Kapitaalwinsbelasting (KWB) hoef jou nie onkant te betrap of vir jou slapelose nagte te gee nie. Wees net bewus daarvan en beplan daarvolgens.
Só werk belasting op kapitaalwinste
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 05 November 2023
Dit kan baie jare neem voor dié belasting jou tref.
Ons kyk vandag na kapitaalwinsbelasting ná verskeie vrae van lesers oor die afgelope maande.
Al is hierdie belasting al 22 jaar met ons, vang dit nog baie mense onkant. Dit is dalk juis die probleem, dit lê en wag vir jou. Dit is nie ’n belasting wat jy noodwendig elke jaar in gedagte moet hou nie, want dit kan baie jare neem voor dié belasting jou tref. Neem kennis hiervan en beplan daarvolgens.
KWB is nie ’n aparte belasting nie, soos ons sien met transaksiebelastings soos hereregte, BTW of geskenkbelasting nie. Dit is inkomstebelasting. En dit word gehef deur art. 26A van die Inkomste- belastingwet (Wet 58 van 1962) en gereël deur die 8ste bylae van dié wet. Die wet bepaal dat die netto belasbare kapitaalwins in ’n betrokke belastingjaar gevoeg moet word by jou belasbare inkomste waarop jou inkomstebelasting vir die jaar dan bereken word.
Dit werk dan so. Die belasting werk altyd met werklike markwaarde, nie die waarde waarteen jy die bate verkoop het nie. Jy begin dus met die markwaarde van die eiendom en hiervan trek jy af die “basiskoste” (dit is die aankoopprys, plus enige verbeteringe wat jy aangebring het). Die verskil is jou wins. Trek dan jou jaarlikse belastinguitsluiting(s) af. Van die bedrag wat oorbly, neem jy 40% en voeg dit by jou inkomste vir die jaar. Jy word dan belas op die totale inkomste, in ag genome verdere belastingkortings, volgens die geldende belastingskaal vir natuurlike persone. ’n Maksimum belasting dus van 18% op die kapitaalwins vir natuurlike persone.
KWB in trusts werk anders. Daar is geen belastinguitsluiting nie en 80% pleks van 40% word beskou as die wins, waarop belasting gehef word teen 45% en nie volgens skaal soos in die geval van natuurlike persone nie. ’n Belasting dus van 36% vir kapitaalwinste in trusts. Ek bepaal my by natuurlike persone vandag.
Belasting op eiendom kan skok
Die jaarlikse uitsluiting vir natuurlike persone tans is R40 000 (in die jaar van jou dood is dit R300 000). Baie mense verstaan dié uitsluiting verkeerd. Dit is ’n persoonlike inkomste- belastinguitsluiting – nie ’n vrystelling en ook nie ’n korting nie. Dit is per jaar en nie kumulatief nie. Dit gaan ook nie oor na gades by dood, soos byvoorbeeld die boedelbelastingkorting, nie.
As jy binne gemeenskap van goed getroud is en die bate wat verkoop word, is deel van die gemeenskaplike bates, sal elke gade die belastinguitsluiting van R40 000 geniet en die kapitaalwins ook 50% verdeel word. Daar is ’n lang lys van bates wat spesifiek ingesluit word vir die belasting, maar die bekendste vir Jan en Alleman is onder meer vaste eiendom, jou woonhuis, die strandhuis. En die aandelekomponent van jou beleggings.
Laasgenoemde trek jaarliks KWB soos wat aandele in byvoorbeeld effektetrustfondse verkoop word vir inkomste om te herbelê in ander aandele. Ek dink baie mense is nie eens bewus hiervan nie, dit word maar saam met die belastingopgawes ingedien.
Dis die KWB op vaste eiendom wat almal laat wakker skrik omdat die wins maklik miljoene rande kan beloop. Die som werk presies soos ek hierbo noem.
Daar is egter ander faktore ter sprake as die huis jou “primêre woning” is. En ’n verdere belastinguitsluiting. Die belastinguitsluiting op ’n primêre woning is R2 miljoen. Dit is op die huis, nie per gade as julle binne gemeenskap van goed getroud is nie.
Om te kwalifiseer as ’n primêre woning is daar drie vereistes. Dit is die huis waarin jy “gewoonweg” woon. Dit is jou “hoofwoonplek”. En dit moet gebruik word vir “huishoudelike” doeleindes. Belangrik hier is dat die huis hoofsaaklik as primêre woning moet dien, nie uitsluitlik nie. Net een primêre woning word vir die belastinguitsluiting toegelaat.
Daar is sekere toelatings as ’n man en vrou byvoorbeeld weens werkverpligtinge ver van mekaar af moet woon. Of waar jy byvoorbeeld in ’n nuwe primêre woning intrek, terwyl jy wag dat die vorige huis se verkoop deurgaan (maar nie as die vorige huis intussen verhuur word nie). Maar vir vandag volstaan ons hiermee.
Wat van KWB by dood?
Soos genoem in die jaar van jou dood verhoog die belastinguitsluiting tot R300 000. En dit gaan nie oor na ’n gade toe nie.
Die reg bepaal dat wanneer iemand sterf, word sy of haar bates vervreem en dit skep ’n geleentheid vir KWB. Bates wat na ’n langslewende gade oorgedra word, word oorgedra teen dieselfde basiskoste (kyk hierbo) as waarteen die bate verkry is. Dit is wat bekend staan as die “oorrol” van die KWB-verpligting.
Die “oorrol” is ook ter sprake by bemakings aan ’n lewensmaat waar die verhouding bedoel was om permanent te wees (ek het in onlangse rubrieke ’n paar keer hierna verwys). Die langslewende se wins wanneer die eiendom van die hand gesit word, sal bereken word op die oorspronklike basiskoste (wat na hom of haar toe “oorgerol” het). Ander erfgename verkry natuurlik die eiendom wat aan hulle bemaak is teen die nuwe basiskoste – die markwaarde by dood van die oorspronklike eienaar. Wanneer die ander erfgenaam die eiendom verkoop, sal die kapitaalwins uiteraard dus minder wees as sou dit aan ’n gade of lewensmaat vererf het.
Nog Raad
Dís hoe hereregte by vererwing werk
In die hoofrubriek het ek die kwessie van kapitaalwinsbelasting by dood en die vererwing van bates aangeraak. Ter volledigheid kyk ek kortliks hier na hereregte by dood.
Die Wet op Hereregte (Wet 40 van 1949) is ’n transaksiebelasting, wat ter sprake kom by die verkryging (aankoop) van vaste eiendom. In sekere gevalle kan die transaksie, pleks van hereregte, BTW trek. Maar dit sal altyd die een of die ander wees, nie albei nie.
Die goeie nuus is dat vaste eiendom wat vererf, anders as wat die geval is met KWB, in geheel van hereregte vrygestel is. Dit maak nie saak of die eiendom testamentêr bemaak is en of die oorledene glad nie ’n testament gehad het en sy bates intestaat vererf nie. Die erfgename kry die eiendom sonder om hereregte te betaal. Selfs in gevalle waar erfgename ’n herverdelingsooreenkoms aangaan. Al word bates van buite die boedel ingebring om die verdeling moontlik te maak, of waar ’n bemaaksom betaal moet word om te kan erf, sal die vrystelling steeds geld. Belangrik egter is dat die vrystelling net van toepassing is op erfgename. In gevalle waar eiendom uit die boedel gekoop word, selfs deur naasbestaandes van die oorledene, is hereregte wel van toepassing.