Beplan jou testament rondom jou boedel

Die opstel van ‘n testament kan soos ‘n eenvoudige taak lyk, maar daar skuil daar meer agter as wat gesien word. Nico ontbloot die slaggate van ‘gratis’ testamente en hoekom behoorlike boedelbeplanning ‘n noodsaaklikheid is om jou geliefdes se toekoms te beskerm.


Beplan jou testament rondom jou boedel

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  21 Julie 2024

Opstel van ’n ‘gratis’ testament laat jou dalk dink als is reg

Ek sien daar is deesdae ’n sterk veldtog wat mense aanmoedig om testamente op te stel. Ek wil nie afbreuk doen hieraan nie. Maar sowaar, ek kry soms die indruk dis ’n gesmous van voor tot agter.

Laat ek dit sterker stel.

Om jou testament “gratis” te laat opstel, is meesal net bemarkingstwak. Daar is niks “gratis” aan nie. Hulle jaag boedels om te beredder. Niks in die lewe is gratis nie.

Wat ook al jy “gratis” kry, veral in die finansiële wêreld, hetsy dit beleggings, boedelbeplannings, of testamente is, is presies dit werd wat jy daarvoor betaal. Niks.

Om sommer gou een van hierdie gratis testamente te laat opstel, kan jou onder ’n vals indruk bring dat alles in orde is met jou beplanning vir jou naasbestaandes. Die tegniese korrektheid van jou testament maak hom net nog ’n dokument, nie noodwendig jou testament nie. Die testament kan selfs aan al die vereistes van die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) voldoen, maar steeds ’n finansiële nagmerrie skep vir jou naasbestaandes.

Jou testament kan regstegnies korrek en uitvoerbaar wees. Maar is dit wat jy bedoel het? Wat moet gebeur as ’n deel daarvan nie uitvoerbaar is nie? Is die gevolge daarvan wat jy sou wou gehad het?

Is al die finansiële gevolge van jou dood behoorlik in ag geneem? As jy al jou goed bemaak het, is daar genoeg geld om te sorg vir skuld, vir sterfbedkoste, vir die onderhoud van ’n langslewende gade?

Wat sê ek met hierdie vrae?

Jou testament moet ná ’n behoorlike boedelbeplanning volg. Dit is nie ’n alleenstaande stuk werk nie. Jou testament is bloot die dokument wat ná jou dood uitvoering moet gee aan die beplanning wat jy gedoen het. En dit gaan nie sommer gebeur met die een of ander standaard-testament nie.

Boedelbeplanning behels ’n finansiële stuk werk. Daar is regsgevolge. Dit moet verseker dat jy gedurende jou leeftyd die genietinge van jou bates het en dat jou naasbestaandes sal kan voortgaan om dit te geniet, selfs ná jou dood.

Daar is meer as 50 stukke wetgewing wat ’n invloed op jou boedelbeplanning kan uitoefen. Hoe enigeen kan dink dat om sommer gou ’n testament te laat opstel, sonder om behoorlik na die boedel in sy geheel te kyk, sonder om dit in verband te bring met hoe jy wil hê jou bates ná jou dood behartig moet word, gaan my verstand te bowe.

Polisfoefie?

Maar nou hoor ek van lesers – ekself het dit nie gesien nie – van ’n sekere maatskappy wat links en regs loop en smous met die opstel van testamente.

Dis “gratis”. Natuurlik. Maar daar is ’n voorwaarde. Jy moet ’n lewenspolis koop.

Die rede daarvoor is kwansuis om die koste van die afhandeling van jou boedel te finansier. Die eksekuteurskoste.

Kortom, as jy nie mooi luister nie, dan kry jy ’n gratis testament met gratis afhandeling van jou boedel (danksy die polis). Jy sal seker teen so volgende Kersfees agterkom wat jy betaal aan polispremies.

