Onderdanigheid en die rol wat geld speel in die handhawing van hierdie dinamiek is al te veel ‘n realiteit vir vroue. Dis belangrik om jou eie finansiële onafhanklikheid na te streef.
Onderdanig is soos om ’n slaaf te wees
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 14 Januarie 2024
Vroue ly te dikwels nog onder ongelyke geldelike praktyke
My oë het die afgelope week oopgegaan. Ek en my vrou sien dinge al hoe meer eenders.
Sy krap nou net so diep. En net so lank. En sukkel net so hard om ’n bakkie met ’n bypassende deksel te kry. Iets waaroor ek al jare kla. Maar elke keer moes ek hoor hoe ek teen my ooglede vaskyk.
Nou is daar twee van ons. Of ek was heeltyd reg.
Maar uiteindelik is ons nou meer gelyk.
Met ons geldsake al lankal so. Al dink Absa anders.
My vrou het volmag oor ons bankrekening. Sy kan dit leeg trek, as sy wil.
Maar Absa laat haar nie toe om haar wettige jaarlikse buitelandse-valuta-toegewing te benut nie. As ons wil buiteland toe moet ek persoonlik ingaan bank toe en self teken. Vir my deel, sy kan haar toegewing nie gebruik nie omdat sy nie ’n “eie” bankrekening het nie. Onnosele redenasie.
En dit is my punt vandag. Ons dink vroue is in alles gelyk, maar hulle is nie. En ek dink dit is tyd dat mans daaroor begin praat, nie net die vroue nie.
Die kwessie van ‘onderdanige vroue’
Lynthia Julius se rubriek Om anners te dink (Rapport Weekliks, 7 Januarie) verduidelik dit. Ek haal aan daaruit (die woorde van vroue wat haar grootgemaak het): “Leer da ’n slag van onderdanig wees. Daar’s nie ’n man wat ’n vrou wil trou wat nie onderdanig is nie.”
Ek het al iets soortgelyk gehoor van ’n boer se vrou toe die droogte daar in die Noord-Kaap so erg was. “Dit is die Here se manier om julle te straf omdat julle nie aan jul mans onderdanig is nie.”
Ek en aggressie is nie vreemdelinge vir mekaar nie. En ek ken woorde wat nie hier publiseerbaar is nie. Ek het my tot albei gewend. Hoorbaar. Verstaanbaar. Direk.
Onderdanigheid is nie veel erger as slawerny nie. Dit is net meer aanvaarbaar omdat een of ander javel dit in die Bybel gaan skrywe het, en dit dus vir die huwelikslawedrywers makliker maak om as verskoning te gebruik vir hul selfsugtigheid.
En indien iemand tot hier gelees het en wonder wat die punt van dit alles in ’n geldrubriek is: Geld speel ’n rol. ’n Uiters belangrike rol.
Deur geld te weerhou of te beperk onder voorwaardes is ’n manier om beheer uit te oefen. Om baasskap te eien. Dit ontneem die ander menswaardigheid. Hou daardie persoon onderdanig. ’n Slaaf.
Om terug te kom na die aanhaling uit Lynthia se rubriek. Hoekom sal ’n man “nie ’n vrou wil hê wat nie onderdanig is nie”? Dis mos snert.
Watter man wil dit hê vir sy dogter? Watter man vir sy kleindogter? En tog sien ek boere wat die plaas bemaak aan die seun, of hy nou wil boer of nie. En niks aan die dogter nie. Sy kan trou en haar man moet vir haar sorg. Ek het dit al self gehoor, dis nie uit die duim gesuig nie.
Dalk kan ek help met ’n voorstel of wat. Maak jou dogter of kleindogter van jongs af bewus daarvan dat hoewel daar sekere verskille tussen seuntjies en meisietjies is, die een nie meer status as die ander het nie. Of, soos ek nou die dag aan my kleindogter verduidelik het, “as jou doelwit is om beter as die seuntjies te doen, my kind, dan is jou visier baie laag gestel; mik hoër”.
Daar is g’n ridder op ’n wit perd
Raak ontslae van die “ridder op die wit perd”-droom. Jy werk vir wat jy wil bereik. Jou droom moet finansiële onafhanklikheid wees. Niks minder nie.
Hoe?
Van jou eerste salaris, spaar. Spaar vir jouself. Nie in selfsugtigheid nie, maar sodat jy onafhanklik bly.
Die laaste ding op aarde wat jy wil hê is “onderdanigheid ter wille van finansiële oorlewing”.
Nie almal wat trou belowe hou uit tot die einde nie. Saam intrek beteken nie dat een nie weer kan uittrek nie. Sorg dus vir jou eie aftredevoorsiening. As die huwelik of saambly hou, het julle dan mos meer geld om jul oudag saam te geniet. As dit nie hou nie hoef jy nie in finansiële ellende te gaan sit nie.
As jy nie ’n werk het wat inkomste verdien nie, die tuisteskepper, het jy steeds ’n waarde waarvoor voorsiening gemaak moet word deur finansiële risikodekking.
Jy kan ook doodgaan. Nee, nie “iets oorkom” nie. Dood. Kapoet. Weg.
Wie kyk dan na jou kinders? Jou man moet steeds werk. Jou “gratis” huishoudelike dienste is dan weg.
Sorg vir lewensdekking op jou lewe ook. Jy kan, selfs al is jy ’n tuistekepper, ook ’n gevreesde siekte opdoen. En dit eis meer geld as waarvoor selfs die beste mediese skema kan instaan. Dit kan ’n kwaai slag aan die huishouding se begroting toedien.
As jy dink dat my kortlikse verwysing na finansiële risikodekking sommer net iets is om te noem omdat ek ’n finansiële beplanner is – dit is so. Maar daar is meer aan.
Dit sal ook die besef by jou vestig dat jy ’n finansiële waarde het. Vir iemand. En dat daardie waarde gedek is, sou ’n lewensgebeurtenis jou tref. Ook, en dis die belangrikste punt vir my vandag, dat jou waarde nie net bepaal word deur jou onderdanigheid nie. Jy het ’n geldwaarde.
Nog raad
Datums vir voorlopige belastingbetalers
Oor die afgelope paar jaar het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) dit al hoe makliker gemaak vir mense om te voldoen aan hul belastingpligte.
Uit my hoek gesien, is daar nie werklik ’n rede om nie jou belastingsake in orde te kry en in orde te hou nie. ’n Belangrike deel daarvan is om te hou by die datums vir die indien van jou belastingopgawes.
Hier is belangrike datums vir voorlopige belastingbetalers.
Diegene wat hul opgawes deur eFiling doen of laat doen, het nog tot 24 Januarie tyd om hul opgawes vir die 2023-belastingjaar in te dien. Dit is ’n spesiale vergunning.
Die tweede inbetaling van belasting vir voorlopige belastingbetalers vir die huidige belastingjaar (2024) is 29 Februarie. Voorlopige belastingbetalers moet twee keer per jaar belasting oorbetaal, ná elke ses maande van ’n betrokke belastingjaar. Daar is ’n derde, maar dit is meer om reg te maak wat verkeerd opgegee is.
Dit is in teenstelling met werknemers, wat maandeliks belasting betaal. Die eerste inbetaling vir die komende belastingjaar (2025) is 30 Augustus. Nuwe voorlopige belastingbetalers moet nou reeds hul sake in orde begin kry sodat hulle hul eerste voorlopige belasting kan inbetaal teen daardie datum.