Kapitaalwinsbelasting: Hier is die slaggate

Kapitaalwinsbelasting kan ‘n slaggat wees wat baie mense onverwags in die gesig staar, veral tydens egskeidings of die oorplasing van eiendom na ‘n langslewende gade. Ontdek hoe die hernuwing van basiskoste en ander faktore jou finansiële nalatenskap kan beïnvloed en leer hoe om voorbereid te wees!


Kapitaalwinsbelasting: Hier is die slaggate

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  15 September 2024

‘Oorrol’, egskeiding en vruggebruik kan kopseer veroorsaak

Verder tot my rubriek hier verlede week, “Kapitaalwinsbelasting in boedels: só werk dit”, kyk ek vandag na ’n paar slaggate met kapitaalwinsbelasting (KWB) wat jou lelik onkant kan betrap.

Eers moet ek verskoning vra.

Die sekerste manier om te weet of ’n rubriek gelees word is om ’n blaps te maak.

Nie dat ek die blaps aspris met hierdie bedoeling gemaak het nie, dit was sommer net vergeet. En ek is behoorlik toegegooi met briewe van lesers.

In verlede Sondag se rubriek het ek geskryf dat KWB bereken word op die netto wins nadat die jaarlikse uitsluiting van R40 000 afgetrek is. Ek het ongelukkig nagelaat om ook te noem dat slegs 40% van die wins (die ingeslote koers) belasbaar is.

In my voorbeeldsommetjies het ek die stukkie vergeet voortgesit. Jammer hieroor.

Terwyl ons op die onderwerp is, die ingeslote koers van 40% geld individue en spesiale trusts. Die ingeslote koers vir maatskappye en gewone trusts is 80% en die R40 000-uitsluiting geld nie.

Goed, noudat almal van ons weer op hoogte is met KWB, kom ons kyk na vandag se onderwerp.

Hernuwing van basiskoste tussen gades

Bates wat tussen gades oorgedra word – kom ons sê by die dood van die eers- sterwende – is onderhewig aan die hernuwing (“oorrol”) van die basiskoste.

Kortom, by die dood van mnr. A is geen KWB betaalbaar op byvoorbeeld die woonhuis wat hy aan mev. A bemaak het nie. Dit help sy boedel met minder belasting.

Maar hier is die slaggat: Wanneer mev. A die dag sterf, of die woonhuis verkoop, het sy soveel jare se bykomende kapitaalgroei op die woonhuis. Maar wanneer die KWB-som gemaak word, moet sy (of haar eksekuteur) werk met dieselfde basiskoste as toe die eiendom oorspronklik bekom is.

Vroue leef baie langer as mans. En daardie huis kon ’n verdere 20 jaar se kapitaalgroei gehad het.

Die vraag is: Is daar genoeg geld in haar boedel om die groot bedrag KWB te kan betaal?

Baie kere, te veel kere, nie.

Egskeiding se ekstra ergernis

Ek noem hierdie een afsonderlik omdat dit ’n totale wanindruk kan wek met die waarde van bates wat oorgedra word ingevolge ’n egskeidingsooreenkoms.

Dieselfde hernuwing van die basiskoste geld ook egskeidings.

Maar waar die probleem vererger word, is dat by die egskeidingsooreenkoms die waarde van die eiendom verkry (byvoorbeeld ’n huis) net die huidige markwaarde daarvan in berekening gebring word. En nie markwaarde minus die KWB wat betaalbaar sou wees as die huis op dieselfde tydstip verkoop sou word nie.

Kom ons sê die vrou kry die huis en sy verkoop dit later, dan het sy minder as waarop daar ooreengekom is weens die KWB wat gehef word op die groei sedert die huis die eerste keer aangeskaf is, en nie net op die groei in haar alleenbesit nie.

Impak van vruggebruike

Die bemaking van ’n vruggebruik oor eiendom aan ’n langslewende gade kan eweneens ’n KWB-slaggat skep. Nie vir die oorlewende gade nie, maar vir die uiteindelike erfgenaam van die eiendom.

