In die wêreld van beleggings is daar dorings wat jou finansiële welvaart bedreig. Net soos die gevreesde driedoring in die Karoo, is daar beleggingslokvalle wat onsigbaar en vernietigend kan wees.
Kyk uit vir dié beleggingsdorings
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 26 November 2023
Dís die rakkers wat jou geld-bakkie se bande pap maak
In die Karoo groei ’n bossie, so min of meer kniehoogte van ’n ou my grootte, bekend as die driedoring. Elke takkie van die bossie het drie lang dorings aan. Diegene van ons wat jaarliks in die wintermaande die bibberweer moet trotseer om kinders se biltonglus te temper, weet wat die driedoring aan ’n bakkie se bande kan doen.
Die probleem met die driedoring is dat dit nie saakmaak hoe hy lê nie, daar is altyd een skerp punt wat boontoe wys. Reg om die jagbakkie se bande af te blaas. As jy nie van hom weet nie, gaan jy hom nie herken nie.
In die beleggingswêreld, daar waar jy met jou spaargeldjies jag maak op groeigeleenthede, is daar ook dorings wat die lug uit jou welvaartseile kan haal. Dorings wat, as jy nie van hulle weet nie, jy nie gaan herken nie.
Kom ons kyk na die driedoringbossie van die beleggingswêreld.
Die opbrengsdoring
Ek begin by hierdie doring, want ek meen dit is die een wat dalk die meeste kere met die skerp punt na bo lê.
Sy uitstaande kenmerk is sekerlik gierigheid. Daardie eienskap wat mense in die kloue laat beland van diegene wat Ponzi- en piramideskemas bedryf.
Hierdie eienskap kan maklik vermy word. As dit te goed klink om waar te wees, stap weg. Maar hy kan ook ’n goedgelowige element aan hom hê. ’n Element wat ook risiko vir jou as belegger inhou, maar minder opsigtelik is. Veral as jy nie die kennis het nie en dan die verkeerde vrae vra.
Hier is ’n voorbeeld.
“Ek het R(kies ’n bedrag). Waar moet ek dit belê? Hoeveel rente kan jy vir my kry?” Sulke vrae maak onmiddellik die deur oop vir onetiese mense om vir jou fondse voor te hou wat dalk verlede jaar saam met die arende gesweef het. Maar wat volgende jaar waarskynlik saam met die molle gaan rondgrawe. En jy verloor.
Begin spaar met ’n doelwit. Altyd. Jou doelwit sal bepaal hoe en waarin jy moet belê. Nie opbrengssyfers nie.
Is dit lang termyn? Is dit vir aftredevoorsiening? Is dit vir inkomste? Is dit vir ’n kind se studie? Hierdie is maar enkele voorbeelde van spaardoelwitte. Jy wil nie hoë opbrengste jaag en dan vind die mark het gedaal net voordat jy jou geld moet onttrek nie.
Die kuddedoring
Mense is geneig om tropdiere te wees. Om tropdiere te wíl wees. En hoeveel te meer motivering is dit nie om wanneer iemand anders se beleggings “goed vaar” jy daarom gemaklik gaan voel om ook jou geld daar te belê nie?
Die kubusskandaal het dit vir ons gewys. Duisende mense het miljoene rande belê in ’n sinlose vrotmelkskema. Dit is presies die grondslag waarop piramideskemas werk.
Die gierigheid van die opbrengsdoring en die “veiligheid” wat mense kry deur deel van die kudde te wees. Bemarkers weet dit. Ek sien dit byvoorbeeld in die kommunikasie van smouse wat links en regs buitelandse beleggings propageer. Kyk hoeveel miljoene rande is die laaste jare deur jou mede-Suid-Afrikaners in die buiteland belê, is die boodskap. Jy moet ook so maak, anders is jy uit.
Belê vir jouself, volgens jou eie unieke behoeftes en vermoëns. Beleggings is nie ’n een-pas-vir-almal-dissipline nie.
Die emosiedoring
Hierdie doring kan ons baie maklik as die maatjie van die kuddedoring beskou. Hulle hou so half handjies vas.
Kom ons gebruik maar weer die oordonderende “belê al jou geld in die buiteland”- lawaai van mense wat eenvoudig nie ’n goeie woord oor ons land te sê het nie. Parasiete, noem ek hulle. Wil uit my en jou geld maak, maar alles hier is sleg en verkeerd. Dit gaan erger word, is die boodskap. Belê alles wat jy het in buitelandse fondse (veral natuurlik daardie fondse waarin ek ’n belang het).
Ons weet dit gaan nie elke dag klopdisselboom met ons land nie. Ons weet die regering is deurspek met oneerlikheid en korrupsie. Ons weet misdaad is hoog. En ons is almal ’n bietjie emosioneel daaroor.
Natuurlik is ons, nie een van ons wil dit tog hê nie. Maar juis daarom is dit so maklik vir sekeres om van die straathoeke te skreeu: “Vat jou geld landuit!” En dan wat? Waar leef jy? Waar het jy jou geld nodig? Waarin belê jy jou buitelandse geld? In aandele? Het jy die aptyt vir die risiko van aandele alleen?
Die ding met buitelandse beleggings is maar een voorbeeld waar emosie misbruik word om mense te oorreed om sekere beleggings te doen. Daar is ander.
Natuurlik is ek nie daarteen om geld in die buiteland te hê nie. Maar jy doen dit eerstens om te diversifiseer. Omdat jy nie al jou spreekwoordelike eiers in een mandjie wil hou nie. En dan terug by wat ek hierbo sê, wat is jou behoefte? Dit moet altyd die riglyn wees.
Belasting
Daar is ’n vierde. Noem dit maar die takkie waaraan die drie dorings vas is. Belasting. Jy kan die drie dorings hierbo vermy, maar belasting kan jy nie. Dit sal nie jou belegging heeltemal laat wind afblaas nie, maar dit kan nadelige gevolge hê. Jou beleggingsadvies moet altyd belasting in ag neem. In die geval van buitelandse beleggings dalk meer as een belasting.
Nog raad
Diversifiseer jou beleggings
In die hoofrubriek het ek verwys na diversifisering as ’n vereiste wanneer jy jou geld belê. Maar wat beteken dit regtig? En hoe gaan jy te werk?
Die groot krag met beleggings is saamgestelde rente. Of dan groei op groei, as ons meer korrek wil wees. Oor jare kan dit jou geld tienvoudig vermenigvuldig.
Diversifisering verskaf die skop wat die groei op groei bewerkstellig. Diversifisering beteken nie jy moet jou geld tussen batebestuurders verdeel nie. Of selfs vir meer as een beleggingsadviseur gee om te belê nie. As die behoefte teenoor elkeen genoem dieselfde is, is die kans baie goed dat elkeen soortgelyke fondse gaan kies. En dan as die mark val, val al jou spreekwoordelike beleggingseiers.
Diversifisering beteken dat die fondse waarin jy belê is nie korreleer nie. Dat nie almal saam boontoe of afwaarts beweeg nie. Jou belegging moet die sogenaamde groeibates, soos aandele en eiendom, insluit om beter groei te verskaf. Maar ook effekte en ’n bietjie kontant vir stabiliteit. Jy moet ook diversifiseer tussen ekonomieë deur byvoorbeeld ’n deel van jou geld in die buiteland te belê. Kry kundige advies voordat jy belê. Moet jou nie laat lei deur beloftes van groot opbrengste of deur negatiewe emosies nie.