Kersvader bly ’n geliefde deel van ons Kersfeesvieringe, en in hierdie artikel verken ons die waarde van ’n spesiale Kerskous met ’n ietsie ekstra. Ontdek hoe om vir jou kleinkind ‘n belastingvrye spaarplan te skep wat groei en ’n toekomstige Kersgeskenk kan vervul.
Só kan Kersvader weer en weer kom
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 24 Desember 2023
Belê en gee Kersfees vir jou kleinkind spaargeld wat groei
Ek glo almal van ons wat klein kinders of kleinkinders het, sal weet, Kersvader bestaan. En in my huis kon eers “Vader Kers” en deesdae “Oupa Kers” enigiets doen. Hy kan selfs Kersfees uitstel. Of vervroeg. Meestal vervroeg. Dit vind groter byval by opgewonde grootoë.
Die regte Kersvader verstaan dat ons ons Kersfese liewer vroeër maak. Dit voorkom dat hy met ’n takbok, slee en sy rooi winterklere in die Kgalagadi-oorgrenspark moet kom besoek aflê. Dit is somer in die Kalahari. Veertig grade. En die leeus sal ’n takbok net een kyk gee, dan sit hulle aan vir hul eie Kersete.
Maar op Kersoggend self verskyn daar tog vier Kerskouse aan hakies. Iets kleins. Dit is mos darem regte Kersdag, glo “Ouma Kers”, en dit kan nie heeltemal geïgnoreer word nie.
Dit is waaroor ek vandag wil gesels.
Daardie Kerskous, die een met die ekstra ietsie in. Die een van veral die oumas en die oupas. Wat sit jy in daardie Kerskous?
Nee, nie geld nie. Geld brand soms erger as daardie Kalahari-son en dan wil baie mense so vinnig moontlik daarvan ontslae raak.
Geld wat groei
Ja, tog geld. Maar nie geld wat brand nie. Geld wat groei. Geld wat elke jaar ’n eie Kersgeskenk bring. Spaargeld. ’n Belegging, hoe klein ook, wat kan groei en meer word.
Ek het hierbo verwys na “opgewonde grootoë”. En ek is ook al lank genoeg en nou genoeg betrokke by die wêreld van kinders om te weet dat ’n stukkie papier in ’n Kerskous wat lui “Belegging vir . . .” nou nie juis die mees opwindende gebeure op daardie Kersoggend gaan wees nie.
Daarom wil ek twee punte uitlig voordat ons kyk na die waar en hoe van hierdie langtermyngeskenke.
Kinders is kinders. Speelgoed en verrassings tel meer as verantwoordelikheid en spaarsamigheid.
Daarom dat ek meen die Kerskous met die ietsie ekstra in kan die eerste stap wees. Die “groot” geskenk is daar. Die Kerskous bring die “ekstratjie”.
Die tweede punt is een van betekenis. En dit lê in die boodskap.
“Dit is belangrik dat ’n mens spaar. “Ouma het vir jou ’n eie belegging oopgemaak en betaal elke maand R500 vir jou daarin. Dit is vir jou studie eendag.” Nee. Dis sommer vervelig.
Koppel dit aan iets. Iets waarvan die kind droom. Alle kinders droom. En die meeste nie oor studeer nie. Is dit ’n oorsese reis? ’n Eie bakkie? ’n Motorfiets? ’n Eie jaggeweer? ’n Kamera soos Oupa s’n? Die wat maak nie saak nie. Daardie kind gaan nog 100 keer van drome verwissel. Solank hy of sy droom.
Hou jy net die droom aan die gang. Die feit is, as jy weet waarvoor jy spaar, sal jy spaar. As jy nie weet nie, is dit soos geld wat jou sak brand.
Dieselfde geld vir grootmense. Om te sê jy moet spaar vir aftrede is ’n vervelige uitstel-manier van doen. Maar as jy spaar met ’n doel, byvoorbeeld, ek wil op 65 jaar vir my ’n nuwe kar koop, oorsee reis of wat ook jou dryf in die lewe. Dan neem jy beheer oor. Dan gebeur dinge.
Tot hier die filosofie agter alles. Hoe en waar en hoeveel?
Die hoeveel gaan bepaal word deur jou finansiële vermoëns. Kyk maar wat jy kan afknyp. Maar wees realisties. Veral as jy maandeliks wil bydra.
Kom ons neem aan jy begin met net R500 per maand. Die kind is sê maar ses jaar oud. Teen die tyd dat hy of sy 18 jaar oud is en dalk saam met ’n skool- of Voortrekker- groep êrens oorsee wil gaan kuier, kan daardie geldjie tot meer as R140 000 gegroei het.
Kan jy dink, hoe lekker, my ouma se Kersgeskenk in 2023 het hiervoor betaal.
Belastingvrye spaar
Ek het dit verlede week ook genoem in die “Nog raad”-kassie.
Dit is ’n goeie beleggingsproduk, want daar is geen belasting betaalbaar op die groei nie.
Vir klein bedrae is dit nou nie veel om oor huis toe te skryf nie, maar as belasting ’n faktor begin raak, dan kan dit betekenisvol wees.
Jy kan tot R36 000 per jaar vir elke kind so belê, met ’n lewensbeperking van R500 000. Belê dit in die kind se naam. Dit sal keer dat jy later die geld gaan onttrek, want as dit in die kind se naam is, kan net die kind dit onttrek en hy of sy sal eers ’n eie bankrekening moet oopmaak.
Net terloops.
Polis
’n Polis is ook ’n goeie manier om te spaar. Versekeraars noem dit graag ’n studiepolis, maar dis sommer om vir Ouma en Oupa sag te maak. Daar is geen plig oor hoe om die geld te gebruik nie en kyk wat sê ek hierbo oor die kind self opgewonde maak oor sy of haar spaar.
Die ding met die polis is dat jy jou eie lewe daarop kan verseker. Wat beteken dit?
Kom ons sê jy spaar elke maand vir jou kleinkind, sê maar R500. Maar, soos enigeen van ons kan jy doodgaan. Wie spaar dan vir die kind?
Met ’n polis kan jy jou lewe daarop verseker. En as jy sterf, betaal die versekeraar die premies verder totdat die polis uitkeerdatum bereik.
Watter groot geskenk sal dit nie wees nie?
Nog raad
Dink aan lewensversekering as ’n geskenk
Om aan te sluit by die onderwerp van die hoofrubriek vandag, kom ons kyk na die vraag of lewensversekering ook ’n geskenk kan wees.
Ja, maar natuurlik nie vir hierdie Kersfees nie. Dis die een geskenk met ’n lewensbeëindigende voorwaarde. Jy gaan nie ’n lewenspolis koop om vir iemand as geskenk te gee nie.
Maar tog, dit kan vir iemand vreugde bring. Ons gaan tog almal dood.
Wat as jy reeds ’n polis het? Wat as die doel van die polis, byvoorbeeld om skuld te dek, nou agter die rug is? Moet jy dit kanselleer of hou jy dit?
Ek meen hou dit, as jy enigsins kan. Die rede is dat jy al vir soveel jare premies op die polis betaal het en as jy dit nou kanselleer, verbeur jy dit alles.
Ek weet baie mense verstaan dit nie mooi nie en voel jy kry niks vir jou premies op ’n lewenspolis nie. Dis nie waar nie. Jy het al die jare dekking gehad.
My punt is, hoekom dit nou weggooi? Om seker te maak dat jy nie al daardie geld in die water gegooi het nie, hoekom dit nie aanhou betaal en die polis begunstig aan byvoorbeeld kleinkinders nie?