Alles oor lewende annuïteite

Lewende annuïteite is ‘n ingewikkelde onderwerp wat baie vrae ontlok. Tog kan dit ‘n kern rol in jou finansiële beplanning speel. Of jy nou aftree-opsies oorweeg of jou nalatenskap wil beveilig, dit is belangrik om lewende annuïteite goed te verstaan.


Alles oor lewende annuïteite

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  22 September 2024

Vrae stroom in oor ‘voorwaardes en bepalings’

Verpligte geld

Ek kry gereeld vrae van lesers wat ’n lewende annuïteit wil koop met geld wat hulle in ’n diskresionêre belegging het.

Jy kan nie.

’n Lewende annuïteit kan jy net koop met wat ons noem verpligte geld (teenoor diskresionêre geld – jou eie spaargeld).

Die sogenaamde verpligte geld is geld wat jy gespaar het in ’n aftree-produk, byvoorbeeld jou pensioenfonds, of in ’n uittree-annuïteit.

Op dié punt kan ek net noem dat ’n uittree-annuïteit (UA) nie vir jou inkomste kan gee nie (ek sien baie maak die fout). Die UA is die varkie waarin jy spaar om later vir jou ’n lewende annuïteit of ander pensioenproduk mee te koop.

Kortliks dan, ’n lewende annuïteit is die pensioen wat jy aankoop met jou aftreegeld.

Wanneer kan jy lewende annuïteit koop?

Dit gaan afhang van die reëls van jou pensioenfonds – wanneer jy verpligte aftrede moet neem. Met ’n UA (jou private pensioenfonds) kan jy op 55 uittree uit die UA en dan met die geld vir jou ’n lewende annuïteit koop (of natuurlik ’n ander pensioen-inkomste).

Jy is verplig (ná jou opsie om eenderde in kontant te neem) om ’n pensioen soos ’n lewende annuïteit te koop met verpligte geld. Vandaar die “verpligting”.

Hoeveel pensioen kan jy kry?

Met ’n lewende annuïteit kan jy besluit hoeveel pensioen jy wil onttrek.

En dit is net hier waar die slang in die gras lê en wag. Die een wat kan maak dat jy kort voor lank in finansiële ellende by jou kinders moet gaan intrek.

Jy kan tussen 2,5% en 17,5% per jaar van die kapitaalwaarde van die lewende annuïteit onttrek as inkomste. Dit is jou pensioen. Jy kan dit maandeliks neem of jaarliks. Jy kan een keer per jaar die persentasie onttrekking hersien.

Die kapitaalwaarde van jou lewende annuïteit sal afhang van die onderliggende fondse waarin die geld belê is. En daarvoor is jy verantwoordelik.

En dit is die tweede slang wat jou kan vang.

As jy fondse kies wat nie genoeg opbrengs in ’n jaar lewer om jou onttrekkings te finansier nie, boer jy agteruit. Jy begin in jou aftree-kapitaal invreet.

Kies jy aan die ander kant weer fondse wat (soms) hoë opbrengste lewer (hoë-risiko-fondse) en die mark waarin jy belê is ervaar ’n daling, dan daal jou kapitaal eweneens.

Nie net het jy dan minder in die poel waaruit jy kan onttrek nie, jou inkomste daal ook onmiddellik omdat jy gebonde is aan ’n persentasie onttrekking. As jy die persentasie onttrekking verhoog om by te bly (tot by die maksimum van 17,5%) vat jy meer uit die kleiner poel en daal jou kapitaal.

’n Spiraal die armoede-afgrond in.

Belasting

Terwyl jy gespaar het vir aftrede in jou pensioenfonds of UA het jy belastingvoordele geniet.

Jou spaarpremie was belastingaftrekbaar (binne perke). Die beleggingsgroei was belastingvry.

