Onderteken testament terwyl jy nog leef…

Het jy al ooit gehoor van iemand wat sy testament ná sy dood onderteken het? Na aanleiding van ‘n storie oor ‘n man wat skynbaar sy testament na sy dood onderteken het, raak Nico kortliks aan verskeie faktore en vrae wat opduik rakende die ongewone geval.


Onderteken testament terwyl jy nog leef…

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  18 Augustus 2024

Daar word  beweer dat  iemand dit ná  sy dood  gedoen het…

’n Testament kan skynbaar ná dood eers onderteken word. Sowaar.

Ek hoor snaakse stories in my beroep. Die dinge wat mense aanvang om geld te kry, of om belasting te ontduik. Maar dié een vat die koek.

Dit laat my dink die dood is skynbaar nie meer so seker soos wat ons al die jare glo nie.

Byvoorbeeld, in my gunstelingdagblad, Die Burger, lees ons die afgelope week van ’n berig in die koerant 50 jaar gelede van ’n man wat by sy eie begrafnis lewendig geword het. Toe hy sien waarmee sy familie besig is, skrik hy homself (weer) dood.

En dan die storie van die polisieman van ’n klompie jare gelede. Hy het op ’n polis van sy ma ’n doodseis ingestel. Toe die versekeraar se ondersoekspan onraad vermoed en hy dit agterkom, toe laat weet hy ewe inskiklik: “The lady is now alive again.”

Maar die ou wat dood is en weer lewendig geword het en toe sy testament onderteken het, het my byna van die stoel laat afval. Tog dit is die feite ter sake. Ek het dit op baie goeie gesag.

Kortliks. Die man is dood. Morsdood. Maar op ’n manier, en met dokters as getuies, word hy weer springlewendig.

Goed, miskien nie heeltemal “spring” nie, maar lewendig. Lewendig genoeg om ’n testament wat net mooi op daardie oomblik in sy hand gestop word, te kan onderteken. Toe sterf hy vir oulaas.

In die testament bemaak hy sy totale boedel aan sy kinders. En aan sy vrou (’n tweede huwelik) niks.

En dit is hoe die geveg begin het. Wat kan sy doen?

Die testament

Sy kan hierdie laat ondertekende testament aanval. My argument in ’n hof sou wees dat dit darem erg gerieflik was vir ’n man om lewendig te word om ’n testament te onderteken waarin hy haar onterf en alles aan sy kinders bemaak.

Ek sou die oorledene se geestestoestand ná sy eerste sterfte bevraagteken. Stel jou voor jy ontwaak uit die duisternis van die hiernamaals. Pleks dat jou kinders jou toejuig met blydskap oor jou opstanding uit die dood, druk hulle ’n testament (opgestel deur ’n prokureur) in jou bewerige hande en sê, teken dit.

Maar dit kos ’n hofsaak. Met die klem op kos. Nie eet-kos nie, kos soos in geld. Baie geld. Wat sy nie juis het nie.

Ongeldige testament

Sou sy tog die hof-roete volg en die saak wen, dan moet hierdie testament ongeldig wees. ’n Hof kan dit doen. Dan sterf hierdie man (twee keer) intestaat. Dit is sonder ’n testament.

Wat dan? Dan sal die vrou ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) geregtig wees op ’n kindsdeel uit die boedel. Of R250 000 as die kindsdeel minder is.

Kortom, die restant van die boedel word dan gelykop verdeel tussen die kinders en die vrou. Sy erf dan darem gelykop met die kinders. Nie niks nie.

Die huweliksvorm

Sy was getroud met die man met ’n huweliksvoorwaardekontrak ingesluit by die aanwasbedeling.

Dit behels kortliks die volgende: By huweliksbeëindiging, in dié geval deur dood, het die party met die kleinste huweliksaanwas ’n eis teen die ander party (of sy of haar boedel) om die helfte van die verskil in groei in die twee boedels.

Haar aanwas, hoewel nie juis iets om oor huis toe te skryf nie, was die grootste een. Die boedel (met ander woorde eintlik die kinders) het dus benewens hul alleen-erfenis ook nog ’n eis teen haar.

Die gevolg hiervan sal wees dat sy nog minder het.

Onderhoud van langslewende gades

Gelukkig is dit nie die einde van die vrou se opsies nie. Sy het darem nog die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) waarop sy haar kan beroep. Ondanks die feit dat haar aanwas (kyk hierbo) groter was as dié van haar oorlede man.

Die aanwaseis sluit nie toegang tot hierdie onderhoudseis uit nie. Dit gaan hier om verdere onderhoud vir haar as oorlewende gade uit ’n huwelik. In die huwelik rus daar tog ’n wedersydse plig om onderhoud en versorging – en dit eindig nie sommer by dood nie.

Interessante vraag

Natuurlik ontstaan ’n interessante vraag.

Die huwelik word deur die dood beëindig (in dié geval). Dit is hoekom die aanwaseis ter sprake kom.

Is dit nou die eerste dood wat die huwelik beëindig? Of word die huwelik eers beëindig by die laaste dood?

As dit die eerste dood is, het hy mos gesterf sonder testament en sal sy ’n kindsdeel moet erf soos hierbo genoem ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging.

As dit die tweede dood is, dan wonder ek of die wet moet voorsiening maak dat iemand dalk daar aan die ander kant eers gou sy harp kan neersit om sy testament te kom wysig voordat hy finaal oorskuif.

Ek sal nog dink hieroor en dalk in ’n latere rubriek hieraan aandag gee.

Ek sien daar is ’n gemiste oproep op my selfoon van ’n ou dominee-vriend. Ek sal met hom gesels, dalk het hy toegang tot instansies waarmee ek nie so gemaklik is nie, wat vir ons lig hierop kan werp.

Intussen stel ek voor jy onderteken jou testament vóór jy doodgaan.


Nog raad

Wet bied langslewende beskerming

Die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990) is daargestel om die langslewende gade in ’n huwelik wat deur dood beëindig is, ’n mate van beskerming te bied.

Dit lui dat die oorlewende gade ’n eis het teen die boedel van die oorlede gade vir die voorsiening van haar (as die langslewende ’n vrou is) redelike onderhoud tot by haar dood, of tot by hertroue, in die mate dat sy nie in staat is om vir haarself te kan voorsien deur eie middele of inkomste nie.

Die eis om onderhoud deur die oorlewende gade het dieselfde reg op voorkeur met betrekking tot ander eise teen die boedel as die eis van ’n afhanklike kind van die oorlede gade.

So ’n eis word gewoonlik direk by die eksekuteur van die boedel ingedien. Die eksekuteur het die reg om ’n ooreenkoms aan te gaan met die oorlewende gade en erfgename en legate, wat ’n belang by die ooreenkoms het.

Redelike onderhoud in dié geval word bereken deur die volgende in ag te neem:

  • Die bedrag beskikbaar in die boedel vir verdeling;
  • Die bestaande vermoëns van die oorlewende gade; en
  • Die lewenspeil van die oorlewende gade tydens die huwelik.
Scroll to Top