Diversifisering is meer as net ‘n gemiddeld

Diversifisering gaan nie bloot oor die soeke na ‘n gemiddelde opbrengs nie, maar eerder oor die bestuur van jou beleggingsrisiko. Die regte diversifikasie is baie belangrik om wisselvalligheid te beperk, veral deur te verseker dat fondse nie te sterk korreleer nie.


Diversifisering is meer as net ‘n gemiddeld

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  17 Desember 2023

Moenie wag ‘dat markte stabiliseer’ voordat jy belê nie

Toe ek jonk was, baie jonger, het ek en my vriende al ‘n geloof in diversifisering gehad. Ons was ook nie die enigste wat “gediversifiseer” het nie. Ek glo die meisies in die omgewing was net so gefokus daarop om (selektief) te diversifiseer. Jy vry as’t ware mos so in die spreekwoordelike bondel.

Nou die vraag, gee diversifisering vir jou net ‘n gemiddelde “opbrengs”? Nee kom, los die stuitigheid. Ons praat geld.

Maar dit is die vraag wat ‘n leser vra en waarna ek vandag kyk. Hy geniet hierdie rubriek, skryf hy, en hy “weet een van die mantras van finansiële adviseurs is altyd diversifikasie en in beginsel klink dit seker reg en dit maak sin.

“Maar lei dit nie eintlik maar net na ‘n gemiddelde opbrengs nie?”

Diversifisering is glad nie gemiddeld nie

Daar is niks gemiddeld daaraan om te diversifiseer nie. Diversifisering gaan oor die bestuur van beleggingsrisiko, nie die soeke na ‘n gemiddelde opbrengs nie.

Ja, ek verstaan dat as ons wiskundig daarna kyk, sal die opbrengs op ‘n gediversifiseerde beleggingsportefeulje oor tyd vir jou ‘n gemiddelde gee van die opbrengste van die verskillende fondse waaruit die portefeulje saamgestel is.

Net soos wat elke fonds in die portefeulje onderskeidelik vir jou ‘n gemiddelde opbrengs gaan gee van die groeiwaardes in die onderliggende bates binne daardie fonds.

Maar, en hier is die belangrike punt, die wisselvalligheid of onbestendigheid, van ‘n gediversifiseerde portefeulje sal in geheel laer wees as die gemiddelde wisselvalligheid van die onderliggende bates, of fondse in die portefeulje.

En dit is presies hier waar baie mense die fout maak. Hulle dink dat deur bloot in verskillende fondse te belê hulle die beleggingsrisiko versprei. Of deur bloot by meer as een batebestuurder te belê, jy jou portefeulje diversifiseer. Dit is nie so nie.

Fondse moet nie korreleer nie

Om jou beleggingsrisiko te beperk deur diversifisering is dit belangrik dat jou geld belê is in fondse wat nie saam in dieselfde rigting, of teen dieselfde pas, beweeg nie.

In die bedryf praat ons van die fondse moenie korreleer nie. Saam beweeg nie.

Soos ek baie keer vir kliënte verduidelik, sien jou beleggingsportefeulje as ‘n paar beleggings saam onder een sambreel. Die groei in een of twee fondse kan soms erg teleurstel, maar daar is ander wat heel goed vaar, selfs in moeilike tye.

Vir mense wat ‘n inkomste moet trek uit hul beleggings, is dit van uiterste belang. Aan die een kant wil jy ook hê jou kapitaal moet groei, of minstens beskerm word, en daarvoor het jy groeibates nodig. En groeibates is meer wisselvallig, dit beweeg. Maar dit beweeg nie net boontoe nie.

Daarom moet daar ook fondse en onderliggende bates wees wat nie so blootgestel is aan die mark nie en dalk minder groei gee, maar wat meer sekerheid bied ten opsigte van die vereiste van ‘n gereelde inkomste. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld.

Leer hoe markte jou geld kan laat groei

In 2021 het die wêreldwye eiendomsmark ‘n skitterende 40,8% groei gelewer. Wêreldwye aandele het ‘n opbrengs van 32,9% opgelewer met Suid-Afrikaanse aandele 29,2%.

