Maak testament deel van jou vakansieplanne

Die noodlot tref nie net ander mense nie… Dis juis daarom dan belangrik om gereeld jou testament te laat hersien deur ‘n kundige.


Maak testament deel van jou vakansieplanne

Deur Nico van Gijsen Rapport: Raad met jou rande   10 Desember 2023

Gereelde hersiening net so belangrik as aanvanklike opstel

Ek wil nie graag die vakansietyd ingaan op ’n somber noot nie, maar ek wil tog iets beklemtoon vandag: Maak seker jou testament is reg voordat jy op vakansie vertrek.

Nie almal kom huis toe ná die Kersvakansie nie. Die paaie en die see eis elke jaar ’n tol. En sal vanjaar weer. Die lewe gebeur nie net met ander mense nie; dit kom jou kant toe ook.

Jy kan die noodlot nie bepaal nie. Jy kan dit nie eens beïnvloed nie. Jy kan egter wel voorsiening maak vir die gevolge. Doen dit en doen dit betyds.

Al het jy ’n testament, is dit noodsaaklik dat jy van tyd tot tyd jou testament hersien om seker te maak dit voldoen nog aan jou wense. En daarvoor is kundige hulp nodig. Om sommer gou by iemand in te loer vir ’n testament is eenvoudig nie goed genoeg nie. Daar moet behoorlike denke ingaan; dit het gevolge.

Hier is ’n paar kwessies wat ek net kortliks uitlig.

Hersien jou testament

“Ek het ’n testament,” is bloot nie goed genoeg nie. Ek weet van ’n geval van iemand wat ewe tevrede met homself dit genoem het teenoor ’n kollega.

Maar sy vrou het sterk gestaan en aangedring daarop dat hy die testament gaan haal en vir my kollega wys. Groot was die skok toe hulle sien die man het alles, maar alles wat hy besit, bemaak aan ’n vorige liefde van meer as 20 jaar gelede. Dit is vinnig reggestel.

Vroulief het my kollega die dood voor oë gesweer as hy durf loop sonder dat hy eers vir haar man ’n nuwe testament opgestel het.

Herroep vorige testamente

Maak seker jy herroep jou vorige testamente en bevestig dat hierdie jou laaste testament is. Dit behoort standaardpraktyk te wees, maar met die hedendaagse sny-en-plak-gebruik by baie mense gaan dit soms verby.

Terselfdertyd, as jy byvoorbeeld buitelandse bates (byvoorbeeld beleggings) het met ’n afsonderlike testament wat met daardie bates handel (dit is in die meeste gevalle nodig, so as jy nie het nie, kyk daarna), maak dan seker dat jy nie alle vorige testamente herroep nie.

Soos ek hierbo sê, sorg dat daar ’n bietjie dinkwerk ingaan voordat jy sommer enige dokument inderhaas onderteken. Dit gaan jou nie inhaal nie. Jy is dan al (hopelik) in ’n saliger omgewing. Dit is jou naasbestaandes wat met ’n onheilige debakel gaan sit.

Jy kan bemaak soos jy wil

Geen bemaking is bindend nie. Jy kan te enige tyd jou goed bemaak aan wie jy wil, soos jy wil.

Ek kry gereeld navrae van lesers wat van mening is dat omdat hulle, man en vrou, ’n gesamentlike testament opgestel het dit hulle bind tot daardie dokument vir nou tot in ewigheid.

Dit is nie so nie.

Jy kan, sonder om eens die ander party daaroor in te lig, jou testament herroep en ’n nuwe een opstel. ’n Gesamentlike testament is op sy beste in elk geval maar twee testamente vervat in een dokument. Soms om praktiese redes gedoen, maar baie keer bloot om sentimentele redes.

Pactum successorium

Daar bestaan nie iets soos ’n testament wat “só opgestel is dat dit nie verander mag word nie”. Die Suid-Afrikaanse reg erken elkeen se vryheid om te bemaak. En dit is ’n byna onbeperkte vryheid.

Wat ek wel wil beklemtoon in die lig van wat ek hierbo sê: Enige ooreenkoms met ’n ander persoon om op ’n bepaalde manier te bemaak, is ’n sogenaamde pactum successorium, en is uit die staanspoor ongeldig. Met ander woorde, of dit nooit bestaan het nie.

Ondertekening is belangrik

Dit is belangrik dat die regte prosedure gevolg word met die ondertekening van ’n testament.

Ek het al navrae, of verwysings daarna, van lesers gehad wat meen ’n testament moet voor ’n kommissaris van ede, byvoorbeeld by die polisiekantoor, onderteken word. Dit is nie so nie.

Jy kan wel jou eie testament opstel (as jy so dapper wil wees). Die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) vereis slegs dat jy jou testament onderteken in die teenwoordigheid van twee bevoegde getuies, wat dit mede-onderteken. As die testament meer as een bladsy beslaan, dan moet jy onderaan elke bladsy teken en die getuies ook.

Enigeen wat van jou wil erf, moet liefs nie teken as getuie nie. Die wet bepaal dat so ’n getuie, ingesluit die gade van daardie persoon, nie mag erf nie. Dis maar een van die gevolge van “dapperheid” met ’n eie testament.

Ja, ’n hof kan hierdie diskwalifikasie tersyde stel as die hof meen daar was geen bedrog betrokke nie. Maar hoekom jou naasbestaandes eers in ’n hof wil laat gaan kuier voordat hulle hul erfgoed kan kry?

Dood wag nie

Mense gaan nie in volgorde dood nie. Jou testament moet dus so opgestel wees dat dit nie net bepaal wie van jou sal erf nie, maar ook die “wat as” in ag neem.

Wat as jou erfgenaam dan al dood is (en jy nie geluister en jou testament nie gereeld hersien het nie)? Of die erfgenaam weier om sy of haar erfenis te aanvaar? Ja, dit gebeur. Maak seker jy verstaan voordat jy teken.


Nog raad

Wetlike vereistes vir ’n testament

Ek noem in die hoofrubriek dat elkeen geregtig is om sy of haar eie testament op te stel. Jy kan dit self doen ook (as jy dapper is).

Maar daar is ’n paar vereistes in die Wet op Testamente (Wet 7 van 1953) waar jy nie verby kan kom as jy wil hê jou dokument moet as ’n testament beskou word (sonder dat ’n hof dit moet gaan sê) nie.

Wie mag ’n testament opstel?
Enige persoon bo die ouderdom van 16 jaar wat geestelik daartoe bevoeg is en die aard en gevolg van sy of haar handeling verstaan, mag ’n testament opstel.

Ondertekening: Die testament moet onderteken word deur die testateur in die teenwoordigheid van twee getuies. Dit sluit in die maak van ’n merk (met sekere verdere voorwaardes). Elke bladsy moet aan die einde daarvan, sowel as op die laaste bladsy onderteken word.

Bevoegde getuies: Enigeen bo die ouderdom van 14 jaar, wat nie onbevoeg is om in ’n hof te getuig nie, mag as getuie teken. Soos genoem in die hoofrubriek, getuies mag nie erf nie (tensy ’n hof anders beslis).

Wysigings: Wysigings aan ’n testament is ongeldig, tensy dit (kortliks en breedweg) voldoen aan dieselfde vereistes as vir die ondertekening van die testament.

Scroll to Top