Boedelbelasting is ‘n ongemaklike realiteit wat ons nie kan ontvlug nie. Nico onthul die ware aard van boedelbelasting en waarsku teen die gevaar van valse hoop, terwyl hy die ingewikkelde interaksies van polisse en trusts ontsyfer.
Boedelbelasting se slagyster
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 24 Maart 2024
Vergewis jou van die feit dat jy nié die dood kan vryspring
Dit lyk soms vir my of baie mense meer bekommerd is oor boedelbelasting as oor doodgaan self.
En dan, net soos wat hulle die werklikheid van die dood probeer versag deur woorde soos, “as ek dalk eendag iets moet oorkom”, pleks van “wanneer ek sterf”, net so glo hulle net dit wat hulle wil hoor as daar oor boedelbelasting gepraat word.
Wel, hier is nuus. As jy lewe, gaan jy dood. Dis ’n feit. Jy gaan nie “iets oorkom” nie.
En as jy hard gewerk het en vir jou welvaart geskep het, gaan boedelbelasting ter sprake kom wanneer jy die dag sterf. Dit is ook ’n feit.
Ongelukkig, en dit is die punt van hierdie rubriek vandag, is daar diegene wat aan sulke mense die stories verkwansel wat hulle graag wil hoor. Pleks van die feite.
Ons kyk vandag na voorbeelde: polisse en trusts.
Maar eers, wat behels ’n persoon se boedel by sterfte?
Ingevolge art. 3 van die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) bestaan ’n persoon se boedel by dood uit sowel “eiendom” as “eiendom wat geag word eiendom te wees”.
Kortliks die verskil.
Eiendom
Eiendom is enige reg in eiendom, roerend, of nie-roerend en tasbaar, of nietasbaar. Dit sluit in nie net volle besit van die eiendom nie, maar ook die reg in of tot eiendom (voorbeelde hiervan kan ek dalk in volgende rubrieke behandel).
Belangrik vir vandag om te verstaan is dat, in die geval van ’n persoon wat gewoonweg in Suid-Afrika woonagtig is, dit alle eiendom insluit, waar ook al in die wêreld dit geleë is. Dit is uiters belangrik om te verstaan.
Dit sluit uit buitelandse eiendom wat die oorledene toegeval het voordat hy of sy ’n inwoner van Suid-Afrika geword het, of die eiendom verkry het van ’n nie-inwoner, of dit van ’n nie-inwoner geërf het.
In die geval van ’n persoon wat nie gewoonweg in Suid-Afrika woonagtig was nie, word net die eiendom en “geagte eiendom” in Suid-Afrika ingesluit in sy of haar boedel.
Geagte eiendom
Dit is eiendom wat streng gesproke nie deur die oorledene besit was nie, maar wat deur die Boedelbelastingwet spesifiek ingesluit is vir boedelbelasting. Dit word geagte eiendom genoem.
Daar is ’n paar voorbeelde van sulke geagte eiendom, maar vir vandag staan ek stil by een: die opbrengs op sekere binnelandse versekeringspolisse. (Kyk art. 3(3)(a) vir diegene wat lus is om met my hieroor te argumenteer.)
Daar is net drie gevalle waar polisse uitgesluit word. Kortliks is dit (1) polisse geskenk ingevolge ’n geregistreerde voorof nahuwelikse kontrak, (2) polisse uitgeneem ingevolge ’n behoorlike koop-enverkoop- ooreenkoms en (3) polisse uitbetaalbaar aan iemand anders as die oorledene se boedel, sy naasbestaandes of ’n familiesaak (jou tipiese sleutelpersoonversekering).
Buitelandse polisse
Soos hierbo genoem, kragtens art. 3(3)(a) word net binnelandse polisse in ag geneem as “geagte eiendom”.
Wat nou van ’n polis wat nie as ’n binnelandse polis beskou word nie?
