Alles en nog wat oor jou boedel

Die boedelberedderingsproses kan baie uitdagend wees, veral tydens sulke emosioneel gelaaide tye. Nico werp lig op hierdie onderwerp en raak aan kernvrae oor boedelbelasting en kontantbeplanning.


Alles en nog wat oor jou boedel

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  23 Junie 2024

Ná sterfte maak die rolspelers seker sake verloop steeds glad

’n Leser stel die week ’n interessante, dog ietwat vreemde, vraag. Hy wil weet wie is die hoofrolspelers met die afhandeling van ’n boedel ná dood.

Dis dalk nou nie juis jou tipiese “Raad met jou rande”-vraag nie, maar tog kan ek dalk kennis deel wat kan help dat die boedelberedderingsproses nie net so ’n duisternis is as die dood self nie.

Sy vrae is:

  • Wie is die hoofspelers in die proses?
  • Hoe word boedelbelasting bereken?
  • Hoeveel kontant behoort, ideaal-gesproke, beskikbaar te wees in die boedel om meeste koste te dek?

Die hoofrolspelers

Eerstens, die meester van die hof: Dit is sy (of haar) taak om die belange van die krediteure, erfgename en legate, asook andere wat dalk ’n eis teen die boedel kan hê, te beskerm. Die funksie van die meester kan beskou word as regulatories, maar dien ook as die kantoor van openbare optekening. Die meester tree ook op in ’n adviserende hoedanigheid.

Enige sterfte in die Republiek waar die oorledene eiendom hier, of ’n dokument wat bedoel is as ’n testament, nalaat, moet aan die meester gemeld word. Dit moet binne 14 dae gedoen word nadat die betrokke persoon van die sterfte bewus geword het.

Hierdie persone sluit in die oorlewende gade, of lewensmaat, ’n naasbestaande, of verbintenis wat woonagtig is in dieselfde distrik waar die dood plaasgevind het. Dit sluit ook in die persoon wat beheer het oor die eiendom waar die dood plaasgevind het.

Daar is ’n strafsanksie van tot drie maande tronkstraf vir ’n persoon wat nalaat om die dood aan te meld.

Tweedens, die eksekuteur: Die eksekuteur kry sy of haar magte om op te tree op gesag van die eksekuteursaanstellingsbrief uitgereik deur die meester van die hof.

Dit is belangrik om te verstaan dat testeervryheid, die vryheid om in jou testament jou goed te bemaak soos jy wil, nie so ver strek as die aanstelling van ’n eksekuteur nie.

Die aanstelling van ’n eksekuteur in die testament is eintlik net ’n wens. ’n Wens waaraan ag gegee word, maar dit het nie regskrag nie. Die aanstelling van ’n eksekuteur is onderhewig aan die diskresie van die meester van die hof. Die eksekuteur verkry sy of haar mag om as sodanig op te tree deur die aanstellingsbrief van die meester, nie uit die testament nie.

Die pligte van ’n eksekuteur het te doene met die likwidasie en administrasie van die boedel. Hieroor kan boekdele geskryf word, maar ek noem kortliks net ’n paar. Die eksekuteur moet besit neem, nadat die eksekuteursbrief uitgereik is, van die eiendom en die dokumente in die boedel wat nie in besit is nie van enige persoon wat ’n reg op aanspraak daarop maak.

Die eksekuteur mag, met instemming van die meester, geld of ander eiendom in die boedel vrystel as dit na sy of haar mening nodig mag wees vir die onderhoud van die oorledene se afhanklikes.

Dit is ook die eksekuteur se plig om die boedel te adverteer vir enige persoon wat ’n eis teen die boedel het om so ’n eis binne 30 dae in te dien. Ander pligte behels die vasstelling van die solvensie van die boedel, om ’n bankrekening te open en ander praktiese bestuursfunksies, te veel om hier op te noem.

Ander rolspelers: ’n Langslewende gade, minderjarige kinders, skuldeisers, erfgename en legate, die ontvanger van inkomste, is almal ook rolspelers, nie soseer om die administrasie van die boedel te behartig nie, maar wat ’n direkte invloed op die uiteindelike afhandeling daarvan kan uitoefen.

Boedelbelasting

Die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) is van toepassing op die boedel van ’n oorledene wat normaalweg ’n inwoner van die Republiek was, of bates hier nagelaat het.

Boedelbelasting word nie gehef op die totale boedelwaarde nie, iets wat baie mense dalk nie verstaan nie. Boedelbelasting word net gehef op die belasbare bedrag.

Om die belasbare bedrag te bepaal, word ’n aantal stappe gevolg. Dit begin met die brutowaarde van die boedel, wat alle eiendom en geagte eiendom van die oorledene, insluit. Daar is etlike definisies oor eiendom ter sake, asook eiendom wat uitgesluit is, ook te veel om te noem.

Hiervan word alle toelaatbare aftrekkings, soos onder meer die sterfbedkoste en bemakings aan ’n oorlewende gade, gedoen om die nettowaarde van die boedel te bepaal.

Van hierdie nettowaarde van die boedel word dan die boedelbelastingkorting (tans R3,5 miljoen) afgetrek.

Dit wat oorbly is gevolglik die belasbare bedrag, wat belas word teen 20% tot by R30 miljoen en teen 25% op die bedrag daarbo.

Kontant vir boedelkoste

Dié is een van die grootste redes waarom boedels soms langer sloer as wat enige burokraat by óf die meesterskantoor óf by die ontvanger van inkomste op sy of haar beste dag kan laat gebeur.

Behoorlike en omvattende boedelbeplanning is die enigste sinvolle manier om by hierdie syfer uit te kom.

Daar moet toegelaat word vir belastings, die sterfbedkoste, die meesters- tarief, die eksekuteurstarief, alle uitstaande skuld en ander kontraktuele verpligtinge.

En die beste en sekerste manier, en dalk die goedkoopste ook, om hiervoor voorsiening te maak, is deur lewensversekering.

Ek noem dit spesifiek, want genoeg lewensversekering kan die verskil beteken tussen erfgename wat kan erf soos jy graag wil hê, in teenstelling met dié wat moet vat wat oorbly nadat die boedelverpligtinge nagekom is.


Nog raad

Kleiner boedels word só afgehandel

In die hoofrubriek het ek genoem van die eksekuteur as ’n belangrike rolspeler.

Boedels met ’n waarde van R250 000 of minder kan egter afgehandel word sonder die vereiste eksekuteursaanstelling deur die meester van die hof.

Die Boedelwet (Wet 66 van 1965) laat toe dat die meester mag afstand doen van die vereiste om ’n eksekuteur aan te stel. Die meester kan dan aanwysings gee oor hoe so ’n boedel gelikwideer en verdeel moet word.

In die praktyk word na sulke boedels verwys as artikel 18(3)-boedels, verwysend na die tersaaklike wetsartikel wat hierdie aanstelling reël.

In so ’n geval sal ’n persoon, ondersteun deur die skriftelike toestemming van die meerderheid van die begunstigdes, aansoek doen by die meester om die boedel te likwideer en te verdeel.

Die magtigingsbrief wat in so ’n geval uitgereik word, sal gewoonlik die eiendom wat verdeel of gelikwideer moet word, uiteensit, en soms ook die manier waarop dit gedoen moet word. Waar vaste eiendom ter sake is, sal spesifieke magtiging verkry moet word.

Die persoon wat so aangestel word, staan nie bekend as die eksekuteur nie, maar as die meestersverteenwoordiger. Die meestersverteenwoordiger se plig is beperk tot verdeling van die bates en sy of haar magte is baie beperk.

Scroll to Top