Het jy al ooit oorweeg om tweedehandse polisse as ‘n beleggingsopsie te gebruik? Lees verder om meer te leer oor die moontlikhede en uitdagings van hierdie strategie.
2dehandse polisse as belegging
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 16 Junie 2024
KWB betaalbaar, maar dié produkte steeds goeie opsie
Ons kyk vandag na die gebruik van tweedehandse polisse as beleggingsinstrument.
Ek doen dit na aanleiding van ’n leser se vraag. Hy is 60 jaar oud en het ’n lewenspolis van R20 miljoen wat sal uitbetaal by dood.
Hy het dit nie meer nodig nie, sê hy. Kan hy die polis verkoop?
Die kort antwoord is, ja. Die vraag daarmee saam is, wil jy regtig?
Jou koper kry eers waarde uit sy belegging ná jou dood. Ek kom verderaan terug na dié punt.
Eers wil ek kortliks stilstaan by die gebruik van wat bekend staan as ’n tweedehandse polis. In dié geval ’n uitkeer- of spaarpolis.
Jy koop iemand anders se uitkeerpolis en neem dan besit daarvan. Dit is nou jou belegging.
Hoekom sal jy dit doen? Mense wat in die hoër belastingkategorieë val, kan waarde kry uit so ’n tweedehandse polis, synde die inkomstebelastingkoers in die individuele polishouersfonds 30% is, teenoor die maksimum marginale inkomstebelastingkoers van 45% vir natuurlike persone.
Die tweede rede is dat jy, die belegger wat die tweedehandse polis koop, ’n gevestigde polis koop. Jy hoef nie te begin spaar en die verpligte vyfjaartermyn te moet wag voordat jy aan al die vereistes voldoen het om die werklike belastingvoordeel te kan kry nie.
Mense in die hoër inkomstebelastingkategorie kan so ’n polis koop en dadelik ’n belastingvrye inkomste daaruit begin onttrek. Dit is omdat die polis reeds sy vyf jaar “uitgedien” het.
As hy wil, die belegger wat die tweedehandse polis koop, kan hy ook verdere beleggings maak in die polis tot 20% van die oorspronklike beleggingsbedrag per jaar en só sy neseier laat groei.
Die 20%-perk is bloot daar om die verpligting van ’n nuwe vyfjaarpolistermyn te vermy. Klink goed. Klink logies.
Waar lê die kinkel?
Met die koms van kapitaalwinsbelasting (KWB) in Oktober 2001 het die gewildheid van beleggings in tweedehandse polisse ietwat afgeneem.
Die rede is dat KWB betaalbaar is op die verskil in waarde tussen die prys waarteen die polis aangekoop is (basiskoste) en die waarde wanneer dit in kontant omgeskakel word (onttrekkings wat gemaak word).
As jy gereelde kleiner onttrekkings maak uit die polis is die basiskoste pro rata aftrekbaar van die wins.
KWB het tweedehandse polisse minder gesog gemaak, maar dit is steeds ’n opsie.
Net ter volledigheid. As jy spaar in ’n polis is daar geen KWB betaalbaar wanneer die polis aan jou of aan ’n begunstigde uitgekeer word nie. Dit geld net tweedehandse polisse, dus in daardie gevalle waar die polis van eienaarskap verwissel het teen ’n prys. Dan betaal die nuwe eienaar die KWB op sy of haar onttrekkings.
Wat nou van ’n lewenspolis, soos waaroor die leser vra? Dit is ’n suiwer lewenspolis, nie ’n uitkeer- of spaarpolis nie.
Dit kan gedoen word, maar eers wil ek hê iemand met sulke gedagtes moet nadink.
Dink voordat jy doen
Ek sal nie die polis-verkoopaanbod te wyd adverteer nie. Daardie koper of belegger, as jy wil, sal eers waarde uit sy belegging kry ná jou dood.
En R20 miljoen is nie swak motivering om ’n sekere gevolg ietwat vroeër teweeg te bring nie. En verder, daardie koper van die tweedehandse lewenspolis moet die verdere premies op die polis oorneem. Hoe langer jy leef hoe duurder raak hierdie “belegging” van hom.
’n Verdere stukkie motivering om jou einde te verhaas?
Kortom, vir die “belegger” is dit ’n bitter swak belegging – tensy hy of sy natuurlik duistere planne het wat op sy beurt weer niks goeds vir jou inhou nie.
Dit is nie die einde nie. Jou boedel gaan nog moet instaan vir boedelbelasting, ook op daardie geld, as die koper van die polis dit nie wil doen nie.
Dit alles gesê, wonder ek tog, waarvoor was die lewenspolis in die eerste plek? Vir skuld? Om vir ’n naasbestaande te sorg?
As jy soveel skuld het dat jy ’n R20 miljoen polis moes uitneem, is dit dalk beter om die polis te hou. Skuld gaan jy weer maak. Jakkalse verander nie van streke nie.
En die naasbestaandes? Is almal al dood?
Is daar nie kinders of kleinkinders aan wie jy die polis kan sedeer en dat hulle die premies oorneem nie? Dan kan hulle by jou dood die volle R20 miljoen-voordeel kry. En dit uit ’n belegging gelyk aan net die toekomstige premies. Hulle bespaar aan al die premies wat jy betaal het.
Wie sal nie belangstel?
Dood gaan jy tog dood. Moenie daardie premies wat jy oor jare betaal het in die water gooi nie. Daardie polis is niks werd totdat jy finaal gegroet het nie, maar dan is hy baie werd.
Dit is ’n belastingvrye neseier van R20 miljoen wat in hul skoot val. Genoeg om die na-trane-partytjie ’n baie meer vreugdevolle affêre te maak.
’n Verdere finansiële voordeel vir hulle is dat hulle waarskynlik ook hul eie premies op die polis plus 6% rente daarop sal kan aftrek vir boedelbelasting. Nog meer in hul sak.
Ek glo nie die “belegger” wat so ’n polis koop, sal hierdie voordeel kry nie.
Nog raad
Kry jou geld in ’n polis
Ek hou nie van veralgemenings nie, maar vandag wil ek tog ’n gedagte laat by lesers wat boedelbeplanning laat doen.
As jy beleggings het wat aan ’n naasbestaande uitbetaal moet word, is jou testament in die huidige omstandighede in hierdie land dalk nie die beste plek om dit te hanteer nie.
Boedels neem eenvoudig te lank om afgehandel te word. Nie omdat eksekuteurs nie weet wat hulle doen nie. Dit is by die meesterskantore waar baie probleme rondlê. En by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se kantore.
Belê liewer in ’n polis, is my oplossing vir die situasie.
’n Polis is ’n kontrak met die versekeraar. Die versekeraar betaal die polis direk uit aan ’n begunstigde sonder dat die geld eers deur jou boedel gaan. Of, as daar meer as een lewe op die polis is, neem die opvolgende persoon net die polis oor en gaan daarmee voort (kry asseblief kundige raad voordat jy kortpad vat).
Die polis sal steeds in aanmerking kom vir boedelbelasting, maar jy bespaar op die eksekuteurstarief.
Laat die Ontvanger maar self sukkel om sy boedelbelasting te kry. Jy weet ten minste jou naasbestaandes hoef nie twee of selfs vier jaar te wag vir hul erfgeld nie.