Jongmense: Dít is hoe ’n finansiële plan lyk

Finansiële beplanning vir jongmense… Nico bied ‘n insigryke blik op die samestelling van ‘n effektiewe finansiële plan vir jongmense. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid van vroeë spaar en risikodekking, met praktiese wenke vir ‘n finansiële strategie wat ‘n leeftyd van voordele kan bied.


Jongmense: Dít is hoe ’n finansiële plan lyk

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  03 Maart 2024

Begin reeds vroeg in jou lewe om te spaar dat dit klap

My rubriek van voorverlede Sondag, “Beleggingsplan vir jongmense”, het heelwat reaksie van lesers (en kliënte) ontlok.

Ek wil vandag van die vrae, ter wille van ons beperkte ruimte, saamvoeg en kyk na ’n basiese voorstel wat kan dien as ’n finansiële plan vir jongmense.

Neem tog net kennis dat ek noodgedwonge moet veralgemeen. Mense se vermoëns verskil. En mense se doelwitte verskil. Maar kom ons probeer.

Net eers iets in die algemeen na aanleiding van ’n leser en ’n kliënt se vrae.

Die leser skryf dat ek in daardie rubriek voorgestel het dat jongmense moet begin spaar met so 20% van hul salaris. Dit ingesluit die 15% wat reeds (in die algemeen) in ’n werkgewersfonds gespaar word.

Sy seun werk vir homself. Hy is nie lid van ’n werkgewersfonds nie. Hoe nou gemaak?

Dit verander eintlik niks. Die seun kan eenvoudig daardie 15% in ’n eie uittreeannuïteit (UA) spaar. Hy kan tot 27,5% van sy inkomste so spaar, maar kom ons begin klein.

En die res tot by die voorgestelde 20% in ’n diskresionêre belegging, wat hom darem in nood toegang tot die geld sal gee.

Terloops, met die nuwe twee-pot-benadering wat vanaf September geld, sal hy ook toegang hê tot een-derde van die geld in die UA sou die geldnood regtig druk (maar vir my is dit regtig ’n laaste, heel laaste, opsie).

Die groot verskil tussen hierdie geval en iemand wat lid is van ’n werkgeweraftreefonds, is dat laasgenoemde ook risikodekking bied. As jy nie tot so ’n fonds behoort nie, moet jy dit addisioneel bekom.

Die opmerking van die kliënt het my byna van my stoel af laat val. Haar dogter spaar nie. En as sy met haar daaroor praat, dan sê sy glo, ja, maar ek gaan darem as ma doodgaan so ’n miljoen rand of wat erf.

Nou ja, dit is nie veel meer as ’n skaflike salaris vir ’n jaar nie. En dan wat?

Boonop, en dit weet ek deur oor jare te let op wat om my aangaan, erfgeld kom met ’n paar hardlooptekkies aan. As jy jou oë uitvee, is die geld weg.

Vergeet van erf, sorg vir jouself

En hier is die plan.

Spaar. Spaar dat dit klap. Spaar meer as wat jy op jou kar betaal. Spaar meer as wat jy aan vakansie, klere, drankies, sigarette (as daar nog jongmense met verstand is wat rook) en ander blinkgoed uitgee.

Begin vroeg in jou lewe. Net soos wat mense eers wysheid verkry hier rondom 60 jaar oud, net so kry jou geld eers werklik waarde as dit ’n klompie jare lank in die beleggingsmark besig was. Hoe langer, hoe beter. (Lees gerus weer my rubriek van twee weke gelede).

Saam met jou spaar, of selfs voordat jy spaar, sorg dat jy genoegsame risikodekking het. Dit is versekering teen daardie gebeure waaroor jy nie beheer het nie, maar wat al jou drome en ideale vir die lewe binne ’n oogwink tot niet kan maak. Soos lewens-, ongeskiktheids- en gevreesdesiektedekking.

