Boedelbelasting is ’n perd van ’n ander kleur

Die dood en belasting is onvermydelik, maar wat as jy boedelbelasting wél kon beperk? Ontdek twee slim maniere om jou bates strategies buite jou boedel te hou en sodoende jou geliefdes se erfenis te beskerm.


Boedelbelasting is ’n perd van ’n ander kleur

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  22 Junie 2025

Daar is twee maniere om bates buite jou boedel te kry sodat dit nie aan boedelbelasting blootgestel word die dag wanneer jy hierdie wêreld groet nie, skryf Nico van Gijsen.

Dood en belasting, so lui die geykte ou uitdrukking, is al waaroor jy kan seker wees in die lewe.

Die dood kan jy nie systap nie.

Belasting ook nie. Maar jy kan dit beperk deur goeie – en laat ek dit beklemtoon – týdige finansiële beplanning.

Ek hoor sommige mense praat van skuiwergate.

Laat ek dit reguit stel: Skuiwergate bestaan nie. Dis altyd die een of ander skelm se manier om sy hande op jou geld te kry. Weet dit.

Daar is nie skuiwergate nie. Daar is net die wet. Glo dit.

Inkomstebelasting kan jy beperk deur eenvoudig minder te verdien. Inkomstebelasting op beleggingsgroei kan jy beperk deur van belastingvriendelike beleggingsgeleenthede gebruik te maak.

Boedelbelasting is egter ’n perd van ’n ander kleur.

Die boedelbelastingwet (45 van 1955) bepaal dat, by ’n persoon se dood, al sy bates, ongeag waar in die wêreld dit geleë is, ingebring word vir die berekening van boedelbelasting.

Wat ons by die vraag bring: Is daar ’n manier om bates buite jou boedel te kry sodat dit nie aan boedelbelasting blootgestel sal word die dag wanneer jy hierdie wêreld groet nie?

Ek dink aan twee. ’n Diskresionêre trust en ’n uittree-annuïteit (UA).

Trust

Bates in ’n trust val nie in jou boedel nie. Dis die trust se bates en kan dus nie in jou boedel opgeneem word vir boedelbelasting nie.

Die rede daarvoor is heel eenvoudig. Trustbates is nie jou bates nie.

Ongelukkig sukkel ek om hierdie mees basiese konsep van die trust-reg vir baie mense verstaanbaar te maak. Tussen hulle nogal sogenaamde regs- en rekeningkundige kenners.

Maar as dit reg bestuur word, is trustbates uit jou boedel vir boedelbelasting uitgesluit. Dis mos nie jou bates nie.

Uittree-annuïteit

Die voordele betaalbaar aan ’n begunstigde uit die opbrengs van ’n uittree-annuïteit (pensioenfondsgeld ingesluit) is spesifiek uitgesluit van die definisie van “eiendom” in art. 3(2)(i) van die Boedelbelastingwet.

Hierbenewens bepaal art. 37C van die Pensioenfondswet (24 van 1956) dat die voordeel uit so ’n fonds, uitbetaalbaar by dood van die fondslid, nie deel van die oorledene se boedel vorm nie.

Goed, in albei gevalle sien ons dat die bates uitgesluit is vir boedelbelasting. Waar is die vangplek?

Vangplekke

Bates in ’n diskresionêre trust kan wel in jou boedel beland.

Art. 3(3)(d) van die Boedelbelastingwet bepaal dat enige eiendom waaroor die oorledene kort voor sy dood tot sy eie voordeel of tot die voordeel van sy boedel kon beskik, as “geagte eiendom” in die boedel opgeneem sal word. En dit maak dit gevolglik belasbaar.

Dis ’n belangrike les en waarskuwing vir diegene wat hul familietrust bestuur asof die bates hul eie is.

Die geld in ’n UA het ook ’n stertjie.

Art. 3(2)(bA) van die Boedelbelastingwet bepaal dat dié deel van ’n oorledene se UA- bydraes wat nie voorheen aftrekbaar was ingevolge die Inkomstebelastingwet (58 van 1962) nie, as “eiendom” in die oorledene se boedel opgeneem sal word.

En dit maak dié deel dus belasbaar.

Belastings

Ons moet, soos met enige opsies in boedelbeplanning, ook wyer kyk. En belastings is vir my belangrik.

As jy ’n diskresionêre trust wil gebruik om jou beleggings te hou, is daar basies een manier om die geld in die trust te kry: Jy gaan dit moet skenk. Dit maak tog nie sin om geld aan ’n trust te verkoop nie, of hoe?

En dan is skenkingsbelasting betaalbaar (teen 20% op bedrae onder R30 miljoen en teen 25% op alle hoër bedrae). Jy het ’n jaarlikse vrystelling op geskenkebelasting van R100 000.

Om in ’n UA te spaar is makliker.

Jy skenk niks. Jy spaar. En jy het in ’n UA ’n jaarlikse aftrekking vir inkomstebelasting van die minste van R350 000 of 27,5% van jou inkomste.

Indien jy meer geld as dit spaar, kan jy dit in opvolgende jare vir inkomstebelasting aftrek.

En jou geld in die UA groei belastingvry.

Daarenteen word die groei op geld in ’n trust belas teen 45% op inkomste en 36% op kapitale wins.

Daarom beveel ek altyd aan dat waar geld deur ’n trust belê word, daar van polisse gebruik gemaak word as onderliggende bate. In ’n polis is die belastings onderskeidelik 30% en 12%.

Verdere oorwegings

Die hoofdoel met ’n trust is om vir ’n derde party (naasbestaandes of familie) voorsiening te maak.

Jyself kan wel ’n begunstigde wees, met die risiko van beheer daaroor neem soos wat ek hierbo noem. Verder is dit die trustees wat sal besluit oor of jy geld gaan ontvang, of nie.

Hierdie geld is dan belastingvry (mits dit nie as ’n annuïteit aan jou uitbetaal nie).

Die geld in ’n UA is vir jou doel. Jy kan jou inkomste, wanneer jy uittree, bepaal na gelang van jou behoeftes (binne perke).

Die inkomste is belasbaar in jou hande teen normale koerse (hou in gedagte dat jy daardie belastingvoordele geniet het toe jy gespaar het).

Daar is meer

Boedelbeplanning gaan oor veel meer. Dis maar twee oorwegings hierdie.

’n Trust is ’n baie meer buigsame instrument vir boedelbeplanning. Maar juis daarom is daar ook vele slaggate vir diegene wat nie geheel en al eerlik in hul bedoelings en uitvoering is nie.

Die sterk krag van ’n UA is sy belastingvoordele.

Maar soos ons weet, is belasting maar een element van boedelbeplanning. Daar is meer aan.

Scroll to Top