Maar dan is daar die verdere bemarkingstertjie, soos ek verstaan van die lesers wat my hieroor genader het. Die polisopbrengs sal nie in jou boedel val vir boedelbelasting nie.

Wat ’n spul twak!

Eerstens, die verkoop van die polis verdien vir die mense eers ’n vet bedrag aan kommissie. Baie meer as wat jy sou betaal aan ’n professionele persoon om vir jou ’n behoorlike boedelplan te doen, gevolg deur ’n sinvolle testament as deel daarvan.

Tweedens, hulle is verseker van ’n vooraf bepaalde bedrag vir die afhandeling van jou boedel ná jou dood, omdat die polis ten volle aan hulle sal uitbetaal.

Dit maak nie saak of jy intussen al jou bates uitgeleef en aan kinders oorgedra het nie. Eksekuteurs hef normaalweg hul tarief op die waarde van die boedel wat hulle hanteer, gewoonlik teen 3,5%.

En die vrystelling van boedelbelasting?

Polisse op jou lewe word in jou boedel opgeneem as ’n geagte bate en is vatbaar vir boedelbelasting. Daar is enkele uitsonderings. Die vergoeding van jou eksekuteur is nie een van hulle nie.

Polisse begunstig aan ’n langslewende gade of lewensmaat in ’n verhouding wat bedoel is om permanent te wees, is wel aftrekbaar vir boedelbelasting.

Die eksekuteurstarief is eweneens aftrekbaar as ’n boedeluitgawe. Die polis self is nie uitgesluit nie.

En hier is nou wat my hare laat rys as dit alles waar en korrek is.

Daar moet ’n skuldooreenkoms wees vir die polis om afgetrek te word vir boedelbelasting (dit is nie vrygestel nie). Jy kan jouself vasteken vir skuld vir die res van jou lewe. Pas op.

Die meester van die hof sal nie toelaat dat die eksekuteur in normale omstandighede ’n groter tarief hef as die persentasie op die waarde van die boedel wat hy of sy hanteer nie.

Die meester het geen sê in skuld wat jy aangegaan het en wat gedek word deur ’n polis nie.

En met die pro rata-berekening van die polisopbrengs vir boedelbelasting kan jou naasbestaandes nog help betaal ook aan die boedelbelasting wat getrek word deur so ’n polis. Die een wat jy uitgeneem het vir die gratis testament.

’n Testament alleen is nie goed genoeg nie. Dis nie boedelbeplanning nie, dis smous.


Nog raad

Geskenkbelasting en kinders

’n Leser sê hy skenk elke jaar R100 000 aan sy kinders. Dit is die toegelate perk wat ’n mens jaarliks mag skenk sonder dat geskenkbelasting betaalbaar is.

Wat hy wil weet, is, as hy verdere geld betaal vir studie, verblyf, en so meer vir sy kind, sal daar dan geskenkbelasting daarop gehef word, omdat dit meer is as die R100 000 wat uitgesluit is.

Nee.

Die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) noem spesifieke gevalle (art 56(1)) waar ’n skenking uitgesluit is van skenkingsbelasting.

Die skenking aan ’n gade byvoorbeeld is een daarvan. Daar is ’n hele paar ander voorbeelde van uitsluitings wat nie hier ter sake is nie.

Die bona fide-bydrae tot die onderhoud van enige persoon (art 56(2)(c)) is uitgesluit van geskenkbelasting.

Belangrik hier is eerstens die wetsvereiste dat die skenking van so ’n aard moet wees dat die Ontvanger van Inkomste dit as redelik sal beskou.

Die tweede punt is die “enige” persoon. Nie net jou kind nie. Dit sal dus jou ouers, of grootouers, of kinders, of kleinkinders insluit.

Betalings gemaak deur ’n ouer vir die opvoeding (byvoorbeeld studie), sowel as vir universiteitsverblyf, word beskou as onderhoud en word dus uitgesluit vir geskenkbelasting.

Scroll to Top