Jou dood is onvermydelik – maar jou finansiële nalatenskap is iets wat jy nou kan vorm. Lees verder om uit te vind hoe strategiese beplanning jou geliefdes van boedelbelasting kan beskerm.
Die dood is seker; jou geldsake leef voort
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 08 Junie 2025
Die ongebruikte deel van ’n eerssterwende gade se boedelbelastingkorting mag na die langslewende gade oorgedra word, maar daar is fynskrif, skryf Nico van Gijsen.
Die dood is seker. Ons weet hy kom. As hy jou besoek het, is dit verby. Alles.
Maar nie vir jou geldsake nie. Dit gaan voort.
Jou geldsake moet jy reeds in orde kry terwyl jy lewe. So nie kan jou naasbestaandes ’n tekort hê. En, vadere behoed ons, Jan Taks kan ’n onverwagte meevaller kry.
Ek kyk vandag na ’n paar vrae van ’n leser. Gewoonlik probeer ek een onderwerp op ’n slag in hierdie rubriek hanteer, maar die vrae is vir my net so tipies van die bekommernisse van baie mense dat ek dit vandag saam hanteer.
Boedelbelastingkorting
Die leser skryf dat sy vrou in 2011 oorlede is. Die boedel is afgehandel en hy verstaan dat haar R3,5 miljoen-korting op boedelbelasting na hom toe sal oorrol. Hy sal dus op ’n korting van R7 miljoen in sy boedel geregtig wees wanneer hy sterf.
Waaraan hy twyfel, is: Indien hy weer trou, verbeur hy daardie korting wat hy van sy oorlede vrou “geërf” het?
Art. 4A van die Boedelbelastingwet (wet 45 van 1955) laat ’n korting van R3,5 miljoen toe op die netto batewaarde van ’n oorledene se boedel. Die netto batewaarde is ná alle aftrekkings, ingesluit bemakings aan ’n langslewende gade.
Dit gee ons die belasbare boedel waarop boedelbelasting gehef word teen 20% op ’n belasbare waarde onder R30 miljoen en teen 25% op die bedrag bo R30 miljoen.
Die wet laat toe dat die ongebruikte deel van ’n eerssterwende gade se boedelbelastingkorting na die langslewende gade oorgedra word.
Jy kan weer trou, of saambly. Jy gaan nie jou korting verbeur nie.
Maar dit is belangrik om te verstaan dat die bedrag van R7 miljoen die maksimum bedrag is. Jy kan nie uit meer as een voor-oorlede gade hul kortingsbedrae saamtel tot meer as R7 miljoen nie.
Kom ons pluis dit uit
A en B is getroud (ingesluit ’n verhouding wat bedoel is om langtermyn te wees tot die bevrediging van die kommissaris van binnelandse inkomste). B kom te sterwe.
B het sy hele boedel aan A bemaak. Hy betaal dus geen boedelbelasting nie, want ’n bemaking aan ’n gade is aftrekbaar vir boedelbelasting.
A sal dan wanneer sy sterf, kwalifiseer vir ’n boedelbelastingkorting van R7 miljoen (haar eie R3,5 miljoen plus die R3,5 miljoen wat sy van haar oorlede man verkry het).
Maar kom ons sê B in ons voorbeeld het bates aan sy kinders bemaak waarop boedelbelasting betaal moes word. Kom ons sê daar is R2,5 miljoen aan boedelbelasting betaal.
Wanneer A dan sterf, sal die ongebruikte deel van B se korting haar boedel toeval en sal sy ’n korting van R4,5 miljoen hê.
Maar daar is meer.
Die kortingsbedrag geld sedert 1 Maart 2007. Voor dit was die korting minder.
Kom ons sê in ons voorbeeld dat B in Augustus 2005 oorlede is, toe die korting net R1,5 miljoen was. Sy boedelbelasting toe betaalbaar het die volle korting van R1,5 miljoen ingesluk.
Nou, ná al die jare, sterf A. Sy kan in haar boedel steeds die ongebruikte deel (R2 miljoen) van die R3,5 miljoen van haar oorlede man benut. Haar boedel het dus ’n boedelbelastingkorting van R5,5 miljoen (haar R3,5 miljoen plus haar “geërfde” R2 miljoen).
Verdere vrae (1)
Die leser wou ook weet: Indien hy ’n saamwoon-ooreenkoms met ’n vrou aangaan, kan hy dan daarin bepaal dat enige verdere groei op sy belegging aan haar oorgedra sal word? Of gaan boedelbelasting daarop gehef word?
Al jou bates word ingetrek vir die berekening van boedelbelasting. Maar enige bemaking aan ’n gade (ingesluit iemand in ’n saamwoon-ooreenkoms) is aftrekbaar, soos ek hierbo noem.
Om dit makliker te maak, kan jy mos liewer in lewe die helfte van die groei, of wat jy ook al wil, eenvoudig aan haar skenk. Daar is nie geskenkebelasting tussen gades nie.
Verdere vrae (2)
Die leser vra of dit nie beter sal wees om liewer geld wat hy tans in ’n uittree-annuïteit (UA ) belê, te gebruik om ’n lewenspolis mee te koop nie.
Die opbrengs op die lewenspolis sal beter wees, meen hy. En as hy die polis sedeer, sal dit nie boedelbelasting verhoog nie.
Wag ’n bietjie. Hier is baie meer aan.
Die lewenspolis sal beslis ’n beter “opbrengs” lewer. Hoe vroeër jy sterf, hoe beter. Besluit maar self. Ek sou self byvoorbeeld liewer langer wou leef.
Lewenspolisse is om vir ander te sorg, nie vir jouself nie. As dit ’n behoefte is, asseblief doen dit. Onthou net op 69-jarige ouderdom is die premies baie hoog.
Die lewenspolis sal inval vir boedelbelasting, maar as jou vrou die begunstigde is, is dit natuurlik aftrekbaar vir boedelbelasting.
’n Laaste punt
As jy ’n lewenspolis aan ’n oorlewende gade begunstig, is daar eerstens geen boedelbelasting daarop betaalbaar nie.
En tweedens is daar ook geen inkomstebelasting wat gehef gaan word nie, ook nie kapitaalwinsbelasting nie.
Begunstig jy ’n oorlewende gade op jou UA, is dinge nie so voordelig nie.
Indien die gade die volle waarde van die UA laat uitkeer, is daar geen aftrekking nie en sal sy inkomstebelasting (volgens aftree-skaal) van tot 36% daarop moet betaal.
Neem sy nie die bedrag in kontant nie, sal sy inkomstebelasting volgens die algemene inkomstebelastingskaal op die inkomste moet betaal.