‘n Belegging in Suid-Afrikaanse kontant het vir jou 3,8% rente gegee.

Net die volgende jaar, in 2022, het wêreldwye kontant die beste van al die bateklasse gevaar met ‘n opbrengs van 8,5%. Met Suid-Afrikaanse kontant 5,2%.

En daardie bateklasse wat die vorige jaar die spreekwoordelike ligte uitgeskiet het?

Die wêreldwye eiendomsmark lewer toe ‘n negatiewe -19,5% met wêreldwye aandele wat ‘n negatiewe -12,3% kon aanbied. Suid-Afrikaanse aandele kon darem ‘n bietjie beter met 3,6% groei.

Laat dit sommer ook ‘n les wees vir die mense wat so graag wil “wag dat die markte stabiliseer” voordat hulle belê.

Kom ons neem dit ‘n stap verder.

Beteken dit dat jy eenvoudig ‘n deel in aandele, ‘n deel in effekte, ‘n deel in kontant en ‘n deel in eiendom moet belê?

Ja en nee. Ja, omdat dit jou blootstelling aan die onderskeie bateklasse versprei. Maar ook nee, omdat elke bateklas verskillende onderlinge klasse of opsies het.

Ek verduidelik aan die hand van ‘n voorbeeld.

Met die skryf hiervan het die indeks van alle aandele van die JSE se opbrengs oor ‘n jaartermyn gestaan op groei van 7,4%. As jy in die industriële 25 belê is, het dit vir jou 21,2% groei oor die jaar gegee. Die finansiële 15 kon net 9,1% oor die jaar bied. Maar hy is aan die klim en oor die afgelope ses maande was sy groei reeds 16,8%.

Wie wil dan nie sulke groei hê nie?

Beperk jou beleggingsrisiko

Die punt vandag is dat dit nie die een of die ander is nie, dit is dat jy jou beleggingsrisiko, die kans dat alles tegelyk kan val, moet beperk.

En dit doen jy deur te diversifiseer. In bateklasse, in verskillende tipes aandele en effekte, in verskillende wêreldekonomieë, ensovoorts.

Pasop om jou te laat lei deur ‘n fonds wat verlede jaar buitengewoon presteer het. Of om jou te laat afskrik van ‘n fonds wat verlede jaar onderpresteer het.

Die meeste effektetrustfondse bied nie veel verspreiding in sigself nie. Die bates korreleer baie keer en verder het die fonds self ‘n beleggingsmandaat en ‘n bepaalde marksiening, wat ‘n taamlike eng benadering volg.

Daarom moet jy jou liewer laat lei deur kundige beleggingsraadgewers wat vir jou ‘n portefeulje van fondse kan saamstel. Jou beleggingsdoelwit sal die portefeuljesamestelling bepaal. Diversifisering is nodig om die wisselvalligheidsrisiko te beperk.


Nog Raad

Só groei rente

“Wanneer en hoe weet ek wanneer die beginsel van saamgestelde rente begin werk,” vra ‘n leser.

Hy verwys hierna as die agtste wonder van die wêreld. Ek sal nou nie so ver gaan nie, maar die krag van saamgestelde rente is groter as wat ‘n mens dalk dink.

Dit werk só:

Jy belê jou geld en verdien elke jaar rente daarop. Hoe langer jy die geld los om rente te verdien, hoe meer word die totale rente.

Kom ons sê jy belê R1 000 en verdien rente van 8% per jaar.

Aan die einde van jaar een het jou R1 000 met R80 gegroei tot R1 080. In jaar twee kry jy steeds 8%, maar dit is nie net R80 nie, dit is nou R86,40.

Jou belegging staan dan op R1 166,40.

Jou groei, steeds teen 8% per jaar, maar oor die twee jaar is dit altesaam 16,64%, en nie 16& (2 x 8%) nie.

Hoe langer hoe meer.

Oor vyf jaar sal jou belegging staan op R1469,33. Totale rente verdien, steeds teen 8%, is dan 46,93%. Oor tien jaar is jou belegging R2 158,92 met totale rente van 115,89%.

Dis hoe jy weet. En dit sien jy al in jaar twee.

Scroll to Top