Wanneer jy ’n lewende annuïteit aankoop, gaan al die geld uit die pensioenfonds of UA belastingvry oor na die lewende annuïteit. Die belastingvrye groei op jou belegging duur voort.

Die pensioen wat jy onttrek uit die lewende annuïteit is belasbaar. Net soos enige pensioen. Net soos jou salaris. Dit word belas ingevolge die heersende belastingskaal vir die betrokke jaar.

By dood

Jy kan ’n begunstigde benoem om by jou dood die oorblywende kapitaal van jou lewende annuïteit oor te neem.

Het jy nie ’n begunstigde aangewys nie, word die lewende annuïteit aan jou boedel uitbetaal.

Nee, dit is nie vatbaar vir boedelbelasting nie (tensy daar geld in die lewende annuïteit is wat jy nie, terwyl jy gespaar het voordat jy die lewende annuïteit gekoop het, kon aftrek vir inkomstebelasting nie, maar dis ’n tegniese onderwerp vir ’n ander dag).

Jou begunstigde kan kies om ’n inkomste uit die lewende annuïteit te onttrek of om die kapitaal te neem.

Kies jou begunstigde die inkomste word dit belas as inkomste, soos ek hierbo verduidelik.

Kies jou begunstigde egter die kontantuitbetaling word dit belas as ’n kontantbedrag volgens die skaal wat kontant-uitbetalings geld by aftrede uit ’n aftreefonds.

As jy jou toegelate R550 000 belastingvrye (voorheen R500 000) bedrag geneem het by aftrede sal die begunstigde (tegnies eintlik jy wat dood is, maar die begunstigde is die een wat die uitwerking gaan voel) belas word teen ’n koers wat wissel tussen 18%, 27% en 36%, afhangende van die bedrag wat geneem word.

Dit is in die algemeen goeie finansiële raad vir die begunstigde om nie die kontant te neem nie. Die belasting betaalbaar is kwaai, soos ek in die vorige paragraaf noem.

Neem ook kennis, hoewel die waarde van die lewende annuïteit uitgesluit is vir boedelbelasting in die boedel van die oorspronklike eienaar van die lewende annuïteit sal die volle waarde wat uitbetaal aan die begunstigde vatbaar wees vir boedelbelasting in sy boedel by sy dood.

Dit is nodig dat so ’n begunstigde eers behoorlike belastingbeplanning doen en hom- of haarself nie blindstaar teen die lekker vet kontant-meevaller uit Pa of Ma se lewende annuïteit nie. Terwyl hy of sy trane van verdriet wegvee, kan Jan Taks lekker lag.


Nog raad

Bereken só KWB op bates verkry vóór 2001

Die afgelope twee Sondae se rubrieke oor kapitaalwinsbelasting (KWB) het verdere vrae van lesers ontlok.

Ek kyk hier kortliks na die vraag oor hoe om KWB te bereken op bates verkry voordat KWB wet geword het.

KWB het in werking getree op 1 Oktober 2001. Met bates verkry vóór hierdie datum kan jy die toename in waarde tot dan ignoreer. Net die toename in waarde ná hierdie datum is tersake.

Onthou, om die kapitaalwins te bepaal, is dit nodig om te begin by die basiskoste. Dit word dan afgetrek van die markwaarde wanneer die bate van die hand gesit word.

Jy kan kies tussen drie metodes om die basiskoste te bepaal:

  • Die werklike markwaarde op 1 Oktober 2001 plus toegelate verbeteringe;
  • Die sogenaamde tydtoedelingsbasiskoste (dis ’n ellelange formule en is beskikbaar op die SAID se webblad); en
  • Die 20%-reël. Dit is 20% van die waarde van die bate die dag wanneer dit van die hand gesit word, min toegelate uitgawes vir verbeteringe. Dit is nodig dat jy oor bewyse van hierdie uitgawes beskik.

As jy nie boek gehou het van uitgawes nie het jy ’n probleem. Foto’s gaan nie werk nie.

Scroll to Top