As jy lid is van ’n werkgewer-aftreefonds, sal jy waarskynlik van hierdie voordele as deel van jou fondsvoordele hê, hoewel ek meen dit is selde genoeg. Maar darem.

As jy uit eie arbeid jou pot aan die kook moet hou, is dit belangrik om risikodekking deel van jou finansiële plan te maak. En die syfers?

Genoeg lewensdekking om jou verpligtinge, soos skuld, na te kom. As jy getroud is, om vir ’n oorlewende gade te voorsien daarmee saam.

As daar kinders is, dan veral om hulle deur hul kinderjare te kan versorg.

Maar dink ook aan voorsiening vir hul studie eendag.

Daar is produkte beskikbaar vir studievoorsiening waar jy kan spaar (jy hoef dus nie eers dood te gaan voor hulle kan gaan studeer nie) en terselfdertyd jou spaarpremies dek sou jy tog vroeg sterf.

En dan genoeg ongeskiktheidsdekking om jou, sou jy glad nie kan werk weens die ongeskiktheid nie, van ’n inkomste te kan voorsien.

Plan vir as jy nie baie geld het nie

As jy nie baie geld het nie, kombineer die sterfte- en ongeskiktheidsvoordele in een polis, sodat sou een of die ander jou tref, die polis sal uitbetaal. Dit is goedkoper.

Gevreesdesiektedekking is iets wat almal, na my mening, móét hê. ’n Bedrag gelyk aan ’n jaar se salaris is ’n goeie begin.

Die waarheid is dat mediese-skemavoordele selde die koste van ’n siekte soos byvoorbeeld kanker kan dra.

Dit val nie net op ou mense om siek te word nie. Hier is ’n voorbeeld.

Ek het so ’n paar jaar gelede vir ’n kliënt, ’n boer, voorgestel dat ons versekering vir sy kinders uitneem. Hulle was toe nog in die huis. Hy het geluister.

Sy dogter het nou borskanker gekry. Ná ’n dubbele mastektomie en chemobehandeling kan sy aangaan met haar lewe.

Sy was salig onbewus van die polis wat haar pa vir haar uitgeneem het.

Totdat ek gehoor het van haar toestand. Dit was vir my as finansiële beplanner lekker om haar toe te kon inlig dat daar R800 000 vir haar lê en wag. Vir rekonstruksie. Of wat ook al. Die punt met dit alles is dat finansiële beplanning nie begin wanneer jy kan nie.

Die lewe wag nie. Doen dit nou.


Nog raad

Aftreegeld en die twee-pot-plan

Vanaf 1 September vanjaar geld die nuwe reëls met betrekking tot die sogenaamde twee-pot-benadering tot jou aftreefondsgeld.

Dit sluit in jou spaargeld in ’n uittree- annuïteit (UA).

Die dryfveer agter die tweepot-benadering was die Covidpandemie wat baie mense in geldelike nood laat beland het, terwyl hulle nie by hul aftree-spaargeld kon uitkom nie.

Met die twee-pot-benadering word jou aftreegeld in “twee potte” verdeel. ’n Derde in ’n “spaarpot” en twee-derdes in die “aftreepot”.

Jy het een maal per jaar, met ’n minimum bedrag van R2 000 per keer, toegang tot die geld in die “spaarpot”, sou jy in geldnood verkeer.

Die geld in die “aftreepot” word behou tot by aftrede.

Goed in ’n sekere sin. Die geld in die “aftreepot” is vir aftrede. Die meeste mense het ’n geldtekort by aftrede.

Goed ook met toegang tot die “spaarpot”. Wie wil nou honger ly, terwyl daar van jou geld êrens vasgevang lê?

Onthou net, sou jy geld onttrek voor aftrede, is dit belasbaar teen jou marginale koers en nie die meer gunstige belastingkoerse wat by aftrede geld nie.

Dit sal waarskynlik ook ’n hoër koers wees as die belastingvoordeel wat jy gekry het toe jy gespaar het.

Moet dus nie te gou opgewonde raak hieroor nie.

Scroll to Top