Jan Taks en jou erfgoed

Belasting eindig nie met jou laaste asemteug nie—jou erfgename kan steeds ’n aansienlike rekening van Jan Taks kry. Ontdek hoe boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en hereregte jou nalatenskap beïnvloed en wat jy nou kan doen om slim voor te berei.


Jan Taks en jou erfgoed

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  25 Mei 2025

Boedelbelasting is ’n werklikheid. Nico van Gijsen skryf oor die hoe, wat, wie, waar, wanneer en hoeveel van dié belasting.

Belasting kan jy nie systap nie. Nie eens wanneer jy doodgaan nie. Dit weet ons.

Waarop ek vandag wil fokus, is die meer algemene belastings ter sake by dood.

Die vraag vir ons onderwerp vandag is: Wie betaal die belasting?

Boedelbelasting

Daar is seker nie ’n mens wat nie weet, of ten minste al gehoor het, van boedelbelasting nie.

Boedelbelasting word gehef ingevolge die Boedelbelastingwet (45 van 1955) op die netto waarde van die boedel. Dis nadat alle boedelverpligtinge soos skuld en belasting afgetrek is.

Daar is ander aftrekkings ook, soos bemakings aan ’n gade of ’n lewensmaat. En ’n paar ander; dis nie hier so belangrik nie. Die punt is: Boedelbelasting is ’n werklikheid.

Van die netto boedelwaarde is daar ’n korting (art. 4A) van R3,5 miljoen (dit kan R7 miljoen wees as die oorledene vooraf die geheel van die boedel van ’n gade geërf het). Daarna word boedelbelasting gehef teen 20% op die belasbare bedrag onder R30 miljoen en 25% op die bedrag daarbo.

Die boedelbelasting word betaal uit die oorledene se boedel, met die verantwoordelikheid daarvoor wat op die eksekuteur rus. In die algemeen.

Maar daar is ook gevalle waar die boedelbelasting deur die erfgenaam betaalbaar is of dan die persoon aan wie die bate toeval.

In die geval van ’n beperkte reg, soos ’n vruggebruik, gehou deur die oorledene, sal die persoon na wie die reg oorgaan, by dood verantwoordelik wees vir die boedelbelasting op die waarde van die vruggebruik, bereken volgens bepaalde formules.

As die erfgenaam ná die dood van die eienaar van die eiendom ’n vruggebruik kry (eerste vruggebruik), is boedelbelasting deur die eksekuteur betaalbaar. ’n Vruggebruik aan ’n oorlewende gade is aftrekbaar (art. 4q).

In die geval waar die oorledene oor ’n annuïteit beskik het wat uit die opbrengs op eiendom betaalbaar was, is dit die persoon wat die eiendom besit – wanneer die annuïteit by dood gestaak word – wat die boedelbelasting moet betaal.

Sou so ’n annuïteit op ’n erfgenaam oorgaan, moet die erfgenaam die deel van die boedelbelasting betaal wat aan die annuïteit toegeskryf word.

In die geval van ’n polis op die lewe van die oorledene wat by dood aan ’n begunstigde uitbetaal, is die begunstigde aanspreeklik vir die boedelbelasting wat deur die polis geskep word.

Dis die meer algemene gevalle.

Kapitaalwinsbelasting (KWB)

Kapitaalwinsbelasting, of dan KWB, kan ’n tameletjie raak. Ek probeer dit kort en eenvoudig hou.

KWB word gehef ingevolge die agtste skedule van die Inkomstebelastingwet (59 van 1962). Ja, dit behoort reeds te verduidelik wat KWB is: Dis ’n inkomstebelasting gehef op kapitale bates. Dis nie ’n afsonderlike belasting nie.

KWB word gehef op die wins uit die van die hand sit (verkoop of skenk) van ’n kapitale bate (byvoorbeeld vaste eiendom). Die wins word bepaal deur die basiskoste (byvoorbeeld die aankoopprys) af te trek van die waarde van die eiendom toe dit van die hand gesit is.

In die geval van natuurlike persone is die ingeslote koers (die bedrag wat vatbaar is vir die belasting) 40% van die wins, nadat die jaarlikse uitsluiting van R40 000 in berekening gebring is.

By dood is die uitsluiting R300 000. In die geval van ’n primêre woning geld ’n R2 miljoen- uitsluiting by sowel in lewe as by dood.

Dood word geag dat jy jou bates van die hand gesit het aan jou boedel.

Wat van jou erfgename – ons fokus vandag?

Jou boedel betaal die KWB waar ter sake. Erfgename kry die bate teen die waarde waarteen dit in jou boedel opgeneem is. Dit word nou die nuwe basiskoste vir die erfgenaam, sou hy of sy later die bate van die hand wil sit.

Hereregte

Hereregte word ingevolge die Wet op Hereregte (40 van 1949) gehef. Dis ’n afsonderlike belasting wat op die verkryging van vaste eiendom gehef word. Ons praat van ’n transaksionele belasting.

Die persoon wat die eiendom bekom, betaal die belasting, nie die een wat die eiendom verkoop of van die hand sit nie. Die belasting word bereken ingevolge ’n skaal op die persentasie van die waarde van die eiendom.

Let net daarop dat hereregte nie betaalbaar is waar belasting op toegevoegde waarde (BTW) ter sake is nie.

Die jongste skaal waarteen hereregte gehef word, is verkrygbaar op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se webwerf.

Hoe raak dit die erfgenaam?

Art. 9 van die Wet op Hereregte stel eiendom wat deur erfgename gekry word, hetsy testamentêr of intestate erfopvolging, vry van hereregte. Kortom, jy betaal nie hereregte op die huis wat jy erf nie.

Hierdie vrystelling geld ook in gevalle waar ’n herverdelingsooreenkoms tussen erfgename aangegaan word. Dis byvoorbeeld waar ’n ander erfgenaam as die een aan wie die eiendom bemaak is, die eiendom deur die herverdelingsooreenkoms bekom.

Die vrystelling geld ook in gevalle waar die oorlewende gade of geskeide gade die eiendom bekom ná die dood van ’n gade.

Eiendom bekom deur die regswerking van huwelike binne gemeenskap van goedere is eweneens vrygestel van hereregte.

Dis belangrik om vir belastings voorsiening te maak.

Genoegsame lewensdekking is seker die beste en die maklikste oplossing. Daar is ’n vooraf gekontrakteerde bedrag wat jy weet gaan uitbetaal.

Wat jy nie weet nie, is wanneer jy doodgaan.

Scroll to Top