Belastingseisoen kan soos Krismis voel—as jy weet waar om te kyk. Ontdek die slim maniere om duisende rande te spaar met nuwe belastingwysigings.
Dis Krismis vir taksbetalers – maak seker jy skep
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 08 Maart 2026
’n Mens kan ’n aardige sommetjie spaar as jy slim te werk gaan, skryf Nico van Gijsen.
In die onlangse begroting is ’n hele paar belastingwysigings voorgestel. Ek kyk vandag na ’n paar wat uitstaan en hoe dit lesers se persoonlike finansies raak, met ’n paar wenke om die beste daaruit te haal.
Uittree-annuïteite (UA’s)
Bydraes tot ’n UA, of jy nou lid is van ’n werkgewerpensioenfonds of nie, is seker een van die sekerste maniere om jou inkomstebelasting vir die jaar te verminder. En tog mis baie mense dit. En betaal dan meer aan inkomstebelasting.
Die goeie nuus is dat die toegelate aftrekbare bedrag in vanjaar se begroting met ’n hele R100 000 verhoog is.
Die toegelate aftrekking is nou die minste van 27.5% of R430 000 (was R350 000) van belasbare inkomste.
In syfers?
Jy kan op ‘n belasbare inkomste van R1 563 636 die volle 27.5% tot ‘n UA (of pensioenfonds, die twee moet bymekaar getel word) bydra en dit van jou belasbare inkomste aftrek. Belasbare inkomste is dit waarop jy belas gaan, of sou word.
Ons het in die vorige boekjaar vir baie kliënte, net deur ’n addisionele bydrae tot ’n UA te maak, sommer maklik R100 000 of R200 000 en selfs meer aan belasting bespaar. Laat ek dit uitspel: Dit is minder belasting, soveel minder as die belasting wat hulle sou moes betaal.
Die beleggingsgroei in die UA-belegging is boonop ook nog vry van belasting. Hoe lekker is dit?
En my wenk hier?
Maak jou bydrae tot die UA vroeg in die belastingjaar. Moenie wag tot die einde van die belastingjaar soos baie mense doen nie. Jy kan tog sekerlik min of meer skat wat jou inkomste gaan wees.
Die rede is eintlik voor die hand liggend. Jy kry dan ’n jaar se belastingvrye groei op die geld, waar die groei (rente), as jy dit in jou bankrekening sou los, belasbaar sou wees teen jou marginale koers.
Die som?
Op R430 000 teen 10% groeikoers het jy aan die einde van die belastingjaar R473 000 in jou UA teenoor R430 000 as jy dit aan die einde van die belastingjaar inbetaal.
Belastingvrye spaar
Die jaarlikse bydrae (dit is gekoppel aan ’n belastingjaar, 1 Maart tot 28 Februarie) tot die belastingvrye spaar is met R10 000 verhoog. Dit word nou R46 000 per jaar per individu.
Dit geld net natuurlike persone, nie maatskappye of trusts nie.
Die maksimum bydrae oor ’n leeftyd is R500 000. Die uiteindelike bedrag op belegging is irrelevant. Dis die bydraes wat beperk word, nie die totaal op belegging nie.
Net die groei is belastingvry. Die bedrag wat jy jaarliks spaar, is nie, soos met ’n UA, aftrekbaar vir belasting nie.
My wenk hier is soortgelyk aan wat ek hier bo voorstel. Baie mense wag tot aan die einde van die belastingjaar voordat hulle ’n bydrae tot die belastingvrye spaar maak. Jy doen jouself tekort.
As ons dieselfde som doen as hier bo met die UA, kan jy, deur aan die begin van die belastingjaar jou bydrae tot ’n belastingvrye spaar te maak, reeds R50 600 op (belastingvrye) belegging hê, pleks van R46 000.
Geskenkbelasting
Die jaarlikse vrystelling op geskenkbelasting vir natuurlike persone is met ’n hele 50% verhoog van R100 000 tot R150 000.
Skenkings tussen gades is vrygestel van geskenkbelasting.
Wat sê die stelling nog? Selfs ’n gade wat nie ’n inkomste en eie geld het nie, kan ’n skenking van R150 000 in ’n jaar maak deurdat die ander gade eers die geld aan hom of haar geskenk het.
Wat is die nuttige gebruike hiervoor in finansiële beplanning?
- Leningsrekeninge aan trusts kan jaarliks met hierdie bedrag verminder word deur ’n skenking aan die trust te doen.
- Kinders met kontantvloeiprobleme kan gehelp word, sonder dat jy gestraf word met geskenkbelasting (20%). Terloops, algemene onderhoud (van enige persoon) word nie gesien as ’n skenking nie.
- En vir die oumas en oupas? Jy kan nou meer bydra tot jou kleinkinders se spaarvarkie. Vir studies later, of sommer net ’n grootword-neseier.
Primêre-woning-uitsluiting van kapitaalwinsbelasting (KWB)
Die uitsluitingsbedrag vir ’n primêre woning vir KWB-doeleindes is eweneens met 50% verhoog.
Dit was R2 000 000. Dit word nou R3 000 000.
Moet ek dit sê?
As jy beplan om jou huis te verkoop, doen dit nadat wetgewing afgehandel is. ’n Ekstra R1 000 000 waarop jy nie KWB hoef te betaal nie, in jou sak is tog seker beter as in Jan Taks se hande.
In syfers? Jou belastingbesparing deur te wag is tot R180 000.
Ander goeie nuus
Om alles te noem, gaan te veel ruimte in beslag neem, so ek noem net in breë trekke ander tersaaklike beoogde wetswysigings.
Die inkomstebelastingkoerse is aangepas. Die bedrae waarop jy teen jou marginale koers belas word (dis die volgende hoër koers in die belastingskaal), is ietwat verhoog.
Die belastingkortings – dit volg nadat jou belasting bereken is, dan is daar die korting wat volgens ouderdom geld – is ietwat verhoog.
So ook die mediese-skema-krediete.
Minder goeie nuus – vir sommige
Ek het hier bo genoem dat geskenke aan gades vrygestel is van geskenkbelasting. Dit kom nou met fynskrif.
Die vrystelling word sedert 25 Februarie vanjaar al beperk tot gades wat albei inwoners is.
Dit is om die gebruik stop te sit van sommige om bates landuit te kry, vry van belasting, deur dit aan ’n nie-inwonende gade te skenk.