Waar ’n vruggebruik geskep word ten gunste van ’n langslewende gade by dood, word die eiendom waaroor die vruggebruik geskep word as’t ware in twee verdeel.

Die vruggebruikswaarde vererf na die langslewende gade. En daarmee saam ook die hernuwing van die KWB-verpligting. Die oorledene betaal dus nie KWB op die waarde van die eiendom wat deel vorm van die vruggebruik wat oorgaan na die langslewende gade toe nie.

Die oorledene se KWB-verpligting is beperk tot die waarde van die bloot eiendomsreg, die deel van die eiendom wat na (byvoorbeeld) ’n kind vererf.

Wanneer die vruggebruik tot ’n einde kom, kry die kind die volle waarde van die eiendom. Maar sy of haar basiskoste is beperk tot die waarde van die bloot eiendom toe dit uit die boedel bekom is, nie die volle waarde van die eiendom by die dood van die oorledene nie.

Wanneer die kind dan eendag die eiendom van die hand sit, sal KWB gehef word op hierdie baie laer waarde as basiskoste. Sy of haar wins sal dus heelwat hoër wees; met ’n groter belastinglas.

Primêre woning en verhuring

Op enkele uitsonderings na is daar ’n vereiste dat die primêre woning gewoonweg as residensiële woning gebruik word. Sou jy dus, sê maar, vir ’n paar jaar oorsee gewerk en die huis in daardie tyd verhuur het, sal die jare waarin jy nie gewoonweg die huis bewoon het nie, nie kwalifiseer vir die primêre-woning-uitsluiting (R2 miljoen) nie.

Die toegelate uitsluiting word pro rata bereken oor slegs die tyd waarin die huis as jou primêre woning gedien het.

’n Soortgelyke som moet gedoen word in gevalle waar jy ’n deel van jou primêre woning gebruik het om ’n saak te bedryf.

Die toerekeningsreëls

In die normale loop van sake, soos hier bo verduidelik, word KWB nie gehef op die oordra van ’n bate tussen gades nie.

Daar is egter ’n uitsondering. Sou daar ’n skenking gewees het van een gade aan ’n ander, hoofsaaklik met die doel om ’n belastingvoordeel te bekom of om belasting te voorkom of te vermy, moet die kapitaalwins geïgnoreer word in die hande van die gade aan wie die eiendom geskenk is en toegereken word aan die skenkergade.


Nog raad

KWB: Die toerekeningsreëls

Die agtste bylae van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) handel met kapitaalwinsbelasting en bevat onder meer ’n aantal toerekeningsreëls wat dit moontlik maak om ’n kapitaalwins wat gemaak is deur een persoon toe te reken aan ’n ander persoon.

In die hoofrubriek verwys ek na die “toerekeningsreëls” en praat ek van ’n skenking tussen gades waar een se kapitaalwins toegeskryf kan word aan die ander. Hier is nog ’n paar.

Die kapitaalwins van ’n minderjarige kind: Art. 7(3) van die Inkomstebelastingwet laat toe dat inkomste ontvang deur ’n minderjarige kind geag kan word inkomste van die ouer van daardie kind te wees as die inkomste so verkry die gevolg is van ’n skenking of handeling aan die minderjarige deur daardie ouer.

’n Soortgelyke reël is van toepassing wat betref die kapitaalwins van ’n minderjarige kind.

Die reël is ook van toepassing in byvoorbeeld gevalle waar die kapitaalwins deur die minderjarige toegeskryf kan word aan ’n skenking van iemand anders in ruil vir ’n skenking of een of ander vergoeding gegee deur die minder- jarige se ouer aan daardie ander persoon.

Skenking aan ’n nie-inwoner: In die geval waar ’n inwoner van Suid-Afrika ’n skenking doen aan iemand en die kapitaalwins vestig in ’n persoon wat nie ’n inwoner is nie, moet dit geïgnoreer word en word die kapitaalwins in die hande van die inwoner belas.

Scroll to Top