Wou jy nog altyd Kersvader vra vir ‘n belastingvrye geskenk? Stel jou voor jy kan jou belastinglas verlaag én jou geld laat groei – sonder om vir Jan Taks ‘n sent te gee! Ontdek slim maniere om hierdie “Kersgeskenk” vir jouself te kry.
Kersvader, hoe lyk dit met geen belasting?
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 08 Desember 2024
Daar is drie produkte wat jou kan help om dit reg te kry
Ek, Oupa Kers, is by magte om Kersfees te skuif. Om dit vroeër of later te maak. En die kleinkinders is gemaklik daarmee.
Die rede is natuurlik dat ons as familie selde by die huis is op Kersdag. En die voordeel vir hierdie nageslag is natuurlik dat hulle twee kersbome het en twee keer geskenke kry. Want waar ons ookal is, word mos weer Kersfees gehou.
Vanjaar is dit anders. Een helfte gaan soek die sprokieswêreld van ‘n wit Kersfees in London, terwyl die ander helfte saam met Oupa Kers en Moeder Owerste die nie-so-koel Kgalagadi-oorgrenspark gaan opsoek.
Dis mos altyd ‘n tyd van groot opwinding. ‘n Tyd van uitsien na die vakansie en na geskenke. Geskenke waarvoor jy gevra het. Of nie gevra het nie.
En hier is nou die punt vir diegene wat hulle toegewikkel het in die lekker dink en die droomwêreld wat ek hier probeer skep.
As jy kon vra vir ‘n kersgeskenk, wat van jy vra om iets nié te kry nie? Byvoorbeeld, om nie belasting te moet betaal nie?
Jan Taks is nie Kersvader nie. Maar tog…
Die reël is jy betaal belasting op alle inkomste. Meer tegnies, op belasbare inkomste.
Jou belasbare inkomste is die deel van jou inkomste ná vrystellings en kortings.
Rente verdien op beleggings is inkomste waarop jy belasting betaal. Die kapitaalgroei op die aandelekomponent van jou belegging is onderhewig aan kapitaalwinsbelasting (KWB). En dan is daar dividendbelasting op dividende wat aan jou uitbetaal word (maar wat jy nooit sien nie – die belasting daarop – omdat dit ‘n terughou belasting is).
Op die rentekomponent (ook huurinkomste) betaal jy, ná die aftrekking van die jaarlikse rentevrystelling (R23 800 as jy onder 65 jaar is en R34 500 as jy ouer is) belasting teen die heersende belastingskaal. Dit kan tot 45% marginaal wees op die gedeelte bo R1 817 000.
Op kapitale groei (belegging in aandele) betaal jy KWB ná aftrekking van die jaarlikse KWB-uitsluiting van R40 000. Op 40% van die res betaal jy belasting teen jou marginale koers deurdat die netto wins by jou belasbare inkomste vir die jaar gevoeg word. Jou effektiewe KWB kan soveel as 18% wees.
Jan Taks se present aan jou
Jy kan op ‘n deel van jou inkomste waarop jy normaalweg een of meer van die belastings hier genoem sou moes betaal, niks betaal nie.
Spaar in ‘n uittree-annuïteit. Eenvoudig. Jan Taks se persent aan jou. As jy slim is.
Jy kan tot soveel as 27% of R350 000 (welke een die minste is) van jou inkomste of salaris spaar in ‘n uittree-annuïteit (UA) en dit van jou inkomste aftrek.
Wat spaar jy?
Jy spaar teen jou marginale koers. Dit kan tot 45% wees, maar kom ons wees ‘n bietjie meer beskeie en sê jou marginale koers is 35%.
Dan bespaar jy op elke R100 wat jy in ‘n jaar belê R35 se belasting. Anders gestel, jy belê R65 van jou geld en jy kry R35 van Jan Taks pasella.
Nog anders gestel, jy het onmiddellike groei van R35 op jou R65.
