Meer oor lewenspolisse… ‘n Lewenspolis kan ‘n waardevolle bate wees, maar dit belangrik om sorgvuldige oorweging te gee aan die potensiële uitdagings en belastingimplikasies daarvan. Loop lig vir polissmouse wat net aan hul eie sak dink en nie eens die mees basiese beginsels van die reg ken en verstaan nie; kry kundige finansiële advies.
Wat jy als oor lewenspolisse moet weet
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 12 November 2023
Moenie swig voor smouse wat reg nie eens mooi ken
Ek kry so baie vrae van lesers oor lewenspolisse dat ek meen dis dalk ’n goeie idee om vandag ’n paar voorbeelde aan te raak. Ek wil die waarde van ’n lewenspolis beklemtoon, maar ook wys op die twak wat kwytgeraak word deur polissmouse wat net aan hul eie sak dink en nie eens die mees basiese beginsels van die reg verstaan nie.
Die eerste voorbeeld kom van ’n leser wat wou weet wat dink ek van ’n sekere maatskappy se polis. Natuurlik lewer ek nie kommentaar nie – dit sou oneties wees, want ek is self in die bedryf en het kontrakte met versekeraars wat konkurrente kan wees. Maar toe slaan hy my byna stom met die rede vir die polis.
Hy het die agent van die versekeraar genader vir ’n polis wat bedoel was om vir sy vrou te voorsien ná sy dood. Op sy ouderdom was die polis te duur. Maar polissmous se kind laat hom nie afskrik deur feite of behoeftes nie. Hy verkoop steeds ’n polis aan die man. Maar op sy vrou se lewe. Laat ek dit in Afrikaans verduidelik: Die man besit die polis. Hy betaal daarvoor. Maar sy vrou se lewe is verseker. Dit betaal uit wanneer sý sterf. Om vir háár te sorg?
Polis op die lewe van ’n ander
Ek kan baie hieroor sê, maar sal dit kort hou: Loop maar lig as jy (gewoonlik gratis) finansiële advies by die verkoopsagent kry. Die tweede voorbeeld het juis te doen met ’n polis wat een persoon uitneem op die lewe van ’n ander.
’n Leser het laat weet dat sy vrou ’n polis op sy lewe uitgeneem het. Sy is die eienaar daarvan en betaal die premie. Toe skei die twee. Dit bekommer hom. En ek wonder, vrees hy dalk dat die huweliksformulier se “tot die dood ons skei” so ’n bietjie finansiële woema bygekry het?
Daar is niks mee verkeerd nie. En daar is niks wat hy daaraan kan doen nie. Sy is die eienaar van die polis en die versekeraar se kontrak is met haar. Solank as wat sy die premies betaal, moet die versekeraar sy ooreenkoms met haar nakom. Wanneer hy sterf, kry sy die geld. Maar hier is nou die interessante stertjie. Benewens haar nuwe rykdom, danksy haar eks se heengaan, kan sy boedel dalk ’n verdere geldjie moet afstaan. Te danke aan die polis.
’n Polis op jou lewe, al betaal dit uit aan iemand anders, die eienaar daarvan of nie, is geagte eiendom in jou boedel. Ja, ek weet daar is agente (lees hierbo) wat snert praat. Dit is die waarheid. Al betaal hy buite jou boedel aan iemand anders uit, is dit steeds ’n geagte bate in die boedel van die oorledene en vatbaar vir boedelbelasting. En dis met boedelbelasting waar ons geval onder bespreking ’n geldslang kan ingooi.
