Dink jy ’n skenking is altyd ’n vrygewige, belastingvrye gebaar? Jy mag dalk verras wees oor hoe vinnig die belasting-hane kan kraai wanneer jy jou bates aan familie of vriende oordra — lees verder om uit te vind hoe om nie in Jan Taks se strik vas te val nie.
Belasting-hane kan wel kraai oor geskenke
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 14 September 2025
Skenkingbelasting kan die lekker uit ’n skenking haal. Maak seker jy verstaan hoe dit werk, skryf Nico van Gijsen.
Hier in die Kaap sou ons sê: Moenie nou al worrie nie, Krismis is nog ver. Dis as ons dink aan geskenke.
Waaroor baie mense egter wel bekommerd kan wees, is belasting. Die een op geskenke.
Ek hoor te veel stories van mense wat sommer ’n miljoen of drie aan kinders gee (skenk) en dink geen haan sal daarna kraai nie. Dit, en die aantal navrae oor geskenkebelasting van lesers wat juis dít in gedagte het, maar wil seker maak hulle beland nie aan Jan Taks se verkeerde kant nie.
Geskenkebelasting is nie ’n afsonderlike belasting nie. Die belasting word geskep in die Inkomstebelastingwet (58 van 1962) en word gehef op die oordrag van sekere eiendom van een persoon aan ’n ander.
Die wet funksioneer op twee vlakke. Die een is die skenk van bates aan iemand anders om só inkomstebelasting te vermy op die inkomste wat die bates lewer. Die ander is om, deur bates te skenk, só boedelbelasting by dood daarop te ontwyk.
Die belasting is 20% op die markwaarde van die eiendom wat geskenk word tot by ’n bedrag van R30 miljoen. Op die bedrag bokant R30 miljoen word belasting teen 25% gehef.
Elkeen is geregtig om jaarliks tot R100 000 te skenk wat van geskenkebelasting uitgesluit is. Lees hier onder hoe dit getroudes raak.
Wat is ’n skenking?
Met skenking word bedoel enige vrygewige wegmaak van eiendom. Dit sluit in enige kostelose afstanddoening van ’n reg op iets.
Ons howe het beslis dat ’n skenking slegs sal geld in gevalle van suiwer vrygewigheid of belangelose welwillendheid.
En nou die stertjie wat mense maklik kan uitvang, en dis ’n geagte skenking.
Wat is dit? Hier is ’n eenvoudige voorbeeld: As ek ’n bate van R80 000 vir R40 000 verkoop, kan ek belasting moet betaal op ’n geagte skenking van (R80 000 minus R40 000) R40 000.
Die waarskuwing lê daarin, vir al die lesers wat my daaroor vra: Jy kan nie jou huis, strandhuis of wat ook al vir goedkoop aan jou kind verkoop en dink jy kan geskenkebelasting ontwyk nie.
Eiendom en rente
Hier bo het ek geskryf ’n skenking gaan oor eiendom wat weggemaak word. Wat is eiendom?
Dit sluit in enige reg in of op eiendom, vaste eiendom of nie, of dit tasbaar is of nie, maak nie saak waar dit geleë is nie. Om gratis dienste aan iemand te lewer, sal byvoorbeeld nie as ’n skenking beskou word nie, want geen eiendom gaan oor van een persoon na ’n ander nie.
Weer eens, uit vrae van lesers, wat as jy ’n rentevrye lening aan iemand toestaan? Dit gaan hier oor jou reg om rente te hef, waarvan jy dan afstand doen.
Die ooreenkoms sal bepaal of dit beskou sal word as ’n skenking (die vrygewige afstanddoening van ’n reg op iets) of nie.
As die ooreenkoms sê rente is betaalbaar en dit word nie gehef nie, is dit ’n geagte skenking. Die rede is dat geld ’n tydwaarde het. Deur nie rente te hef nie, doen jy afstand van die reg op die tydwaarde van jou geld.
’n Wenk?
Stel die ooreenkoms so op dat dit lees dat die lening op aanvraag terugbetaalbaar is. Op dié manier ontwyk jy die tydwaardesom en dus die probleem van geskenkebelasting.
Neem asseblief daarvan kennis dat wetgewing sekere rentevrye of laerente-lenings aan trusts as skenkings beskou en onderhewig is aan geskenkebelasting.
Wat is uitgesluit?
Daar is ’n hele klompie uitsluitings. Ek noem kortliks enkeles wat ek meen gewone mense raak.
’n Skenking tot voordeel van ’n gade (onder wie mense wat in ’n saamwoon-verhouding is wat bedoel is om permanent te wees) is uitgesluit van geskenkebelasting, op voorwaarde dat hulle nie geskei is nie.
’n Interessante punt wat ek sien baie ’n fout mee maak, is die skenk van bates aan ’n trust tot voordeel van ’n gade. Om dit korrek te doen, korrek in die sin van seker maak dat geen geskenkebelasting gehef sal word nie, moet die gade ’n gevestigde reg in die trustbate kry.
Waar die bate aan ’n diskresionêre trust geskenk word en die gade nie die enigste begunstigde is nie en die trustees ’n diskresie het oor die verdeling van trustkapitaal of trustinkomste aan enige begunstigde, sal dié uitsluiting nie geld nie. Pasop daarvoor. Ek sien dit te gereeld.
Gades wat binne gemeenskap van goedere getroud is, besit die gemeenskaplike boedel om die helfte. Elke gade het dus ’n reg op die jaarlikse geskenkebelastinguitsluiting van R100 000. As een byvoorbeeld R50 000 skenk, kan die ander een R150 000 in ’n jaar skenk sonder om geskenkebelasting te betaal.
Wanneer betaal jy dit?
Geskenkebelasting is betaalbaar aan die einde van die maand wat volg op die maand waarin die geskenk oorgemaak is. Geskenkebelasting word bereken per skenking en nie oor ’n jaar of ’n tydperk van aanslag nie.
Die skenker is die een wat die belasting moet betaal. As hy of sy versuim om dit te doen binne die voorgeskrewe tyd, kan hy of sy, tesame met die ontvanger van die skenking, gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik gehou word.
Skenkingbelasting kan die lekker uit ’n skenking haal. Maak seker jy verstaan dit en vra ’n belastingkundige as jy twyfel.