In die wispelturige wêreld van beleggings is diversifikasie jou beste bondgenoot. Ontdek waarom die verspreiding van jou risiko die enigste werklike “gratis middagete” is en hoe jy met ‘n slim strategie jou beleggings kan beskerm.
Versprei die risiko met jou beleggings
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 11 Augustus 2024
Dis die enigste ‘gratis middagete’ waarop belegger kan roem
Ek wil vandag gesels oor beleggings. Veral die foute. Maar eers wil ek rugby praat.
Ek wonder hoeveel lesers, sou, voor die Wêreldbeker-toernooi verlede jaar, al hul geld (let wel, ál jou geld) op die Springbokke verwed het om die beker te wen. Ek is seker nie baie nie.
En toe nou die dag ná die wedstryd teen die Iere in Pretoria wat ons gewen het, hoeveel sou al hul geld (let wel, ál jou geld) toe op die Bokke verwed het om ook die volgende wedstryd in Durban te wen? Ek is seker baie meer mense as in my eerste vraag oor die Wêreldbeker.
Dit, in eenvoudige taal, is een van die grootste probleme met geld belê. Ons is almal mal oor ’n wenner. En dit is maklik om jou geld te verwed op ’n wenner (rugbywedstryd, wenperd, ’n wenaandeel of wat ook).
Wie onthou nog die byna histeriese geskreeu van sommige om al jou geld in die buiteland te belê. En vir almal gewys het hoe goed die opbrengs in die buiteland is. Nee, wás.
Van hulle het nog verder gegaan en dit laat klink of alles in ons land vrot en sleg is (hoewel die rasse-onderrok ook maar ver uitgesteek het).
“Geld-parasiete” noem ek hulle. Wil ons mense se geld hê, maar het nie ’n goeie woord oor ons te sê nie.
En in die proses is baie mense ingesleep in seker die swakste beleggingsbesluit wat jy kan neem. Koop as die mark hoog en blink is. En as jy eers geld verloor het, dan verkoop jy. En gaan wed dan op die volgende wenperd, aandeel of wat ook.
Asseblief, dit gaan nie hier om geld in die buiteland te belê teenoor geld in die plaaslike mark te belê nie. Dit gaan oor beleggingskeuses.
Jy het albei nodig. Net soos dit nodig is om jou geld versprei te hê in aandele, eiendom, effekte en kontant. Ons noem dit diversifikasie.
Dit is regtig onnosel om al jou geld in ’n enkele ekonomie, enkele aandeel, enkele aandelebeurs, enkele geldeenheid of enkele marksektor te belê.
Diversifikasie is die sleutel tot sukses
Hoe systap jy die probleme?
Vermy die raasbekke op sosiale media. Geen finansiële raadgewer wat sy of haar sout werd is, gaan finansiële raad op sosiale media uitbasuin nie. Bloot omdat wat goeie raad vir my is nie noodwendig goeie raad vir jou is nie.
Ongelukkig word van diegene ook in sekere media aangehaal (of koop hulle redaksionele ruimte) deur in my oë gesien joernaliste wat nie van beter weet nie en iemand soek wat kontroversieel kan wees.
Finansiële raad is dit nie.
Kortom, maak seker oor die bron waar jy jou beleggingsraad vandaan kry en moet jou nie om die bos laat lei deur die goeie opbrengste van gister en eergister nie. Wat saak maak is jou doelwit en jou vermoë.
Maar terug by die punt.
Diversifikasie is, wat beleggingsbesluite betref, een van die belangrikste faktore (saam met tyd in die mark) wat jou risiko kan beperk en steeds vir jou goeie groei sal bewerkstellig. Daar is al na diversifikasie verwys as die een werklike “gratis middagete”.
Kom ons kyk oor vyf jaar hoe wisselvallig markte kan wees.
In die jaar tot einde Junie 2020 het buitelandse aandele 23,3% groei opgelewer en SA aandele ’n skamele -7.5%, met SA eiendomsaandele ’n vernederende -37,2%.
Watter een was die maklikste om te smous? Watter een was die slimste om te koop? Kom ons kyk.
In Junie 2021, ’n jaar later, wys SA aandele ’n groei van 25%, SA eiendomsaandele 24,3% en buitelandse aandele 14,6%. Verlede jaar (Junie 2023) het buitelandse aandele 29% groei gelewer, met SA aandele 12,2% en SA eiendomsaandele 7,3%. Vanjaar (tot einde Junie) het buitelandse aandele 12% groei gelewer; SA aandele 9,8% en SA eiendomsaandele 23,2%.
Goed, met statistieke kan ’n mens byna enige argument voer.
Maar die syfers jok nie
Dit wat vanjaar of vir ’n jaar of twee die verwagtings oortref het, is nie noodwendig volgende jaar en die jare daarna die blinkste belegging nie.
As jy die geskreeu oor hoë opbrengste volg of luister na die slimjanne langs die braaivleisvuur gaan jy nie te goed daarvan afkom nie. Dit is hoe jy dan hoog inkoop; wanneer daardie bateklas reeds sy sukses bereik het. Sy Wêreldbeker gewen het. Dit sê niks oor die uitslag in die volgende wedstryd nie. Laat staan nog die onnoselheid om al jou geld in een wenaandeel of enkele ekonomie of enkele marksegment te belê.
Jy het tyd in die mark nodig. Dis die belangrikste element van goeie beleggingsopbrengs. En as jy kon inkoop toe die mark laag was, nog beter.
Die tweede is dit wat ek hierbo bespreek, diversifikasie. Soos die syfers wat ek aangehaal het vir ons wys.
Kry vir jou kundige finansiële raad. Ignoreer die raasbekke op sosiale media en slimjanne. Hulle vertel jou wat almal in elk geval weet: Wie het goed gedoen en wie het nie. Laas jaar. Dit is nie wat belangrik is nie. Die beskerming van jou geld is belangrik. Groei vorentoe is belangrik.
Nog raad
So lyk diversifisering
As jy ernstig is oor jou geld moet jy jou geld in ’n gediversifiseerde portefeulje belê en nie laas jaar se wenner jaag nie (lees die hoofrubriek).
Dit is belangrik om te verstaan dat beleggings gaan om opbrengs enersyds en risiko andersyds.
Dit is belangrik om die portefeulje op so ’n manier saam te stel dat albei hierdie faktore aandag geniet. Jy wil daarna streef om die bes moontlike opbrengs te kry, met die minste risiko.
Jou risikoprofiel moet in ag geneem word. Dit is riskant om sommer blindelings mense se raad te volg wat sê belê hier of belê daar.
Deur te diversifiseer kry jy twee belangrike beleggingskwessies reg wat in jou guns werk. Die totale opbrengs van die portefeulje sal gelyk wees aan die gemiddelde opbrengs van die onderskeie beleggings in die portefeulje. Die wisselvalligheid van die portefeulje in geheel sal laer wees as die gemiddelde wisselvalligheid van die individuele beleggings.
Jy kan dus, sonder om beleggingsopbrengs prys te gee, deur te diversifiseer die risikofaktor in jou belegging beperk. Dit doen jy deur fondse te kies wat nie terselfdertyd saam in die dieselfde rigting sal trek nie of dan minstens nie teen dieselfde pas nie.
Kry altyd eers individuele kundige raad.