En jy kry verdere groei op R100, nie op R65 nie.
Wat meer is, is dat jou groei heeltemal belastingvry is. En so ook die groei op die daardie groei, en so meer.
En jy kan dit elke jaar doen om jou belastinglas te verminder. En belastingvrye groei te verseker. En om geld bymekaar te maak vir daardie dag wat kom: aftrede.
Soms moet ‘n mens slim wees met jou keuse van kersgeskenke. Jy kan dit elke jaar doen.
Om in hierdie belastingjaar nog die voordeel van die “belastinggeskenk” te kry, moet jy jou geld in die UA belê voor die einde van die belastingjaar (Februarie).
En as jy te veel belasting betaal, selfs nadat jy jou maksimum bydrae tot ‘n UA gemaak het?
Dan is daar art. 29A van die inkomstebelastingwet (58 van 1962) wat die sogenaamde vyf fondse skep. Een van hulle is die individuele polishouersfonds.
As jy belê in ‘n polis
Belê jy in ‘n polis, sal jou geld in die fonds gehou word.
Moet nou net nie skrik vir die term “polis” nie. As jy stories van swak opbrengste gehoor het met polisbeleggings, die fout lê nie in die polis nie, dit lê by swak fondskeuses. En sommige makelaars wat meer kommissie neem met sekere polisse as wat ek meen eties aanvaarbaar is.
So, kies jou beleggingsraadgewer met sorg en daar is met ‘n polis niks verkeerd nie. Lees my rubriek hier verlede week van die kliënt wat oor 14 jaar 13.53% per jaar gemiddelde opbrengs gekry het – dus 490% oor die tyd.
Dit was in ‘n polis.
Die opbrengs oor die tyd was ná belasting. Die belasting wat betaal is, is minder as wat hy sou betaal het as dit nie in die polisbelegging was nie.
In die polis betaal jy 30% op inkomste teenoor ‘n maksimum marginale koers van 45%. En KWB teen 12%, pleks van tot 18%.
Al vereiste is dat jy vir minstens 5 jaar belê moet wees in die polis.
As jy ‘n trustee van ‘n familietrust is wat moet help besluit oor waar en hoe om trustgeld te belê, is hierdie ‘n voor-die-hand-liggende opsie. Trusts betaal inkomstebelasting teen 45% sonder enige vrystellings of uitsluitings. En KWB teen 18%.
Nog raad
En wat van die belastingvrye belegging?
In die hoofrubriek het ek geraak aan die twee beleggingsprodukte wat ek meen goeie belastingvoordele bied, ‘n uittree-annuïteit en ‘n belegging in ‘n polis.
Daar is nog een. Die sogenaamde belastingvrye spaar. Hy het net so ‘n paar tierlantyntjies aan hom, daarom hanteer ek hom op sy eie.
Jy kan hierin tot R36 000 per jaar spaar. Dit kan dus ‘n goeie kersgeskenk wees vir ‘n kind of kleinkind.
Al die groei in die belegging is belastingvry. As jy uiteindelik die geld onttrek, is dit natuurlik belastingvry.
Maar hier is die kinkels.
Jy het in elk geval ‘n jaarlikse rentevrystelling en KWB-uitsluiting, so die “belastingvry” van die belastingvrye spaar maak eintlik eers sin hierna.
Jy is beperk tot R500 000 wat jy oor jou lewe in die produk kan spaar. Dit is die totale bydraes wat jy mag maak. Jou balans met groei het geen perke nie.
Hier is die vangplek.
Spaar jy meer in ‘n jaar – in totaal by enige aantal beleggingshuise – as die toegelate R36 000 word jy belas teen ‘n koers van 40% op dit wat meer is.
En belangrik, as jy ‘n onttrekking maak uit hierdie belegging kan jy die geld nie sommer later terugplaas nie. Dit skep onmiddellik die 40% straf-belasting as dit meer as R36 000 in daardie jaar.