld skuld, en dan is daar ook die R3,5 miljoen-korting.
Sou die begunstigde in ’n lewende annuïteit nie die volle bedrag as kontant neem nie, kan hy of sy maandeliks ’n annuïteit onttrek, wat dan aan inkomstebelasting onderhewig is.
In die geval van ’n vrywillige annuïteit (weer eens ’n bietjie speel met woorde) is geen boedelbelasting betaalbaar by dood nie. En onthou, as daar twee lewens aan gekoppel is, staak die vrywillige annuïteit eers by die sterfte van die tweede lewe, die langslewende.
As daar net ’n termynwaarborg aan die vrywillige annuïteit gekoppel is, sal die annuïteit bly uitbetaal tot aan die einde van die termyn, byvoorbeeld 10 jaar of 15 jaar. Dit is as albei die versekerde lewens voor die einde van die termyn sterf.
Kortom, hy betaal uit tot by dood van die langslewende, of die einde van die termyn, welke een die langste is.
Ek het egter hier bo ook genoem dat jy met ’n vrywillige annuïteit by dood die kapitaal terug kan verseker.
Dit werk basies op die beginsel van ’n lewenspolis wat jy uitneem (heelwat goedkoper as ’n gewone polis). By die dood van die langslewende betaal die polis die oorspronklike bedrag kapitaal aan die begunstigde uit.
Die bedrag is vatbaar vir boedelbelasting teen die normale koers, sou boedelbelasting wel deur die boedel betaalbaar wees. Die belasting hierop word pro rata bereken volgens die bedrag wat die polis tot die belasbare boedel bydra.
Finansiële beplanning gaan om meer as boedelbelasting. Kry kundige hulp, voordat jy jou vasknoop met halwe waarhede.



