Maak seker jy verstáán lewenspolisse

Die werking van lewenspolisse kan baie verwarrend wees, maar dit bly steeds ‘n goeie finansiële instrument om jou nalatenskap doeltreffend te bestuur.


Maak seker jy verstáán lewenspolisse

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  11 Februarie 2024

Dit bly ’n goeie nalatenskap vir dié wat gaan agterbly

Ons kyk vandag na lewenspolisse.

Daar is vir my duidelik soveel onsekerheid oor die werking van lewenspolisse dat ek graag so volledig as wat ’n mens kan in een rubriek, wil verduidelik.

Ek het al gehoor van mense wat aan hul vriende aanbeveel om hul lewenspolisse te kanselleer, “want jy kry niks daaruit nie”.

Eerstens, los die finansiële raad van sulke vriende daar waar jy dit kry. Langs die vleisbraaivuur, by die werk, of waar ook al. Hulle het nie ’n idee waarvan hulle praat nie. En dit is sommer bog.

Tweedens, ’n lewenspolis is nooit uitgeneem vir jou onthalwe nie. Dit is altyd om iemand anders te bevoordeel. Maar dit is meesal om jou finansiële verpligtinge, wat jy in lewe aangegaan het, na te kom. Byvoorbeeld, skuld wat jy gemaak het. Of die versorging van ’n naasbestaande. Iemand wie se sorg jy op jou geneem het en as jy die dag nie daar is nie, om dan eerbaar jou plig teenoor daardie persoon na te kom.

Kyk daarna as spaargeld vir ’n sekere doel. Met ’n eindbedrag wat gewaarborg is, want jy gaan dood, jy weet net nie wanneer nie. Dit kan vanaand wees.

Hoe werk dit by dood?

By dood betaal die polis uit aan ’n begunstigde. Hetsy aan iemand, ’n persoon, wat jy as begunstigde aangewys het, of aan jou boedel.

Hierdie punt is baie belangrik om te verstaan. Ek kry elke nou en dan vrae van lesers hieroor, wat dit duidelik maak dat daar heelwat verwarring oor is.

Die polis betaal uit aan die aangewese begunstigde. Jy kan dit nie anders maak deur in jou testament die polisopbrengs aan iemand te bemaak nie.

’n Lewenspolis is ’n kontrak tussen jou en die versekeraar. Jy betaal ’n premie en die versekeraar onderneem om by jou dood ’n bedrag geld uit te betaal aan die begunstigde wat jy aangewys het. ’n Driehoekige kontrak dus.

Jy kan hierdie kontrak slegs verander, en dit is jou goeie reg, deur die begunstigde by die versekeraar te verander.

As jy wil dat die polis liewer aan jou boedel uitbetaal, dan maak jy jou boedel die begunstigde. In so ’n geval kan jy dan die polisopbrengs in jou testament aan iemand bemaak. Andersins nie.

Dit is nie sleg om ’n polis aan jou boedel te bemaak nie, want baie keer kan boedels nie afgehandel word nie omdat daar nie genoeg kontant in die boedel is nie. Die gevolg is dat ander bates wat na erfgename moes gaan, verkoop moet word om boedelverpligtinge te kan nakom. Moenie in hierdie strik trap nie.

Verstaan hoe eksekuteurstarief werk

’n Polis wat aan jou boedel uitbetaal, sal vatbaar wees vir die eksekuteurstarief omdat die eksekuteur daarmee moet werk. Maar, kyk my punt hierbo, moenie dat vrekkigheid maak dat ander erfgename tekort gedoen word nie.

’n Polis wat direk aan ’n begunstigde uitbetaal, word nie ingereken vir die eksekuteurstarief nie omdat die eksekuteur nie daarmee handel nie.

’n Polis op jou lewe, of hy aan iemand anders uitbetaal of nie, word wel in berekening gebring vir boedelbelasting. Dié punt kan ek nie genoeg beklemtoon nie. Daar is selfs makelaars wat dit nie verstaan nie.

Selfs waar iemand anders die poliseienaar is, val die polisopbrengs as ’n geagte bate in die boedel van die oorledene. Die ding wat die deurslag gee, is nie wie die polis besit het nie, maar wie se lewe verseker is. Dis die versekerde lewe wat saak maak.

Daar is wel gevalle waar die polisopbrengs aftrekbaar is vir boedelbelasting, maar dit is spesiale uitsonderings waarop ek nie nou kan ingaan nie. Weet maar net, die opbrengs van ’n polis op jou lewe val in jou boedel vir boedelbelasting.

Betaal die polis uit aan ’n begunstigde, is die boedelbelasting wat getrek word deur die polisopbrengs pro rata betaalbaar deur die begunstigde. Maar as hy of sy dit nie doen nie, moet die eksekuteur instaan daarvoor uit die boedelbates uit. Waar die premies betaal word deur iemand anders, sal die premies plus 6% rente per jaar aftrekbaar wees vir boedelbelasting.

Wat my bring by my laaste punt.

Hoe gemaak as jy regtig nie meer die polis nodig het nie?

Kanselleer jy dit?

Ek meen van nee. Jy gaan al die premies wat jy deur soms baie jare betaal het in die water gooi. Hoekom sal ’n mens dit doen?

Laat een van jou kinders, of almal saam, die polis oorneem en die premies daarop betaal. Dit is seker geld. Hoe jy ook al wens dit was anders, die waarheid is jy gaan dood en dan gaan daardie polis uitbetaal.

Die kinders kry dan ’n klomp geld vir min premies omdat jy mos al die jare vooraf dit self betaal het. Dit bly dus steeds ’n goeie nalatenskap. Wie wil dan nie ’n paar rand erf nie?

En die kinders aan wie jy die polis oorgemaak het, sal boonop die premies wat hulle betaal het, plus 6% rente daarop, kan aftrek sou daar boedelbelasting betaalbaar wees.

Maak dan baie seker dat die polis aan hulle gesedeer is en nie aan die boedel begunstig is nie. Anders kan jy dalk ’n struweling tussen erfgename en poliskinders skep. En jy is nie daar om te help nie.


Nog raad

BTW en hereregte

Met die aankoop van vaste eiendom is hereregte betaalbaar (op die bedrag bo R1 100 000).

In sekere gevalle is BTW egter betaalbaar en nie hereregte nie. Die betaling van BTW op die verkoop van vaste eiendom kry voorkeur bo die betaling van hereregte.

Wanneer iemand dus eiendom verkoop en die verkoper is ’n BTW-handelaar en die eiendom wat verkoop word vorm deel van die verkoper se onderneming, sal daardie transaksie onderhewig wees aan BTW en nie hereregte nie.

Die koper sal dus moet instaan vir BTW (15%) en nie hereregte (word op ’n glyskaal bereken) nie op die verkoopprys van die eiendom.

As die koper self ook vir BTW geregistreer is en die eiendom wat verkoop word vorm deel van die verkoper se saak wat as ’n lopende saak oorgedra word, word BTW teen ’n nul-koers gehef. Dus effektief geen BTW en geen hereregte.

Maar waar slegs ’n gedeelte van die saak (byvoorbeeld plaasgrond) verkoop word en die verkoper (boer) gaan voort met sy boerdery, sal die verkoop nie kwalifiseer vir die lopende-saak-voordeel nie en sal BTW op die transaksie gehef word.

Dit is belangrik dat hierdie onderskeid verstaan word, voordat enige transaksie gesluit word.

Scroll to Top