Testament: Dít is baie belangrik

’n Testament is meer as net ’n stuk papier – dit is jou stem ná jou afsterwe. Ontdek wat jy moet weet om seker te maak jou wense word gerespekteer en jou geliefdes behoorlik versorg.


Testament: Dít is baie belangrik

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  03 November 2024

Elke mens het die reg om goed te bemaak soos hy wil

’n Leser vra dat ek skryf oor die vereistes vir ’n “wettige” testament.

Dis ’n moeilike vraag.

Ek meen die meeste dokumente wat bedoel is om ’n testament te wees, sal wettig wees, solank dit nie onder druk opgestel is nie.

Die volgende probleem is dat ’n testament wettig kan wees, maar in watter mate voldoen dit aan jou behoeftes, of jou wil om te bemaak?

Sonder om die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) te herskryf, neem ek dit puntsgewys, in die algemeen en met verduidelikings eerder as fyn besonderhede, vir ’n regsgeldige testament.

Testeervryheid

Testeervryheid verwys na elke mens se reg om sy goed te bemaak soos hy wil. Dis ’n baie sterk reg, wat in verskeie sake in ons howe erken word.

Solank as wat jou bemakings nie teen die morele orde is nie, kan jy basies bemaak soos jy wil.

Dit is nie te sê dat uitvoering gegee sal word aan jou bemakings soos jy wou nie. Daar is byvoorbeeld die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) wat jou bemakings in ’n ander rigting kan stuur.

Art. 37C van die Pensioenfondswet kan, hoewel nie direk nie, jou plan vir naasbestaandes beduiwel, want jy kan nie pensioengeld in jou testament bemaak nie.

Dit gesê, enigeen bo die ouderdom van 16 jaar kan ’n testament opstel, tensy hy ten tyde van die opstel van die testament geestesongesteld was in die mate dat hy nie die aard en gevolg van sy daad kon besef nie.

Getuies

Jou testament moet onderteken word aan die einde daarvan, sê die wet, hoewel dit prakties die gebruik is om elke bladsy aan die einde te onderteken.

Dit moet in die teenwoordigheid van twee getuies gedoen word, wat albei ook die testament as getuies moet onderteken, weer eens op elke bladsy volgens gebruik.

Wie kan getuies wees?

Dit kan enige persoon bo die ouderdom van 14 jaar wees wat ten tyde van die ondertekening nie onbevoeg is om in ’n hof te getuig nie.

Wie kan nie as getuie optree nie?

Enige persoon wat ’n testament onderteken as getuie, sowel as die gade van daardie persoon ten tyde van die ondertekening van die testament, is gediskwalifiseer om enige voordeel uit die testament te ontvang.

Kortom, ’n getuie kan nie erf nie.

’n Hof kan wel bepaal dat so ’n persoon mag erf nadat die hof tevrede is dat so ’n persoon of sy gade nie bedrog gepleeg het of die testateur onregtelik beïnvloed het nie. So ’n getuie sal egter nie gediskwalifiseer word om te erf as die testament deur twee ander bevoegde getuies onderteken is wat nie bevoordeel sal word uit die testament nie.

Daar is verskeie ander faktore wat in ag geneem moet word by die opstel van ’n regsgeldige testament, synde dit jou bemakings kan beïnvloed. Ek kyk na enkeles.

Art. 2C

Hierdie artikel bepaal eerstens dat sou ’n afstammeling van die testateur, uitgesluit ’n minderjarige, of ’n afstammeling wat geestesongesteld is, tesame met die oorlewende gade van die testateur, geregtig wees op ’n voordeel uit die testament en daardie persoon doen afstand van sy reg om die voordeel te ontvang, sal die volle voordeel outomaties vestig in die oorlewende gade.

Eenvoudiger?

As jy jou huis aan jou dogter en jou oorlewende gade bemaak en die dogter doen afstand van haar reg om te erf, sal die oorlewende gade die volle voordeel kry. As dit nie jou bedoeling is nie, maak ’n plan.

Tweedens, sou jou erfgenaam voor jou gesterf het, sal sy afstammelinge sy voordeel kry, tensy die konteks anders bepaal. Weer eens, as dit nie jou bedoeling is nie, maak ’n plan.

Die regsgeldigheid van ’n testament is nie die enigste bepaler van wie wat gaan ontvang ná jou dood nie.

Ooreenkoms om te bemaak

Ek weet baie mense dink anders, of glo anders, maar die waarheid is dat jy nie kan ooreenkom met iemand anders oor hoe om te bemaak nie.

Elkeen kan, soos ek hierbo noem, bemaak soos hy of sy wil.

Daar word na so ’n testamentooreenkoms verwys as ’n pactum successorium en so ’n ooreenkoms is vanuit die staanspoor ongeldig. Dis asof dit nie bestaan het nie.

Uiteraard is daar veel meer te sê hieroor en argumente gevoer deur regslui. Aanvaar maar net dat niemand met jou ’n ooreenkoms kan aangaan oor hoe jy moet bemaak nie.

’n Uitsondering op die reël oor die ongeldigheid van so ’n ooreenkoms is die sogenaamde donatio mortis causa, ’n geskenk gemaak in lewe wat eers by dood realiseer. So ’n skenking moet voldoen aan die regsvereistes van ’n testament om dit geldig te maak.

Minderjariges

Dink oor die bemaking aan ’n minderjarige.

Neem in ag, en lees wat ek hierbo skryf, dat jy bemakings aan ’n volwasse kind kan maak wat dalk voor jou tot sterwe kan kom en dan gaan die bemaking outomaties oor aan sy minderjarige kind (wat dalk toe jy die testament opgestel het nog nie eens in lewe was nie).

Dit is beter om met dit in gedagte altyd in jou testament voorsiening te maak vir minderjariges deur sulke bemakings te doen aan ’n spesiale trust, sodat dit nie direk na die minderjarige vererf nie.


Nog raad

Stoflike oorskot

Jou dood het meer voorbereiding aan as wat jy dalk dink.

Dink ook aan jou stoflike oorskot. Sommige mense verkies om veras te word. Ander wil begrawe wees.

Dit help nie veel jy teken dit aan in jou testament nie. Jou testament word gewoonlik eers gelees lank ná die begrafnis (of verassing).

Maak dit vooraf bekend aan jou naasbestaandes en die mense wat jy weet jou begrafnis gaan reël, of daarby betrokke gaan wees. Dit is nodig, want in baie families is daar sterk gevoelens teen byvoorbeeld verassings en jy wil nie ’n bakleiery ontketen oor hoe daar met jou oorskot te werk gegaan moet word nie. Dood is reeds ’n traumatiese ervaring.

Dit gaan ook nie net oor veras of begrawe nie.

Jy kan dit dalk ook oorweeg om jou liggaam aan mediese navorsing te skenk, of om jou organe te skenk, en dit kan nie wag vir ’n testament om gelees te word nie. Maak seker jou naaste familie weet van so ’n plan.

Sou dit jou bedoeling wees, is dit gerade om by die Orgaanskenkersvereniging (odf.org.za) aan te sluit. Die mediese instelling waar jou liggaam gaan wees, sal in elk geval die nodige verlof van jou naasbestaandes ook vereis.

Scroll to Top