Dink jy jy kan die mark uitoorlê of wag tot dit “reg” is om te belê? Dan is jy dalk op pad om dieselfde duur les te leer as menige ander – lees verder om uit te vind hoekom tyd ín die mark belangriker is as tydsberekening.
Net gekke en dwase dink hulle kan die markte ‘speel’
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 27 Julie 2025
‘Wag op die mark om te herstel’ is een van die grootste beleggingsmites wat daar is. Teen die tyd dat die mark herstel het, is dit te laat,
Ek gesels die afgelope week met my vriend oor aftrede en beleggings. Hy is ’n prokureur; naas ouditeure van die slimste mense op aarde.
Inderwaarheid, het ek agtergekom, hulle is selfs slim oor sake waarvan hulle niks weet nie.
Natuurlik is dit ’n gruwelike veralgemening. Dis opsetlik. Ek word gereeld deur van hierdie slimmes gekonfronteer met ’n veralgemeende “julle finansiële raadgewers”.
En dan praat hulle snert.
Ons is darem ná ’n glas rooiwyn of twee nog as vriende uit mekaar uit. Jy wis nie 40 jaar se vriendskap uit met een frustrerende gesprek nie.
Sy “julle finansiële raadgewers hamer altyd op dis tyd in die mark eerder as die tydsberekening van die mark”, het my laat lostrek.
Dis so ’n dom verwyt, maar nou ja, komende van sulke slim mense moet ek seker aandag gee.
Tyd in die mark
Ek het oor die jare heen in die bedryf waarin ek werk, gesien hoe mense probeer om die “mark te speel”. En gesien hoe hulle hulself met tydsberekening arm spaar. Gewoonlik gevolg deur verwyte sonder erkenning aan eie onnoselheid.
Jou tyd in die mark is belangrik. Jy moet jou geld kans gee om te groei.
“Wag op die mark om te herstel” is een van die grootste beleggingsmites wat daar is. Teen die tyd dat die mark herstel het, is dit te laat. Jy het die groei gemis. Die grootste beleggingsgroei vind plaas in die eerste deel van die opwaartse kurwe.
Selfs nie eens die beste en hoogs ervare batebestuurders kry dit heeltyd reg om betyds te verkoop of te koop nie.
En dis ook nie die rol van jou finansiële raadgewer om betyds te verkoop of te koop nie. Dis jou finansiële raadgewer se taak om jou finansiële risiko’s te bepaal en so te belê dat jy die beste kans het vir goeie groei oor tyd om uiteindelik by jou doelwit uit te kom.
Beleggingstermyn
Een van die risikofaktore wat in ag geneem moet word, is die termyn van die belegging.
Tyd in die mark is van geen waarde as jou belegging net vir ’n kort tydjie is nie. En die rede daarvoor is baie logies. As jou geld alles in aandele is en die mark daal skielik skerp, dan daal jou belegging se waarde.
Sou jy in dié tyd aan die einde van jou termyn wees, kan jy minder geld terugkry as wat jy belê het. Dis nie die mark se skuld nie, dis die verkeerde raad wat jy gekry het. Ja, baie keer aangevuur deur gierigheid. Of vals beloftes deur die beleggingsraadgewer.
Die ander kant van die munt is natuurlik dat as jy vir die lang termyn belê en jou geld is alles in konserwatiewe fondse, gaan jy nie die groei kry wat jy kan kry nie. En dan kan inflasie jou ook inhaal.
Dis vir dié beleggers, dié wat vir die lang termyn belê, waar die stelling “tyd in die mark” van waarde is en waarop ag geslaan moet word as jy ernstiger is oor jou geld as om agter slim stories aan te loop.
Rente en aandele
Ek kry gereeld navrae van mense wat wil weet: “Hoeveel rente kan jy vir my kry?”
Natuurlik is dit die een vraag wat onmiddellik die deur oopmaak vir minder etiese raadgewers of makelaars om aan dié persoon die wêreld te belowe net om die belegging, en só die kommissie, te kan kry. En dan in hoërisikofondse te belê. Gewoonlik dié wat verlede jaar en die jaar voor dit die spreekwoordelike ligte uitgeskiet het. Fondse wat van jou beleggingsdoelwit en jou geldelike vermoëns ver verwyder is.
Dit is, laat ek dit ook sommer reguit sê, gewoonlik ouer mense, dié wat nie genoeg gespaar het vir aftrede nie, wat in dié strik beland.
Maar dit eers daar gelaat.
Rentedraende instrumente word beskou as minder riskante beleggings. Jy weet vooraf min of meer hoeveel rente jy kan verwag en daar is nie ’n op-en-af-wippery in markbewegings wat jou slapelose nagte gaan gee nie.
’n Uitstaande kenmerk van rentedraende beleggings is dat jy die groei wat jy gekry het, nie kan verloor nie. Ja, jy kan vanjaar dalk minder rente verdien as verlede jaar (of meer). Maar dis minder (of meer) as verlede jaar, dis al. Jou renteverdienste uit die vorige jare word nie geraak nie.
Met aandele is dit nie so nie. Aandele word in die algemeen beskou as ’n meer riskante beleggingsklas. En die uitstaande kenmerk hier, teenoor beleggings in rentedraende beleggings, is dat jy nie seker is dat vanjaar se goeie groei vir jou behoue gaan bly nie.
As die mark daal waarin jou aandele belê is, dan daal jou beleggingswaarde, wat die goeie groei van vorige jare insluit. Jou hele belegging verloor waarde.
Hoe dan nou?
As jou belegging vir ’n kort termyn is, belê jy meer in rentedraende instrumente. Juis sodat markskommelinge jou nie gaan armer maak nie.
As jy vir die lang termyn belê, moet jy meer in aandele belê sodat jy voordeel kan trek uit die potensieel hoër groei van ’n belegging in aandelefondse.
Wees daarvan bewus dat jy sowat elke drie jaar ’n insinking in die mark kan verwag.
Dis dan dat “tyd in die mark” werklik sin maak.