Bemakings is aftrekbaar vir belasting
’n Bemaking aan ’n oorlewende gade, ingesluit die begunstiging van ’n polis, of as die oorlewende gade self die polis besit het soos in ons geval is aftrekbaar vir boedelbelasting. Maar ons tweetjies is nie meer getroud nie. Die aftrekking geld nie meer nie. Die goeie nuus is nou dat sy die boedelbelasting, wat deur die polis getrek word, moet betaal. Klink mos regverdig. Die slegte nuus is egter dat die belasting wat deur die polis getrek word, net pro rata as deel van die totale bedrag boedelbelasting deur haar betaal word. Klink steeds regverdig. Hier is nou die knypertjie: Sonder die polis wat aan sy eks uitbetaal, kon sy boedel dalk geen boedelbelasting moes betaal nie. Maar met die poliswaarde bygetel, skep dit dalk boedelbelasting. ’n Belasting wat, volgens die manier waarop die berekening gedoen word, ’n belastinglas vir sy erfgename kan skep wat daar andersins nie sou wees nie.
Hoe jy om die probleem kan kom
Die manier om verby hierdie probleem te kom, is om ’n voor- of na-huwelikse kontrak te sluit ingevolge waarvan die polis uitgeneem word. Dit sal die polis dan uitsluit van boedelbelasting. Net ’n verdere punt: Omdat die vrou in ons voorbeeld die poliseienaar was en die premies daarop betaal het, is die totale premies plus 6% rente per jaar aftrekbaar van die opbrengs voor boedelbelasting bereken word. Die derde voorbeeld is weer van polissmouse wat wil slim klink, maar nie verder as hul kommissie dink of kan dink nie. Moenie dat jou lewenspolis aan jou boedel uitbetaal nie. Jy moet dit begunstig, want dan bespaar jy op die eksekuteursgeld. En dit val nie in vir boedelbelasting nie. Oor laasgenoemde stukkie bog het ek reeds hierbo die feite gestel. Die eksekuteurstarief is waar, maar dit kan ook baie dom wees. Boedels het geld nodig. Soms meer as wat jy dink. Daar is sterfbedkoste. Dink aan ’n lang siekte. Daar is uitstaande belastings. Inkomstebelasting, sowel as kapitaalwinsbelasting. En daar is erfgename wat jy wil hê moet erf. Maar as al die boedel se kontant gebruik moet word om boedelverpligtings na te kom, sal erfgename met natgehuilde, hartseer oë maar droëbek moet toekyk hoe hul erfporsies onder hul neus verkoop word om die boedel se finansiële verpligtings na te kom. En jy wou bespaar op die eksekuteurstarief? Kry kundige finansiële advies. Dit is maklik om ’n lewenspolis te koop. Maar dit kan jou knyp wanneer jy niks meer daaraan kan doen nie.
Nog raad
Dié polisse is uitgesluit van boedelbelasting
Ter aansluiting by die hoofrubriek vandag, daar is sekere polisse wat uitgesluit is van boedelbelasting. Daar is drie gevalle wat ek kortliks hier noem. Let tog daarop dat in elke geval daar ’n spul voorwaardes is waaraan voldoen moet word voor die uitsluitingsgeld. Koop-en-verkoopsooreenkomste: Polisse uitgeneem deur ’n vennoot of mede-aandeelhouer ingevolge ’n koop-en-verkoopsooreenkoms, waar die premies betaal is deur die begunstigde van die polis, is geheel en al uitgesluit van die boedel van die oorledene. Polisse op die lewe van ’n ander: Die bekendste voorbeeld van dié soort polis is die sogenaamde sleutelpersoonversekering.
Dit is bloot ’n polis op die lewe van ’n ander persoon, as Jan Taks tevrede is dat onder meer: Die polis nie uitgeneem is op aandrang van die oorledene nie; Geen premie deur die oorledene betaal is nie; en Geen deel van die polisopbrengs in die boedel van die oorledene sal uitbetaal of ten gunste van sy of haar naasbestaandes gebruik word nie. Polisse ingevolge ’n geregistreerde voor- of ná-huwelikse kontrak: ’n Polis wat uitbetaal aan ’n oorlewende gade of kind van die oorledene ingevolge so ’n geregistreerde kontrak, is in geheel vrygestel van boedelbelasting. Daar is geen perk op die bedrag nie.