Skenkingsbelasting: Help jou kind só

Leer meer oor die subtiele fasette van finansiële ondersteuning vir jou kind. Van rente tot terugbetalings, ontdek hoe om jou kind te help sonder om in die strik van skenkingsbelasting te trap.


Skenkingsbelasting: Help jou kind só

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  14 April 2024

Rente, terugbetaling hou sleutel wanneer geld geleen word

Hoe help jy jou kind met geld?

Ek hoor iemand vertel nou die dag ewe trots dat haar man afgetree het uit die staatsdiens en hoe hy sy gratifikasie (dit is die eenderde-kontantonttrekking uit ’n pensioenfonds in ons gewone mense se taal) aan sy seun gegee het om hom te help om ’n huis te koop.

Die groot (en algemene) probleem hier is dat baie mense by aftrede met meer geld sit as wat hulle in hul lewe bymekaar gesien het. En dan dink hulle is ryk. En gee geld weg. Of gaan blaas dit op vakansies en nuwe motors en dies meer. En vertel dan ewe windgat vir ’n ieder en ’n elk hoe ryk hulle is.

Ek wil vandag maar net sê, wees versigtig. Jou verdienvermoë is op ’n einde. Jou lewe kan nog lank wees. Jou gesondheid nie.

Ons kan by ’n ander geleentheid kyk na die geldpad tussen aftrede en sterfte met al sy draaie en slaggate en klippe.

Vandag wil ek stilstaan by die kwessie van geld by kinders kry. As jy die geld het.

As jy dit doen terwyl jy lewe, is skenkingsbelasting jou voorland. Maar kom ons kyk.

Hoe werk skenkingsbelasting?

In die geval hierbo, kom ons sê die bedrag wat hy vir die kind gegee het, is R2 miljoen. Dan gaan hy vir Jan Taks R380 000 moet oordra. Sy onmiddellike verlies van kapitaal is dus R2 380 000.

Skenkingsbelasting is 20% (25% op die bedrag bó R30 miljoen) van die waarde van die skenking.

Jy kan skenkings van R100 000 per jaar maak vry van skenkingsbelasting. As jy binne gemeenskap van goed getroud is, het jy en jou gade elkeen dié vrystelling. Sou enige een van julle ’n skenking maak, sal elkeen se vrystelling in aanmerking geneem word.

Dus ’n dubbele vrystelling.

Goed, wat van ek leen die geld aan my kind? Dis tog nie ’n skenking nie.

Kom ons kyk eers kortliks wat sê die wet is ’n skenking. Dit vind ons in art. 54 tot art. 64 van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962).

Sonder om nou derms uit te ryg, dit kom neer op enige vrygewige afstand doen van eiendom of van ’n reg op eiendom. Die element van vrygewigheid is die sleutelwoord.

Ons howe onderskryf die ruimhartigheidselement.

Die afskryf van skuld waar die skuldenaar bankrot is en nie sy skuld kan betaal nie, is nie ’n skenking nie.

’n Lening is ook nie ’n skenking nie. Daar is geen vrygewigheid aan nie. Jy leen dit. Dit moet dus terugbetaal word.

Alles gaan afhang van hoe die lening gestruktureer is. En hier moet ons kyk na die kwessie of rente gehef word of nie.

Wanneer jy geld leen vir jou kind

As die lener ingevolge die leen-ooreenkoms die reg het om rente te hef en hy doen dit nie, is daar tog ’n vrygewige afstanddoen van die reg om rente te hef.

En dan sal skenkingsbelasting ter sprake kom op die bedrag rente wat nie gehef word nie.

As daar geen voorsiening gemaak is vir die hef van rente nie kan daar geen reg daarop ontstaan nie en is daar uiteraard geen afstand doen van die reg om rente te hef nie en geen skenking nie.

Maar dit is nie so eenvoudig nie. Die wet maak ook voorsiening vir “geagte skenkings”.

Daaronder kan tel ’n rentevrye lening aan iemand ingevolge waarvan die bedrag op ’n bepaalde dag terugbetaalbaar is.

Laat ek dit so verduidelik:

Geld het ’n tydwaarde. As ek dus R1 miljoen aan iemand leen vir sê maar vyf jaar, waarna die R1 miljoen terugbetaal is en ek hef geen rente nie, kan ons die tydwaarde-van-geld-som doen. Kom ons sê die rentekoers is 7% per jaar.

Deur nie die rente te hef nie, het jy dus vrygewiglik afstand gedoen van jou reg op R402 552 – die bedrag rente oor vyf jaar. En sal jy aanspreeklik wees vir skenkingsbelasting.

Dit net as ’n voorbeeld van die tydwaarde van geld.

Skenkingsbelasting word jaarliks bereken, so, in my voorbeeld, as jy geen ander skenkings in ’n bepaalde jaar gedoen het nie, sal jy geen belasting hoef te betaal nie, synde die rente (7% op R1 miljoen) net R70 000 per jaar sal wees en dit is minder as jou vrystelling van R100 000 per jaar.

As die lening terugbetaalbaar gemaak word op aanvraag is daar mos geen tyd aan gekoppel nie. En dan kan daar mos geen tydwaarde-van-geld-som gedoen word nie. En kan daar geen geagte skenking wees van rente nie gehef nie.

As jy dus geld wil leen, is dit beter, myns insiens, om die lening so te struktureer dat daar geen sprake is van rente nie en dat die lening terugbetaalbaar is op aanvraag.

Wag nou net so ’n bietjie; dit is nie die einde van die storie nie.

Wat as jy sterf?

Die uitstaande leningsrekening is oproepbaar deur jou boedel.

Veral as daar sibbe is, kan dit ’n probleem skep. Glo my, broederliefde waar dit erfgeld aangaan, hou net totdat die kis toeklap. Dan wil elkeen sy deel hê.

En dit is hoekom jy ook kundige advies gaan nodig hê met jou testament.


Nog raad

Pasop vir druk om polisse te koop

’n Leser skryf dat makelaars in sy omgewing deesdae omtrent loop en smous met polisse wat glo bedoel is om by dood die eksekuteurstarief te dek.

Glo tot 80% daarvan

Dink gerus hieraan:

Die poliswaarde word in ag geneem vir boedelbelasting. Dit val in jou boedel en is dus ook vatbaar vir die eksekuteurstarief.

Dit lyk ook baie duur en verhoog jaarliks.

As jy kyk na rand betaal teenoor rand-voordeel is dit, net soos begrafnispolisse, van die duurste polisse.

Enige lewenspolis kan kontant verskaf in jou boedel vir die eksekuteurstarief. Of enige ander boedelkoste, uitgawes of belastings.

Dit hoef ook nie ’n polis te wees nie. As jy geld op belegging het, kan dit ook gebruik word. Jy het nie ’n polis nodig nie.

En terwyl ek op die punt is: Dit geld ook die polisse wat aan mense afgesmeer word as hulle skuld aangaan.

Die skuldeiser het wel ’n reg om sy risiko te dek teen jou sterfte. Maar hy het nie ’n reg om aan te dring op ’n polis by ’n bepaalde versekeraar nie.

Jy kan ’n bestaande polis eenvoudig sedeer tot die waarde van die uitstaande skuld.

Scroll to Top