Werk jy vir ’n salaris en dink jou belasting is klaar? Beleggings, huur of ’n byverdienste kan jou onverwags ’n voorlopige belastingbetaler maak. Weet jy waar jy staan?
Weet jy wat Jan Taks van jou verwag?
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 22 Februarie 2026
Maak doodseker of jy ’n voorlopige belastingbetaler is of nie en kry jou belastingsake betyds in orde. Tyd is min om dit nog vanjaar te doen, skryf Nico van Gijsen.
Hou jou kant skoon by Jan Taks.
Maak doodseker of jy ’n voorlopige belastingbetaler is of nie. Kyk hieronder of jy dalk moet, of moes, registreer as voorlopige belastingbetaler.
Tyd loop uit om te registreer as voorlopige belastingbetaler as jy nog nie het nie. En om jou voorlopige belasting vir die 2026-belastingjaar te betaal. Dis betaalbaar voor einde Februarie.
Die verpligtinge van ’n voorlopige belastingbetaler kan vir jou ’n slaggat wees. Selfs al kry jy ’n salaris of pensioen en word belasting volgens die lopende betaalstelsel (LBS) maandeliks deur jou werkgewer of pensioenfonds betaal.
Wat is voorlopige belasting?
Ons vind die uiteensetting van voorlopige belasting in par. 1 van die 4de skedule van die
Inkomstebelastingwet (58 van 1962).
Voorlopige belasting is nie ’n ander soort belasting nie. Dis inkomstebelasting wat twee keer per jaar betaalbaar is op die inkomste wat nie binne die Lopende Belastingstelsel (LBS) gevorder word nie.
Met voorlopige belasting maak die Ontvanger van Inkomste net seker dat hy sy regmatige deel uit jou inkomste kry deur te vereis dat jy vooruit belasting betaal op inkomste waarvan nie normaalweg belasting verhaal is nie.
Dis in ’n groot mate tot jou voordeel ook. Dit help dat jy nie aan die einde van die belastingjaar onkant betrap word met ’n yslike belastingverpligting nie.
Vir natuurlike persone met ’n belastingjaar wat strek van 1 Maart tot 28 Februarie moet die eerste belastingbetaling gedoen word teen einde Augustus van ’n betrokke belastingjaar en die tweede betaling teen einde Februarie. In uitsonderlike gevalle kan ’n derde betaling gedoen word teen einde September van die daaropvolgende jaar.
Die berekening word, net soos in die geval van ’n gewone belastingberekening, gedoen met toegelate aftrekkings en kortings, asook belasting wat reeds betaal is (byvoorbeeld deur LBS). Dit word deur twee gedeel vir die eerste inbetaling.
Dis gegrond op jou eie raming van jou hele jaar se inkomste.
Jy kan ook gebruik maak van die “basiese bedrag”, wat deur Jan Taks self aan jou gegee word. Die “basiese bedrag” is gegrond op inkomste uit vorige jare.
Die tweede opgawe in Februarie is meer van ’n uiteindelike opgawe en die tweede inbetaling is daarop gegrond. Minus natuurlik die belasting wat reeds betaal is.
Wanneer is jy ’n voorlopige belastingbetaler?
Ons praat hier van natuurlike persone. Maatskappye en trusts is voorlopige belastingbetalers.
Jy is ’n voorlopige belastingbetaler as jy enige inkomste, anders as jou salaris of vergoeding (waarop jy inkomstebelasting betaal soos wat jy dit verdien) ontvang. Of as Jan Taks aan jou sê jy is ’n voorlopige belastingbetaler.
Waar baie mense aan die verkeerde kant van Jan Taks kan beland, is dat beleggingsgroei van jou ’n voorlopige belastingbetaler kan maak. Of as jy inkomste kry uit die verhuring van eiendom of ’n eie saak het.
Die groot risiko lê myns insiens by beleggingsgroei. Jy kan ’n salaristrekker wees of ’n pensioen ontvang (waarvan belasting verhaal word) en tog as voorlopige belastingbetaler moet registreer as jy ook ander inkomste (soos diskresionêre beleggingsinkomste bo die perk van R30 000) het.
En, soos ek die afgelope week aan iemand moes verduidelik, dit maak nie saak of jy nie inkomste onttrek uit jou diskresionêre belegging nie. Dis die beleggingsgroei wat belas word, nie jou onttrekking nie. Die onttrekking (uit ’n diskresionêre belegging) is vry van belasting.
As jy ’n tweede huis, ’n woonstel aan jou huis of ’n kamer in jou huis het wat jy verhuur, is voorlopige belasting jou voorland. As jy ’n bykomende inkomste verdien, of dit nou uit die verkoop van koeksisters of tuinwerk is, of van ’n werkgewer wat nie as ’n werkgewer geregistreer is nie, dan is voorlopige belasting jou voorland.
Wat van inkomste in die buiteland verdien?
Sedert 1 Maart 2020 is die eerste R1,25 miljoen wat as ’n salaris verdien word in die buiteland vrygestel van inkomstebelasting (art. 10(1)(o)(ii) van die wet). Die res is belasbaar en daarom behoort diegene te registreer as voorlopige belastingbetalers.
Jy is nie ’n voorlopige belastingbetaler as jy nie inkomste uit ’n eie saak kry nie of as jou belasbare inkomste onder die belastingdrempel is. Dis tans R95 750 as jy onder 65 jaar oud is, R148 217 tussen 65 jaar en 74 jaar en R165 689 as jy ouer as 75 jaar is.
Of as jou belasbare inkomste uit beleggingsgroei of die verhuring van eiendom minder is as R30 000 in die jaar.
Wenke om die voorlopige belastingnet te systap
As jou verpligting om as voorlopige belastingbetaler te registreer toe te skryf is aan die belasting op beleggingsgroei, kan jy dit systap deur een of meer van die volgende opsies uit te oefen:
- Uittreeannuïteite (UA’s): Die beleggingsgroei in ’n UA, anders as in ’n diskresionêre belegging, is nie belasbaar nie en dus rus daar nie ’n verpligting op jou om as voorlopige belastingbetaler te registreer nie.
- Belastingvrye spaar: Die groei in ’n belastingvrye spaarbelegging is eweneens nie belasbaar nie en spring dus ook die voorlopige belastingnet vry.
- Polisbeleggings: Die beleggingsgroei in ’n polisbelegging word belas binne die polishouersfonds en nie in jou hande nie. Dit is dus eweneens nie vatbaar vir voorlopige belasting nie.
Kry jou belastingsake betyds in orde. Tyd is min om dit nog vanjaar te doen.



