Om vir jou kleinkinders te kan belê is ’n wonderlike geskenk, maar hoekom hulle nie ook op die pad sit om te leer hoe om self geld te verdien nie? Is dit nie dalk ‘n groter geskenk om jou kleinkinders te bemagtig met die vaardighede om hul eie finansiële toekoms te bou nie?
Belê só vir die kleinkinders
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 14 Julie 2024
Maar leer hulle dalk eerder om self geldvisse te vang
Ek kry baie navrae oor hoe en waar om te belê vir kinders, veral kleinkinders.
In die meeste gevalle sien ek dit as ’n geskenk van oupa, of ouma, of selfs ma of pa aan die kind. Natuurlik is dit ’n wonderlike geskenk. Dink net, dit bly groei. Die geskenk word net meer. Elke jaar skep dit ’n eie nuwe geskenk soos wat die belegging in waarde toeneem.
Vergelyk dit met jou tipiese speelgoedverjaardaggeskenk. Die oomblik dat jy by die winkel uitstap, het dit al seker meer as ’n derde van sy “waarde” verloor. En kort voor lank is dit stukkend, of weg.
Dit as agtergrond vir die gedagte wat ek vandag by lesers wil laat. Ons het almal al die geykte ou uitdrukking gehoor van (ek meen van ’n Chinese wysgeer), om pleks van iemand ’n vis te gee, wat hom sal voer vir ’n dag, hom liewer te leer om vis te vang, dan voer hy homself sy lewe lank.
Geyk, maar wys
Hoewel my eie ervaring met die visstok nou nie juis vertroue inboesem om myself net vir daardie een dag aan die lewe te kan hou nie.
Die punt wat ek wil maak met dit alles is, as jy vir jou kleinkind ’n geldjie wil belê, hoekom hom of haar nie op die pad sit en leer om self die geldvisse te vang nie. Dit gaan op lang termyn ’n groter geskenk wees as om geld te skenk.
Kinders is nooit te jonk om te leer van geld nie. Of selfs van die lewe nie. Die vlak van kommunikasie is ouderdomsverwant. Nie die boodskap nie. Al is die insig nog nie daar nie, die manier van doen kan ingemessel word. En dit gaan ’n invloed hê op hoe hulle eendag met hul eie geldsake werk.
Is dit nie ’n nog groter geskenk as om net vir die kind ’n geldjie te belê nie.
Dit, kortliks, is my boodskap vandag. Dink daaroor.
Nou terug by die vraag van ’n leser die week. Hy wil weet hoe ’n grootouer te werk kan gaan om ’n belegging namens sy minderjarige kleinkinders op te stel en te behartig. Hy wil dit op die Johannesburgse aandelebeurs (JSE) doen.
Dit is belangrik om uit die staanspoor te verstaan dat die JSE nie direk aandele aan jou gaan verkoop (jou beleggingsgeld aanvaar) nie. Jy moet van ’n aandelemakelaar gebruik maak om die aandeletransaksie namens jou te doen. Of jy kan dit self doen deur een van die aandelemakelaarsplatforms te gebruik. Kortom, jy moet deur ’n tussenganger werk.
En dan, met die tipiese “spaar vir my kleinkind”-tipe transaksies weet ek nie of die bedrae groot genoeg is om ’n aandelemakelaar se aandag te trek nie. Dit, en jou betrokkenheid, of die kind wie se belegging dit is se betrokkenheid by die koop en verkoop van aandele, is nie wat ek betekenisvol sal noem nie.
Dit sal myns insiens baie meer sin maak om jou te wend tot ’n kundige beleggingsraadgewer om jou hiermee te help.
Om mee te begin. Beleggings word nie gemaak net in die hoop op groot beleggingsgroei nie. As dit die geval is, kon jy alles in aandele belê het en dan wag en hoop en bid die verwagte groei kom.
Nee, jy begin ’n belegging, enige belegging, of dit nou vir jou kleinkind is, of jou eie aftreegeld, met ’n plan. Soos ’n padkaart.
Hoe kom jy daar uit?
Byvoorbeeld, ek wil my kind help met spaar om eendag sy of haar eie studies te kan bekostig. Nou het jy ’n doelwit.
Dan maak julle berekeninge oor hoeveel is nodig om nou te begin spaar om daarby uit te kom op die tyd dat dit nodig is.
En dan sal jou beleggingsraadgewer die fondse aanbeveel wat hy of sy meen aan hierdie doelwit oor hierdie termyn die antwoord sal bied.
Anders gestel, beleggings vir kinders is nie sommer om net geld êrens te gaan plaas nie. Dit is ’n proses. Soos enige belegging.
Om af te sluit sal ek voorstel dat – ek glo die beleggingsraadgewer sal dit ook aanbeveel – jy gebruik maak van effektetrustfondse.
Dit gee jou toegang tot dieselfde aandele as wat jy direk op die JSE kan koop. Met die voordeel dat jy in baie meer aandele kan belê vir ’n veel kleiner gelduitgawe, omdat jy onderaandele koop en nie die hele aandeel nie.
So versprei jy jou risiko, want jy hoef nie heeltyd asem op te hou dat jou aandeel, of paar aandele, gaan sink en verdrink nie.
Jy kan direk in die kind se naam die belegging doen op een van die beleggingsplatforms, waar jy uit ’n verskeidenheid van fondse kan kies. Jy kan dit self doen, of ek sal aanbeveel jy kry iemand om jou raad te gee, soos ek hierbo noem.
Of jy kan dit in ’n polis doen. Daar het jy toegang tot dieselfde effektetrustfondse.
In die geval van ’n belegging vir ’n kind waar jy maandeliks ’n bedrag wil spaar, is om ’n polis uit te neem met lewensdekking op jou lewe, ’n goeie oorweging. Sou jy voor die tyd sterf, sal die versekeraar die verdere premies betaal. Dis die sekerste manier dat daar aan die verwagte doelwit voldoen sal word.
Nog raad
Kyk wat jy teken
Al die wette en al die regulasies van toepassing op finansiëledienste-tussengangers en finansiëledienste-maatskappye help jou net mooi niks as jy nie baie mooi kyk na wat jy teken nie.
Ek het die afgelope week selfs gelees van ’n versekeraar wat oënskynlik ’n onderskeid tref tussen die “waarheid” wat hy verkondig in advertensies en die “waarheid” wat hy op sy webblad aan kliënte smous.
Lees gerus maar daardie kontrak deeglik. Versekeraars betaal uit volgens kontrak. Nie volgens advertensie nie. Nie volgens die bemarkingsnert op sy webblad nie.
Etiek het in hierdie finansiëledienste-bedryf skynbaar meer as een betekenis.
Hoe meer foefies ter sake is, hoe meer deurskynend is die etiese raamwerk wat dit onderlê, is my mening. Kyk ook maar wat jy teken by ’n makelaar.
Ek het meer as een keer al ervaar dat ’n makelaar iemand nader met die “gratis” (altyd gratis) aanbod om te “laat ek net kyk na jou goed”. En dan teken die persoon ’n magtiging om hom of haar “te laat kyk”. In werklikheid is dit ’n aanstellingsvorm om daardie persoon se beleggings by die batebestuurder oor te neem. Maak doodseker. Ons almal spel etiek dieselfde. Maar daar eindig dit.