Finansiële beplanning: Dood is nie so finaal

Deeglike finansiële beplanning, spesifiek dan boedelbeplanning, is van uiterste belang. Dit begin en eindig nie net met ‘n testament nie.


Finansiële beplanning: Dood is nie so finaal

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  02 Junie 2024

Teken niks tensy jy regshulp langs jou staangemaak het

Die dood is nie altyd so finaal nie.

As jou finansiële beplanning nie reg gedoen is nie, gaan jou beplanning na jou dood vir jou gedoen word. Glo my.

En jou testament?

Baie glo mos finansiële beplanning, of dan boedelbeplanning, begin en eindig met ‘n testament. Wel, hier is nuus, jou testament is, net soos jou dood, nie so finaal nie. Daar is ‘n horde faktore wat jou testeervryheid kan rem. Te laat vir jou.

Die stellings van my kan baie tegnies raak, so kom ons kyk na ‘n voorbeeld na aanleiding van ‘n leser se brief die week.

Haar man is nou ‘n jaar gelede dood. Die boedel is glo nog nie geregistreer nie.

Albei was in opeenvolgende huwelike en binne gemeenskap van goed getroud.

Albei het kinders uit hul vorige huwelike.

Die oorledene se seun (‘n prokureur) het haar oorlede man se testament opgestel. Sy het dit mede-onderteken. Hy het sy bates tussen sy eie kinders verdeel, met 30% aan haar, sy oorlewende gade.

Haar eie kind ontvang niks. Sy is bang dat wanneer sy sterf hy nie haar erfporsie sal kry nie.

Kom ons kyk.

Die huweliksvorm

Laat ek dit hard en duidelik stel, miskien sal dit genoeg lesers na hul harte laat gryp.

Die dag toe jou man met jou getrou het, het hy die helfte van sy eie kinders se erfporsie vir jou gegee. Dieselfde geld natuurlik andersom.

Terloops, jy hoef ook nie noodwendig binne gemeenskap van goed te trou om daardie erfporsie in gevaar te stel nie.

Inteendeel, as ons kyk na onlangse regspraak, hoef jy nie eens te trou nie, net saam intrek kan al beteken dat jou kinders se erfporsie in die gedrang kan kom.

Maar kom ons hou by die leser se geval. Hulle is binne gemeenskap van goed getroud. Dit beteken dat albei se bates in  ‘n gemeenskaplike boedel opgeneem word en dat elkeen om die helfte ‘n onverdeelbare belang in daardie boedel het.

Dit is nie ‘n geval van dit is myne en dat is joune nie. Julle besit alles saam in gelyke dele, sonder om te kan spesifiseer watter dele.

Vroeër jare het dieselfde reël gegeld, maar tog was ‘n swaarder gewig toegeken aan die man om besluite te neem. Hierdie maritale mag van die man is, dankie vader tog, na die ashoop verban met die inwerkingtreding van die Huweliksgoederewet (Wet 88 van 1984) wat albei partye gelyk stel.

Kortom, jy besit die helfte van jul gemeenskaplike boedel. En basta verder.

Hoe ook al sy testament lees, hy kan net bemaak uit sy eie helfte van daardie gemeenskaplike boedel.

Gesamentlike testament

Die feit dat jy die testament mede-onderteken het, beteken niks. Dit is bloot twee testamente in een. Dit raak nie jou helfte van die gemeenskaplike boedel nie. Hy kan steeds net bemaak uit sy 50% (sonder om te kan se watter 50%, onthou).

Waar wel ‘n probleem kan inkom, is as julle ooreengekom het dat boedelsamesmelting sal plaasvind by die eerssterwende se dood.

Kortweg sal dit beteken dat julle jul boedels (in die testament) saamvoeg en dat die oorledene dan sekere bemakings doen en dat die langslewende in ruil vir sy of haar bydrae tot die vergrote saamgestelde boedel die een of ander voordeel ontvang.

Dalk moet ons die 30%-bemaking aan die leser in die lig sien. Ek weet nie, ek het nie die testament gesien nie.

Maar hier is die allerbelangrikste om te onthou.

Die langslewende moet in so ‘n geval, waar boedelsamesmelting van toepassing is, eers na die dood van die eersterwende daardie boedelsamesmelting aanvaar of van die hand wys.

Dit is jou keuse. Jy kan nog steeds wegstap as jy wil.

Maar, en dit is die heel belangrikste van alles, jy kry een kans om te kies. Jy kan nie verander nie. As jy jou keuse gemaak het, is dit bindend.

Weier jy dit, dan is slegs sy helfte van die gemeenskaplike boedel van toepassing op hoe hy wil bemaak. Soos ek hierbo noem.

Bemaking aan kinders

Dit is elkeen se goeie reg om sy goed te bemaak soos hy wil. Dit is wat testeervryheid beteken (op enkele uitsonderings na waarna ek hierbo verwys en waarop ons nie vandag sal ingaan nie).

Daar is geen plig op hom om enigiets aan jou kind uit jou vorige huwelik te bemaak nie. Selfs nie aan sy eie kinders nie.

Sou dit ‘n minderjarige kind gewees het en hy het die kind aangeneem, is dit natuurlik ‘n heel ander storie. Dit is nie die geval hier nie.

Wet op onderhoud van langslewende gades

Die wet (Wet 27 van 1990) skep ‘n geleentheid vir die langslewende gade om ‘n eis in te stel teen die boedel van ‘n oorlede gade om lewenslange onderhoud (of tot by hertroue – ook maar nog bietjie verkramp as jy my vra).

As die 30%-bemaking aan die leser dus nie genoeg is vir haar om van te leef nie kan sy so ‘n eis indien.

Die eis word direk by die eksekuteur ingedien. Waar die seun egter die eksekuteur en sommer ook erfgenaam is, kry vir jou ‘n prokureur om jou belange te beskerm.

Kort wenk? Teken niks as jy nie regshulp langs jou staangemaak het nie.


Nog raad

Aangenome minderjarige kinders

In die hoofrubriek verwys ek kortliks na aangenome minderjarige kinders. Hier is die belangrike faktore wat dit betref.

Die aanneming van ‘n kind is ‘n formele proses waar bestaande ouerverantwoordelikheid beëindig en in ‘n ander persoon gevestig word – die aanneemouer.

Enige persoon, man of vrou, getroud of ongetroud verkry volle ouerlike verantwoordelikheid en regte ten opsigte van die kind wat hy of sy aanneem.

Slegs ‘n minderjarige kind mag aangeneem word. Die kind moet ook “aanneembaar” wees. Byvoorbeeld, dit is ‘n weeskind sonder voog, die ouer van die kind kan nie opgespoor word nie, die kind is verwerp, of die kind is misbruik.

Die voornemende aanneemouer moet ouer as 18 jaar wees en geskik wees om met die toesig van ‘n kind toevertrou te word, met die volle verantwoordelikhede en pligte van ‘n ouer.

Getroudes, sowel as diegene in ‘n permanente lewensverhouding, andere wat ‘n gemeenskaplike huishouding deel, kan gesamentlik ‘n kind aanneem.

Die voornemende ouer moet aansoek doen vir ‘n aannemingsbevel by die kinderhof. Die aansoek moet vergesel wees van ‘n verslag van ‘n welsynwerker met beklemtoning dat die aanneming in die kind se belang sal wees.

Scroll to Top