Selfs ná jou laaste asem is Jan Taks nog lank nie klaar met jou finansies nie! Vind uit hoe jou boedel en begunstigdes steeds belasting moet betaal.
Jan Taks eis sy pond vleis, of jy dood is of nie
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 01 Junie 2025
Hoewel jy op jou sterfdag (darem!) ophou om ’n belastingbetaler te wees, is dit nie die einde van Jan Taks se belang in jou inkomste nie, skryf Nico van Gijsen.
Die dag wanneer jy sterf, hou jy ook op om ’n belastingbetaler te wees.
Ek weet nie of dit vir enigeen op hierdie Sondag goeie nuus is nie. Of iets om na uit te sien nie.
Die prys is dalk ’n bietjie hoog, maar jy is ontslae van Jan Taks. Ongelukkig nie hy van jou nie.
Ek kyk vandag ’n bietjie dieper na belastings by dood ná verlede week se rubriek, “Jan Taks en jou erfgoed”, waarin ek veral die belastinggevolge vir erfgename bespreek het.
Vandag is dit inkomstebelasting.
Hoewel die oorledene op die datum van dood opgehou het om ’n belastingbetaler te wees, is dit nie die einde van Jan Taks se belang in wat jy in jou lewe verdien het, wat jou nog toekom of inkomste wat deur jou boedel self gegenereer word nie.
Inkomste kan belas word in die hande van die oorledene, sy boedel of selfs in sekere gevalle in die hande van ’n begunstigde.
Kapitaalwinsbelasting (KWB), soos ek verlede week genoem het, is ’n inkomstebelasting op kapitaal, so dit moet saam met inkomstebelasting in berekening gebring word.
Art. 9HA van die Inkomstebelastingwet (58 van 1962), wat sedert 1 Maart 2016 in werking is, bepaal dat wanneer iemand sterf, word geag dat hy op sy sterfdatum sy bates (op enkele uitsonderings na) teen markwaarde op die dag van sy dood aan sy bestorwe boedel oorgedra het.
Die KWB wat só geskep word, kan belas word in die hande van die oorledene of sy bestorwe boedel.
Boedelbelasting kom ter sprake aan die einde van die boedelberedderingsproses. Ons kan anderdag weer daarna kyk.
Enkele voorbeelde
Kom ons word nou meer spesifiek met ’n paar voorbeelde.
Die oorledene se belastingjaar eindig op die dag van sy dood. Alle inkomste toegeval of waarop hy geregtig is, word in sy naam belas. Jou laaste belastingopgawe.
Alle verdere inkomste word belas in die boedel, wat as ’n afsonderlike belastingbetaler moet registreer.
Byvoorbeeld, kom ons sê die oorledene se werkgewer besluit om ’n prestasiebonus te betaal ná sy dood, sal dit tel as inkomste vir die boedel en nie vir die oorledene nie. Die boedel sal daarop belas word.
Dieselfde geld verlofuitbetalings waarop die oorledene ingevolge ’n diensooreenkoms ’n reg had. Dit val ook die boedel toe en die belasting daarop sal deur die boedel verreken word.
Maar ’n aftreefonds-kontantbedrag wat by die dood van die oorledene uitbetaal, val nie daaronder nie. Dit word geag as wat die oorledene toegeval het die dag voor sy dood en word bygetel by sy bruto inkomste en afsonderlik belas ingevolge die Tweede Skedule van die Inkomstebelastingwet.
Maar medieseskemabydraes deur die boedel van die oorledene word geag deur hom betaal te gewees het die dag voor sy dood. Vir die berekening van die bykomende mediesebelastingkrediet word die ouderdomme van kinders (ingevolge die definisie van “kind”) bereken op die dag van die oorledene se dood.
Huwelike binne gemeenskap van goed
In die geval van ’n huwelik binne gemeenskap van goed moet die eksekuteur die gemeenskaplike bates in die boedel administreer.
Die eksekuteur moet die verpligtinge (skuld) van die gemeenskaplike boedel betaal. Hy moet sorg vir al die inkomste verkry deur die gemeenskaplike boedel. Uiteindelik moet hy dan die oorledene se helfte van die netto gemeenskaplike boedel aan die testamentêre begunstigdes oordra.
Die ander helfte val die oorlewende gade toe weens sy of haar gelyke aandeel in die gemeenskaplike boedel.
Baie belangrik hier is dat die oorlewende gade steeds verantwoordelik is vir sy of haar deel van die belasting wat gehef word op inkomste uit die bates in die gemeenskaplike boedel ná die dood van die oorledene.
Eenvoudig gestel: Die gemeenskaplike boedel word as ’n geheel geadministreer. Skuld word uit die gemeenskaplike boedel betaal. Maar die oorlewende is aanspreeklik vir die helfte van die belasting op inkomste verkry uit gemeenskaplike bates in die boedel.
KWB en die ‘oorrol’ van bates
Bates wat oorgedra word na ’n oorlewende gade, sal “oorrol” vanaf die oorlede gade deur die boedel. Die basiskoste waarteen die oorlewende gade die bate verkry, sal dieselfde wees as die basiskoste wat die bate vir die oorledene gehad het.
Dit kom bloot daarop neer dat geen KWB betaalbaar is deur die oorledene of sy boedel as die bate na ’n gade oorgedra word nie. Die gevolg is dat wanneer die oorlewende gade die bate van die hand sit, of self sterf, sal KWB gehef word op die waarde van die bate, minus die basiskoste (plus kwalifiserende uitgawes), wat dit in die eerssterwende se boedel gehad het.
Dit, moet ek uitwys, geld net vir bates wat oorgedra word na ’n oorlewende gade wat ’n inwoner (ingevolge die definisie in die Inkomstebelastingwet) van Suid-Afrika is.
Waar die oorlewende gade ’n nie-inwoner is, is die reël ietwat anders.
Vaste eiendom in Suid-Afrika wat na die nie-inwonergade oorgedra word, kwalifiseer vir “oorrol” van die basiskoste. (Die rede maak sin, want nie-inwoners word hier belas op plaaslike inkomste, wat kapitale winste insluit.)
Waar die eiendom in die buiteland is en aan die nie-inwonergade oorgedra word, sal KWB bereken word teen die markwaarde van die eiendom op die dag van die oorledene se dood en die KWB daarop is betaalbaar deur die eksekuteur.
Dit alles is ’n bekvol.
Maar die huistoevat-boodskap is: Sorg vir genoeg kontant in jou boedel. Belasting moet betaal word.