Geskenke: Loop lig vir dié belasting

Oorweeg jy om ń kind te help met ń deposito vir die aankoop  kar of ‘n familielid finansieel by te staan? ‘n Skenking het belasting gevolge. Dit is dus raadsaam om die belastingimplikasies van die maak van skenkings goed te evalueer. Daar is ‘n hele paar dinge wat jy in gedagte moet hou wanneer dit by ń skenking en skenkingsbelasting kom.


Geskenke: Loop lig vir dié belasting

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  29 Oktober 2023

My vrou se voorstel van ’n ouma-toelaag laat my toe kopkrap

Die ouma in my huis het my nou die dag probeer te laat verstaan dat ’n ouma-toelaag dalk in orde sal wees.

In my huis antwoord jy nie dadelik nie. Jy dink eers. ’n Ouma-toelaag?

Eers frons ek. Toe krap ek kop. Hoekom, wonder ek. Ons deel tog ’n bankrekening waarop sy volmag het. Waarom ’n ouma-toelaag?

Toe tref dit my. Elke jaar, so binne twee maande van Kersfees af, kom ouma met ’n nuwe truuk. Terloops, sy staan ook bekend as Ouma Bederf. En ons het vier klein hoogs bederfbare produkte.

Jy moet oppas, stel ek haar in kennis toe die lig vir my opgaan, Jan Taks gaan jou een van die dae slaan met geskenkbelasting. Toegegee, hierdie ouma is self ’n gesertifiseerde finansiële beplanner. Sy sal weet.

Dit is ’n belasting wat jou lewe erg kan omkrap. Kom ons kyk kortliks hierna.

Nie almal verstaan geskenkbelasting

Iemand by ’n groot finansiële instelling het juis vir my die afgelope week te vertel dat jy bates aan byvoorbeeld ’n kind wat in die buiteland woon en nie as ’n inwoner van Suid-Afrika beskou word nie, kan oordra, sonder dat geskenkbelasting gehef sal word.

Ek het voorgestel hulle moet maar eers die boek lees voor hulle belastingadvies gee.

Geskenkbelasting word gehef ingevolge die Wet op Inkomstebelasting (Wet 58 van 1962) op eiendom wat vervreem (geskenk) word deur iemand wat ’n inwoner van die land is. Nie-inwoners is nie onderhewig aan geskenkbelasting nie. Selfs nie op hul bates in Suid-Afrika wat hulle weggee nie.

Daar is twee belangrike begrippe om te verstaan. Wat is ’n skenking? En wat is eiendom?

’n Skenking is enige vrygewige wegdoen van eiendom, ingesluit die wegdoen van ’n reg tot iets. Die vrygewige aard daarvan is die belangrike element. En eiendom? Dit is enige reg in, of tot eiendom, roerend of onroerend, tasbaar, of nie-tasbaar, waar ook al geleë. In gewone taal? Byna enigiets wat jy weggee, of skenk. Dit sluit in die vrywillige afskryf van ’n lening aan jou. Byvoorbeeld, ’n lening aan jou familietrust, of kind. Wat nou van ’n lening aan iemand en daardie persoon kan die lening nie terugbetaal nie, weens die finansiële omstandighede van die skuldenaar en jy skryf dié skuld af? Dit was nie ’n vrywillige afskryf van die skuld nie, so jy is gered van die belasting. Dis die vrygewigheid wat die bepalende faktor is.

Die wet strek breër

Die wet gaan egter verder en maak ook voorsiening vir geagte skenkings. Dit is waar jy nie werklik skenk nie, maar byvoorbeeld eiendom verkoop teen ’n tarief wat na die mening van die Inkomstediens nie voldoende is nie. Dus vir minder as die markwaarde van die eiendom in welke geval geskenkbelasting ter sprake kan kom op die geagte skenking – dit is die verskil tussen die markwaarde en die vergoeding wat jy daarvoor ontvang het.

