Is jy bewus dat kapitaalwinsbelasting in boedels nie net die oorledene se bates raak nie, maar ook die van die erfgename? Ontdek hoe die belasting regtig werk wanneer ’n bate van hand gesit word en hoe dit jou eie belastingverpligtinge kan beïnvloed wanneer jy later sterf.
Kapitaalwinsbelasting in boedels: Só werk dit
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 08 September 2024
Word die bate weer belas as die erfgenaam sterf?
’n Leser, Wollie, skryf en vra ek moet asseblief verduidelik oor kapitaalwinsbelasting (KWB) in boedels, want hy en sy vriende het ’n meningsverskil.
Net kortliks, die debat gaan oor die KWB wat gehef word by afsterwe in die boedel van die oorledene. En dan weer, hoe lyk die situasie wanneer die erfgenaam later sterf. Is daar dan weer KWB betaalbaar op dieselfde bate? En met watter basiskoste?
Dit is sommer net ’n kort weergawe van sy vraag.
Ek bekyk liewer die onderwerp heel wyd, dan dek ons sommer al die vrae wat nog kan kom, in een.
Ek begin by die begin.
Wat is kapitaalwinsbelasting?
Dit is ’n inkomstebelasting wat gehef word op die toename in waarde van ’n kapitaalbate. Daar is nie belasting op kapitaal nie, daarom is hierdie belasting geskep (in 2001) om belasting te kan hef op kapitaal. Vandaar die naam kapitaalwinsbelasting.
Dit is nie ’n aparte belasting nie. Dit is inkomstebelasting soos genoem, gehef op kapitaal. Dit word gereël deur die agtste skedule van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962). Die belasting word gehef op die netto wins wanneer ’n kapitaalbate van die hand gesit word. Die netto wins word bygevoeg by die belastingbetaler se belasbare inkomste vir daardie jaar ingevolge art. 26A van die Inkomstebelastingwet.
Daar is drie kernbegrippe wat verstaan moet word.
- Die basiskoste is die koste aangegaan om die bate te bekom. Byvoorbeeld die aankoopprys (met verbeteringe aangebring) of die waarde waarteen die bate verkry is (as dit byvoorbeeld ’n erfstuk of geskenk is).
- Die markwaarde is die waarde waarteen die bate, byvoorbeeld aandele of eiendom, verkoop word. Die belangrike beginsel hier is dat dit die markwaarde is in ’n armlengte-transaksie wat geld, nie die prys waarteen jy jou huis aan jou kind wil verkoop nie.
- Die wins is die verskil tussen basis- koste en markwaarde. Die netto wins is dit waarop jy belasting betaal nadat jy jou jaarlikse uitsluiting van R40 000 van die wins afgetrek het. In die jaar van jou dood is hierdie uitsluiting R300 000. In die geval van ’n primêre woning wat jy van die hand sit, is ’n verdere R2 miljoen se uitsluiting beskikbaar. Die bedrag só verkry, word by jou belasbare inkomste vir die jaar getel en dan saam belas volgens die heersende skaal.
Só werk die somme
Goed, nou ’n bietjie nader aan die leser se vrae.
Kom ons sê A het ’n kapitaalbate (byvoorbeeld aandele of eiendom) gekoop vir R500 000. Hy verkoop dit aan B vir R700 000.
A sal dan KWB betaal op die wins van R200 000, minus die R40 000-uitsluiting, dus op R160 000. Dit tel hy by sy belasbare inkomste vir die jaar en betaal belasting volgens skaal, soos genoem.
B het hierdie bate vir R700 000 gekoop. Dit is nou sy basiskoste en sal só bly totdat hy dit verkoop.
Kom ons sê hy verkoop dit aan C teen R1 000 000, dan is sy kapitaalwins (R1 000 000 – R700 000) R300 000, waarvan hy sy jaarlikse uitsluiting aftrek en dan die res (R300 000 – R40 000), R260 000, by sy belasbare inkomste tel vir sy jaar se belastingberekening.
En só gaan dit voort. Elke keer as die bate van die hand gesit word, word ’n nuwe basiskoste daaraan gekoppel – die prys waarteen dit bekom is (met natuurlik die koste van verbeteringe, sou dit ter sake wees).
En by dood?
Dieselfde reël geld. Die wet ag dat jy by dood jou bates van die hand gesit het aan jou boedel.
Die wins word bereken by jou dood, waarvan jou basiskoste dan afgetrek word en die netto wins (onthou, die uitsluiting is R300 000 in die jaar van jou dood) word by jou finale belastingopgawe ingedien.
Jou erfgenaam, soos ek hierbo verduidelik het, verkry dan die erfbate eweneens teen die prys waarteen die bate in die boedel opgeneem is. Dit is dan sy of haar basiskoste op die bate.
Wanneer hierdie erfgenaam sterf of die bate van die hand sit, begin die wiel weer draai. Die erfgenaam (of sy of haar boedel) sal dan vir KWB aanspreeklik wees op die wins verkry deur die basiskoste (waarteen die bate geërf is) af te trek van die markwaarde.
En só gaan dit voort.
Die uitsondering op die reël is: Sou die bate nie vererf nie en die eksekuteur dit uit die boedel verkoop, is daar ’n tussenin- transaksie wat ’n KWB-geleentheid van sy eie skep.
Die boedel sal die bate bekom teen markwaarde by die dood van die oorledene. Dit vorm dan die basiskoste vir die boedel.
Met die verkoop van die bate deur die eksekuteur word hierdie basiskoste gebruik om die wins te bepaal deur dit af te trek van die markwaarde of verkoopprys (solank dit ’n armlengte-transaksie is).
Die koper kry dan die bate met hierdie markwaarde of koopprys as sy of haar basiskoste. Presies dieselfde dus, maar net ’n addisionele tussenin-transaksie.
By die berekening van KWB in die geval van ’n skenking word die skenkingsbelasting betaalbaar pro rata by die basiskoste gevoeg, wat die uiteindelike KWB betaalbaar verminder.
In die boedel van ’n oorledene word KWB soos hier bo bereken, maar dit word as ’n aftrekking hanteer vir die berekening van boedelbelasting.
Nog raad
Uitsluiting op ‘n primêre woning
In die hoofrubriek is melding gemaak van die primêrewoning-uitsluiting vir kapitaalwinsbelasting (KWB).
Daar is twee reëls van toepassing:
- Die R2 miljoen-opbrengsreël.
Enige wins op die verkoop van ‘n woonhuis (wat die belastingbetaler se primêre woning is) in gevalle waar die opbrengs onder R2 miljoen is, is in geheel vrygestel van KWB.
- Die R2 miljoen-winsreël.
In gevalle waar die opbrengs op die verkoop van die eiendom meer as R2 miljoen is, is enige wins tot en met R2 miljoen vrygestel van KWB (mits dit ‘n primêre woning is).
‘n Primêre woning is enige struktuur (en kan selfs ‘n boot, of woonwa wees) waarin ‘n persoon (ingesluit ‘n spesiale trust), die trustbegunstigde, of die gade van so ‘n persoon normaalweg woon en dit gebruik as sy of haar hoofblyplek.
In gevalle waar meer as een persoon (of spesiale trust) ‘n belang in die primêre woning hou, moet die uitgesluite bedrag (R2 miljoen) volgens elkeen se belang by die primêre woning pro rata verdeel word.
Gades wat binne gemeenskap van goed getroud is, sal elkeen geregtig wees op ‘n uitsluitingsbedrag van R1 miljoen op die primêre woning.