As die opbrengs van ’n buitelandse polis uitbetaal aan ’n oorledene, wat ten tyde van sy of haar dood gewoonweg ’n inwoner van Suid-Afrika was, word dit ingesluit in die boedel vir boedelbelasting, nie as “geagte eiendom” nie, maar as eiendom. Dit is omdat daar ’n eiendomsreg op is wat voortbestaan in die oorledene se boedel.
As die opbrengs egter uitbetaal aan iemand anders as die ontslape persoon se boedel, sal dit nie inval vir boedel- belasting nie. Nie as “eiendom” of as “geagte eiendom” nie.
Maar, en dit is hoekom ’n mens nie te gou tot gevolgtrekkings moet kom nie, daar is ook nog art. 3(3)(d) van die Boedelbelastingwet.
Die artikel sluit in vir boedelbelasting eiendom waaroor die oorledene kort voor sy of haar dood in staat was om beheer te kon uitoefen tot sy voordeel of tot voordeel van sy boedel.
Nou, ná hierdie lang tegniese verduideliking, aanvaar maar net dit: Alle polisse op jou lewe word, ongeag of dit aan jou boedel of aan iemand anders uitbetaal word, ingesluit vir boedelbelasting (behalwe die drie gevalle hierbo genoem).
Trusts
Wat my bring by die sogenaamde familietrust. Dit het niks met polisopbrengste as sodanig te maak nie.
Wel met art. 3(3)(d) van die Boedel- belastingwet waarna ek hierbo verwys. Bates waaroor jy, dit hoef nie jou bates te wees nie, kort voor jou dood beheer kon uitoefen tot jou eie voordeel of tot voordeel van jou boedel.
Die gebruik van ’n trust is ’n baie gewilde metode om die waarde van ’n boedel te “bevries”, of selfs minder te maak, en so die waarde wat in jou boedel opgeneem word, te beperk en so te bespaar op boedelbelasting.
Die belangrike punt met trusts, en die enigste rede waarom dit ’n goeie instrument kan wees om boedelbelasting te beperk en vir volgende geslagte voorsiening te kan maak, is dat trustbates nie joune is nie. Dit is hoekom trusts sin maak.
Maar nou weet ek, en Jan Taks weet dit, en my kollegas in die bedryf weet dit, dat baie mense bates na ’n trust toe oordra vir die belastingvoordele.
Maar dan kan ’n trustee maak en breek soos hulle wil met daardie bates. Asof dit hul eie is.
En dan kan dit, ná jou dood, in jou boedel beland en belasbaar wees asof dit joune was, as “geagte eiendom”.
Nog raad
Toepassing van gelyke erflating
Ouers gaan soms uit hul pad om hul kinders finansieel te help.
Dit gebeur ook gereeld dat daar een of twee kinders is wat hulp nodiger skyn te hê as ander, en daarom ook meer gehelp word as die ander kinders.
Pasop egter vir die beginsel van inbringing, of dan collatio.
Die inbring-beginsel plaas ’n wetlike verpligting op afstammelinge wat erfgename is, hetsy by wyse van testament of intestaat (sonder testament), en is van toepassing op die verdeling van boedelbates deur vererwing.
Die grondslag hiervoor is te vinde in die vermoede dat ouers bedoel om hul kinders in gelyke dele te laat vererf.
Dit beteken dat sulke vooraf geskenke aan kinders ingebring word by die verdeling van bates uit die boedel. En dat lenings terugbetaalbaar sal wees. Dit word nie in die boedel self opgeneem nie, net in ag geneem by die verdeling van bates.
Die feit dat jy doelbewus spesifieke bemakings aan jou kinders gedoen het in jou testament, is nie genoegsame rede dat jy nie bedoel het om almal gelyk te laat erf nie.
Die eenvoudige oplossing is om in jou testament pertinent te bepaal dat collatio nie van toepassing sal wees nie. As dit jou bedoeling is.