So ’n geagte skenking kan veral ook ter sprake kom in gevalle van ’n uitstaande lening aan byvoorbeeld ’n familietrust. As die persoon wat die lening toegestaan het, ’n verbonde persoon tot die trust is, en nie rente op die lening hef nie, of anders ’n laer rente hef as die amptelike rentekoers, kom geskenkbelasting ter sprake.

En vaste eiendom? Ek word baie keer gevra deur lesers of hulle nie liewer die huis of strandhuis in lewe aan kinders moet oormaak nie, pleks om dit te laat vererf by hul dood. Dit sal ’n skenking wees. Teen markwaarde. Dit bring ook kapitaalwinsbelasting (KWB) ter sprake.

Die goeie nuus is, as daar goeie nuus met belasting is, dat die geskenkbelasting wat jy betaal, bygetel kan word by die basiskoste van die eiendom, wat die wins sal minder maak, wat die uiteindelike KWB sal verminder (sien die kassie hierlangs vir meer hieroor). En die skenking van ’n reg? ’n Reg op ’n annuïteit (’n gereelde betaling aan jou) en byvoorbeeld ’n beperkte reg soos ’n vruggebruik wat jy het op eiendom en dit aan iemand oorgee, is eweneens vatbaar vir skenkingsbelasting.

Hoe verklaar jy jou skenking?

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het ’n vorm (IT144) wat jy invul as jy ’n skenking gemaak het en tesame met die bewys van die skenking by jou naaste tak van die SAID indien. Die belasting moet voor die einde van daardie betrokke maand aan die SAID oorbetaal word.

Geskenkbelasting is 20% op die markwaarde van die eiendom wat geskenk is tot by R30 miljoen en 25% op dit wat meer is.

Skenkings tussen gades is vrygestel van dié belasting. Terloops, dit sluit in saamblyers in ’n verhouding wat bedoel is om permanent te wees, soos ek verlede Sondag geskryf het (Saamwoon of trou: Dit bly ’n geldstorie).

Waar ’n egpaar getroud is binne gemeenskap van goed en die skenking word gemaak uit die gemeenskaplike boedel, word dit geag dat elke party 50% van die skenking gemaak het. Wat my bring by die oumatoelaag hierbo. Dalk is dit deel van die Kersfeesplan. Elke persoon het ’n jaarlikse vrystelling vir geskenkbelasting van R100 000. En synde ek en die ouma van my kleinkinders binne gemeenskap van goed getroud is, kan ouma mos dubbel haar vrygestelde bedrag skenk, sonder dat belasting gehef word. Ek gaan outomaties moet instaan vir 50% van die skenkingsbedrag.


Nog raad

Só werk die belastings

In die hoofrubriek het ek genoem dat kapitaalwinsbelasting tesame met geskenkbelasting gehef sal word op sekere skenkings.

Kapitaalwinsbelasting, of KWB, is betaalbaar op die wins wat jy maak, wanneer jy ’n kapitaalbate, byvoorbeeld vaste eiendom of aandele, verkoop. Om die wins te bereken, moet jy die koste van die bate (die koopprys plus verbeteringe aangebring) – genoem jou basis- koste – aftrek van die verkoopprys. Die verkoopprys moet altyd wees die markwaarde. Van die bedrag so verkry, trek jy af jou jaarlikse KWB-vrystelling (R40 000). Dit is jou wins. Neem dan 40% hiervan en voeg dit by jou belasbare inkomste vir die jaar, waarop jy belasting betaal volgens skaal. As jy die eiendom geskenk het, nie verkoop het nie, is KWB steeds ter sake. Ook geskenkbelasting. Die geskenkbelasting word bereken op die markwaarde van die eiendom, nadat jy jou jaarlikse vrystelling van R100 000 afgetrek het. Wat oorbly, word dan belas teen 20% (as die bate onder R30 miljoen is). Om die totale belastings te bereken, neem jy die bedrag van die geskenkbelasting en voeg dit by die basiskoste. Doen dan die som verder deur hierdie nuwe basiskoste af te trek van die wins en daarop die KWB te bereken soos hierbo genoem.

Scroll to Top