Boedelbeplanning is meer as net ’n testament

’n Testament alleen beskerm nie jou geliefdes nie – sonder deeglike finansiële beplanning kan jou wense ná jou dood sommer heeltemal op sy kop gedraai word.


Boedelbeplanning is meer as net ’n testament

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  28 September 2025

Dit is jou reg om te bemaak aan wie jy wil maar die reg is nie blind nie. Jy moet jou regte bestuur, skryf Nico van Gijsen.

As jou finansiële beplanning nie reg gedoen is nie, gaan jou beplanning ná jou dood vír jou gedoen word. Glo my.

My stelling is gegrond op iemand wat op Nasionale Braaidag (ook genoem Erfenisdag) langs die braaivuur vol verwyt en baie selfvoldaan vir my vertel het hoe jou testamentêre bemakings ná jou dood niks beteken nie. Ander besluit in elk geval hoe jou goed verdeel word. Hy het dit gegrond op sy ervaring ná die dood van ’n familielid.

Ek deel graag my mening.

Die kern daarvan, en dit is my boodskap vir lesers ook vandag, is dat jy eers behoorlike finansiële beplanning moet doen. Die testament volg daarna. Nie andersom nie.

’n Mens weet nie wat jy nie weet nie. Daar is meer as 50 stukke wetgewing van toepassing op jou finansiële beplanning. Jy kan nie alles weet nie.

Ek kyk na twee faktore.

Testeervryheid

Die eerste boodskap wat ek by die persoon wou tuisbring, is dat ons reg op testeervryheid in Suid-Afrika ’n baie sterk reg is. Dit is jou reg om jou goed te bemaak aan wie jy wil.

Jy hoef nie jou bates aan kinders te bemaak nie. Kinders het nie ’n reg om te erf nie. Jy het ’n reg om te bemaak. Minderjarige kinders – en dit sluit aangenome kinders in – is natuurlik ’n heel ander storie. Hulle moet versorg word. Jy moet jou plig nakom.

Die wet op Onderhoud (99 van 1998) plaas ’n plig op die ouers van ’n kind, getroud of nie getroud nie, om daardie kind te versorg. Die Kinderwet (38 van 2005) gaan verder en dra hierdie plig op onderhoud oor na enigeen (ouer of nie) in wie se sorg die kind is.

Die plig verdwyn nie sommer met dood nie. Dit is een geval waar ingemeng kan word by jou testamentêre bemaking.

’n Ander is die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (27 van 1990), wat jou testamentêre bemakings in ’n heel ander rigting kan stuur.

Dié wet bepaal onder meer dat die langslewende gade ’n eis teen die oorlede gade – ingesluit mense in saamwoonverhoudings – se boedel het om onderhoud in ooreenstemming met dit waaraan hy of sy gewoond was tydens die huwelik.

So ’n eis, wat by die eksekuteur ingedien kan word, dra dieselfde gewig as ’n eis van ’n minderjarige kind. Wat my terugbring by my stelling hierbo, jou plig teenoor ’n kind verdwyn nie by dood nie. Jou plig teenoor ’n langslewende gade ook nie.

Die punt is, op enkele uitsonderings na, wat seker sal insluit bemakings wat teen die morele orde is, kan jy jou goed bemaak soos jy wil.

Om dus te gaan sê dat ander in elk geval oor goed gaan besluit en dat jou testament minder geag word, is verkeerd.

Dit is die finansiële beplanning wat nie reg gedoen is nie, of glad nie gedoen is nie.

Pensioenfondsgeld

Die tweede punt waarop die persoon gehaper het, was die uitbetaling van die oorledene se pensioengeld.

Kom ons kyk dus na enkele feite rakende jou pensioenfondsgeld by sterfte. Dit is ’n baie belangrike deel van jou algehele finansiële beplanning.

Die eerste is, dit het met jou testament niks uit te waai nie. Jy bemaak nie jou pensioengeld in jou testament nie. Jy bepaal vooraf jou begunstigde, of begunstigdes, vir jou pensioengeld ná jou dood.

Terloops, maak sommer dié week nog seker dat dit gedoen is. Dit is kommerwekkend hoeveel mense nie begunstigdes aangewys het nie.

Maar, net soos met jou testamentêre bemakings, kan die reg inmeng.

Ingevolge art. 37C van die Pensioenfondswet (24 van 1956) rus daar ’n plig op die trustees van ’n pensioenfonds om na afhanklikes te soek binne 12 maande nadat hulle van ’n lid se dood bewus gemaak is.

So ’n afhanklike kry voorkeur wanneer die geld uitbetaal. Kortom, die trustees van die fonds se besluit dra meer gewig as jou begunstigde-aanwysing.

Daar is egter meer.

In lewe is jou pensioen- of UA-voordele beskerm teen skuldeisers. Dié beskerming verval by dood.

Afhanklikes, soos ek hierbo noem, sal altyd voorkeur geniet. Maar as daar geen afhanklikes is nie, al het jy iemand as begunstigde benoem, bepaal art. 37C verder dat skuldeisers vergoed sal word voordat enige uitbetalings gedoen sal word aan ’n begunstigde (wat nie ’n afhanklike is nie).

Voorstel

In die bogenoemde bespreking beklemtoon ek die feit dat jy self oor jou goed beskik. Dit is jou reg om te bemaak aan wie jy wil en jou pensioengeld te begunstig aan wie jy wil.

Hierdie reg is egter nie blind nie. Jy moet jou regte bestuur. En jy doen dit met behoorlike finansiële beplanning deur kundige mense.

Jy kan nie later kom regmaak nie. Het jy iets gemis, kan iemand naby aan jou in finansiële ellende agtergelaat word.

Maak seker jy begunstig iemand wat ’n afhanklike is op jou pensioenfonds, voordat jy enige testamentêre bemakings doen. Let daarop dat daar meer as een afhanklike kan wees.

As jy twyfel oor of ’n naasbestaande ’n afhanklike is of nie, kan jy in jou testament ’n voorwaarde koppel aan sy of haar bemaking. Byvoorbeeld, ek bemaak my strandhuis aan sus Annie, op voorwaarde dat sy enige aanspraak op my pensioenfondsvoordele van die hand wys.

Doen dit alles voor jou dood. Dit is die sekerste.

Scroll to Top