Ontdek die ingewikkelde wêreld van boedelbelasting en lewenspolisse. Leer hoe die regte bestuur van lewensversekering jou en jou erfgename kan beskerm teen onaangename verrassings.
Die boedelbelasting-slaggat van sekere lewenspolisse
Deur Louis van Vuren • Vrye Weekblad • 24 Mei 2024
Lewensversekering is ‘n kostedoeltreffende manier om seker te maak daar is genoeg kontant in boedels ná afsterwe om die boedel te kan beredder en te kan voorsien vir dié wat agterbly.
Lewenspolisse word ook deur sakevennote van die oorledene gebruik om dié se belang in die sake-onderneming uit die boedel te kan koop. Dit is om te keer dat die sakebelang in die hande van ‘n erfgenaam beland wat geen kennis of ondervinding van die onderneming het nie en ook nie belangstel om daarby betrokke te raak nie. Sake-ondernemings verseker ook die lewe van ‘n werknemer of direkteur, veral as dié ‘n sleutelrol in die bestuur of winsgewendheid van die onderneming speel.
‘n Ander rede waarom iemand anders as die versekerde lewe se boedel op die opbrengs van die polis geregtig kan wees, is as ‘n ander persoon as begunstigde vir die opbrengs van die polis benoem word.
Maar as dit nie reg gedoen word nie, is daar ‘n hele paar slaggate wat onaangename verrassings vir die erfgename kan inhou.
In beginsel is alle polisse op iemand se lewe “geagte eiendom” in die versekerde lewe se boedel en kom vir boedelbelasting in berekening, ongeag wie die polis uitgeneem het of wie op die opbrengs van die polis ná die versekerde lewe se afsterwe geregtig word.
Wanneer sakevennote lewenspolisse gebruik om hulle oorlede sakevennoot se belang te koop kan die opbrengs uitgesluit wees van geagte eiendom in die boedel indien sekere reëls gevolg word. Dít is dat die polis uitgeneem moes gewees het deur ‘n vennoot of mede-aandeelhouer van die versekerde lewe met die doel om die belang of aandele te koop by afsterwe van die versekerde lewe en dat die versekerde lewe self geen premie op die polis betaal het nie. Daar moet inligting beskikbaar wees oor die doel waarvoor die polis uitgeneem is en wat met die opbrengs gedoen sal word ná afsterwe van die versekerde lewe. Dit moet verkieslik skriftelik wees omdat die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) bepaal dat die kommissaris van die SA Inkomstediens (SAID) oortuig moet wees dat al die reëls nagekom is.
Wanneer ‘n werkgewer die lewe van ‘n direkteur of werknemer verseker, is daar ook reëls wat gevolg moet word om die opbrengs van die polis buite die boedel te hou vir boedelbelasting. Dit is dat die versekerde direkteur of werknemer nie ‘n rol gespeel het in die besluit om die polis uit te neem nie, dat die versekerde nooit self enige premies betaal het nie en dat geen deel van die eisbedrag aan die versekerde se boedel, ‘n familielid van die versekerde of ‘n familiemaatskappy ten opsigte van die versekerde sal betaal nie. ‘n Familiemaatskappy is enige sake-onderneming waarin die versekerde en ‘n nabye familielid gesamentlik ‘n beherende belang het.
As enige enkele reël in enige van die twee gevalle hierbo verbreek word, val die uitsluiting weg en tree die bepaling in werking dat die opbrengs van die polis as geagte eiendom in die oorlede versekerde lewe se boedel val vir berekening van boedelbelasting.
As enigiemand anders as die langslewende in ‘n huwelik of langtermyn-saamwoonverhouding geregtig word op die opbrengs van enige ander polis op die lewe van die oorledene, sal die opbrengs potensieel vir boedelbelasting vatbaar wees.
Maar nou is daar ‘n probleem. Die Boedelbelastingwet bepaal dat die persoon wat die voordeel ontvang, aanspreeklik is om die belasting te betaal, maar die manier waarop hierdie gedeelte van die boedelbelasting bereken word, bring mee dat die erfgename van die oorledene effektief ‘n gedeelte van die belastinglas sal dra.
Boedelbelasting word bereken deur al die eiendom (bates) en geagte eiendom bymekaar te tel en dan al die toelaatbare aftrekkings (bv. koste, inkomstebelasting en kapitaalwinsbelasting, laste en alle bedrae waarop die langslewende geregtig word) daarvan af te trek. Dit laat die netto boedel, waarvan R3,5 miljoen afgetrek word. Wat oorbly, is die belasbare boedel waarop 20%-boedelbelasting op die eerste R30 miljoen gehef word en 25% op die bedrag bo R30 miljoen.
As ons aanvaar die netto boedel was R3,5 miljoen en die belasbare boedel dus R0 ná aftrekking van die R3,5 miljoen waarna hier bo verwys is, sou daar geen boedelbelasting betaalbaar wees nie. As daar egter ‘n polis was van R1 miljoen waarop die kind of broer van die oorledene die benoemde begunstigde is, of dis een van die gevalle waarna verwys is waar die reëls nie nagekom is nie, sal boedelbelasting van R200 000 betaalbaar wees. Die netto boedel sal dan R4,5 miljoen wees en die belasbare boedel R1 miljoen. Die gedeelte waarvoor die bevoordeelde moet instaan, word bereken deur die polisopbrengs te deel deur die netto boedel en te vermenigvuldig met die betaalbare boedelbelasting. Dus, R1 m ÷ R4,5 m x R200 000 = R44 444,44.
Alhoewel al die boedelbelasting in hierdie voorbeeld dus deur die polis veroorsaak is, word minder as ‘n kwart daarvan deur die persoon betaal wat die voordeel van die polis ontvang het en die res effektief deur die erfgename in die boedel.
Bekom dus betyds behoorlike advies oor boedelbeplanning om belastingslaggate te vermy.
Artikel geskryf vir Vrye Weekblad deur Louis van Vuren, Uitvoerende Direkteur: Trustdienste van Finlac en uitvoerende hoof van FISA.