’n Oumawoonstel? Dink eers mooi en doen dit reg

Baie ouers dink op ’n stadium daaraan om ’n sogenaamde “oumawoonstel” te bou – maar wat klink na ’n slim plan, kan jou finansieel duur te staan kom as jy nie vooruit beplan nie. Hierdie artikel wys jou die verborge slaggate én hoe jy dit reg kan aanpak om jou gesin se toekoms te beskerm.


’n Oumawoonstel? Dink eers mooi en doen dit reg

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  07 September 2025

Baie mense kom die een of ander tyd, so êrens tussen ouer wees en oud wees, te staan voor besluite rondom kinders. Veral oor kinders help. Met geld.

Een van die onderwerpe wat gereeld in vrae van lesers opduik, is die sogenaamde oumawoonstel.

Ek is nie seker hoekom dit juis oumawoonstel heet nie. Is dit ouderdom? Wat van ’n mammawoonstel? Of ’n pappawoonstel?

Ek dink “ouma” versag die sielkundige impak van wat besluit moet word.

Nietemin. Die gedagte van ’n oumawoonstel is dat ouers uit die huis trek en vir hulself ’n woonstelletjie laat bou om in te woon.

Finansiële oorweginge

Hier is ’n paar punte om te oorweeg.

Geldelik is dit nie altyd ’n goeie idee nie. Die kind is gewoonlik reeds finansieel in die knyp. Dit is tog hoekom Ma en Pa moet help met blyplek.

Moenie op ’n huurkontrak alleen vertrou nie. Ouers dagvaar nie sommer hul kinders nie. Is jou aftreegeld genoeg om twee gesinne te onderhou?

Sou die kind wel sy huur betaal, gaan Ma moet registreer as voorlopige belastingbetaler en inkomstebelasting op die huurinkomste betaal.

As sy die een is wat die verbandlening by die bank moet aangaan (omdat dit meesal ’n kinderhelpprojek is en selde ’n oumahelpprojek), gaan sy die rente daarop moet betaal. Sy sal nie ’n belastingaftrekking daarop kry nie omdat die huis deur ’n familielid bewoon word.

Ma gee ook grootliks haar R2 miljoen-uitsluiting op ’n primêre woning ten opsigte van kapitaalwinsbelasting (KWB) prys. Die gewone KWB-uitsluiting op ’n primêre woning sal pro rata toegepas word oor die tyd dat die huis werklik haar primêre woning was.

Die verhoogde waarde van die eiendom skep ook ’n verhoogde waarde vir boedelbelasting by haar dood. Maar daar is ’n oplossing hiervoor, kyk verderaan.

Die lewe en sy draaie

Die probleem met probleme lê in dit wat jy nie weet nie. Dit is baie soos ervaring. Jy kry dit eers nadat jy dit nodig gehad het.

Hier is enkele gedagtes.

’n Mens beplan altyd binne ’n stel omstandighede. Jy kan net beplan met die kennis van die nou.

Maar omstandighede verander.

Wat as een, of albei, ouers in die oumawoonstel verswak raak? Ouer mense kan gou bagasie raak vir kinders. Hoe gaan die kinders dit hanteer? Wat as die ouers so verswak is dat hulle in ’n versorgingsoord opgeneem moet word?

In een so ’n geval is ’n jong vrou se man, die seun van die ouers aan wie se huis die oumawoonstel gebou is, oorlede. Hy het nie juis vir haar voorsiening gemaak nie. Met albei ouers in ’n versorgingsoord, moes die huis verkoop word om die koste van die ouers se verblyf in die versorgingsoord te help dek.

Die vrou het dus nie net haar man verloor nie, maar ook haar huisvesting. Omdat daar nie gedink is nie.

Die kinders se eie omstandighede kan ook verander. Wat as een of albei van hulle ernstig siek raak, of ongeskik raak om te werk? Met geen of minder inkomste – en teen daardie tyd al eie kinders – wie gaan instaan vir hul geldelike behoeftes?

Die feit is, die lewe gebeur. Hy vra nie eers hoe dit jou gaan raak nie.

Maar ons kan voorsiening tref vir die finansiële gevolge daarvan.

Voorstelle

Lesers sou nou al agtergekom het dat ek maar effe skepties is oor oumawoonstelle. Maar dit is nie te sê dat dit nie kan werk nie.

Ons los maar die persoonlikheidsverskille en die spanning wat dit kan veroorsaak met die half-saamblyery, veral tussen skoondogter en skoonma. Ek hou my maar by die geldkwessies.

Baie mense is skepties oor risikodekking. Die waarheid is egter dat daar nie ’n enkele vraag is wat ek hierbo vra, waar die antwoord nie lê in genoegsame risikodekking nie.

Ek dink hier veral aan lewens- en gevreesdesiektedekking. Ja, dit vereis ’n premie. Maar jy, of dan julle, het die gemoedsrus dat as die lewe jul planne deurmekaarkrap, is daar geld.

Ouer mense moet liewer ook nie sommer hul polisse kanselleer omdat dit kwansuis nie meer nodig is nie. Hou dit in stand. Kyk wat ek hierbo noem. ’n Geldelike meevaller in ’n tyd van nood is wonderlik. Dit kan selfs die trane van hartseer afvee.

Die oorblywende vraag is nou, hoe hanteer jy die boedelbelastingprobleem waarna ek hierbo verwys?

Dit is belangrik dat die ma (ons weet mos nou dis nie ouma nie, dis ma) die aard van die ooreenkoms met die kind in haar testament aanspreek.

Die Boedelbelastingwet (45 van 1955) laat toe dat die waarde van verbeteringe aangebring aan eiendom wat by dood oorgaan na die persoon wat daarvoor betaal het, aftrekbaar sal wees vir boedelbelasting in die bestorwe boedel.

Stap een is dus dat die kind self moet betaal vir die woonstel se aanbou.

Die tweede vereiste is dat die verbeteringe aangebring moes gewees het met die instemming van die oorledene. Maak seker die testament hanteer dit só.

Dit is belangrik, want dit is nie net die waarde van die verbeteringe toe dit aangebring is wat aftrekbaar gaan wees vir boedelbelasting nie. Dit is die waarde van die verbeteringe (woonstel) op die dag wat sy dood is, wat aftrekbaar is.

Kry dit op rekord. Op skrif.

Scroll to Top