Lewenspolis: Daar is geen skuiwergat nie

Die artikel verken die komplekse aard van vroeë lewenspolisuitbetalings en die impak daarvan op boedelbeplanning, terwyl dit die noodsaaklikheid beklemtoon om ‘n bekwame boedelbeplanner te raadpleeg vir ‘n suksesvolle finansiële reis.


Lewenspolis: Daar is geen skuiwergat nie

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  07 April 2024

Neem ‘n kundige boedelbeplanner saam op die geldreis

Ek kry verlede week ‘n navraag van ‘n gerekende kollega in die bedryf oor die vroeë uitbetaling van lewenspolisse.

Is daar dalk ‘n skuiwergat, ‘n manier om geld by jou naasbestaandes te kry en terselfdertyd die insluiting van die waarde van die polisopbrengs uit jou boedel te hou ná jou afsterwe? En dit só vry van boedelbelasting te kan oordra?

Ek is bevrees nee. Daar is nie so ‘n boedelbelastingskuiwergat nie. Daar is wel dalk ‘n boedelbelastingslaggat.

Wat volg, kan dalk ‘n bietjie tegnies klink, maar ek bespreek dit redelik volledig ter wille van daardie finansiële raadgewers wat ek weet ook waarde uit hierdie rubriek put en kliënte moet raad gee.

Waarvan ons hier praat, is polisse wat eers by dood sou uitbetaal. Lewenspolisse. Maar nou word dit voortydig uitbetaal. Voor die persoon sterf.

Hoekom?

Dit word gedoen in gevalle waar die versekerde persoon byvoorbeeld aan kanker ly en die prognose is terminaal. Die uitbetaling word deur die beter versekeraars om menslikheidsredes gedoen.

Ons het enkele kliënte in sulke situasies en die versekeraars waarmee ons werk, het die polisse uitbetaal. Sommige van die kliënte leef ná drie jaar steeds.

Ek noem dit spesifiek, want dit is die kern van die vraag.

As die polis so lank voor die werklike sterfte van die versekerde uitbetaal word, is dit nie ‘n manier om boedelbelasting te ontwyk nie? Hoe gaan Jan Taks daarvan weet?

Polis betaal net uit aan die versekerde persoon

Wat belangrik is, is dat die versekeraar die polis in so ‘n geval nie goedsmoeds aan ‘n begunstigde sal uitbetaal nie. Dit betaal net aan die versekerde persoon uit.

Eerstens, omdat die persoon wie se lewe verseker is tot die oomblik voor sy of haar dood die reg het om die begunstigde te verander. Die versekeraar kan nie sommer buite kontrak polisse aan begunstigdes uitbetaal nie.

Tweedens, die versekeraar verloor verdere premie-inkomste op daardie polis. En so dierbaar as wat sommige van hulle is, hulle is daar om vir aandeelhouers geld te maak.

En derdens, dit is ‘n welwillendheidsgebaar, nie ‘n verpligting nie.

Ja, ek het gehoor van ‘n geval waar dit wel aan ‘n “begunstigde” uitbetaal het, maar dit was ter voldoening aan ‘n koopen- verkoopkontrak om die mede-aandeelhouer in staat te stel om die terminaal siek persoon se aandele te koop. Weereens, om menslikheidsredes, om die siek persoon met geld te help.

Uit ‘n regstegniese hoek is die volgende relevant. Lees gems my rubriek hier van 24 Maart, “Boedelbelasting se slagyster”, oor polisse wat as eiendom geag word en só vir boedelbelasting in berekening gebring word. Ek herhaal net die belangrikste punte.

Vir ‘n (binnelandse) polis om in die oorledene se boedel opgeneem te word vir boedelbelasting ingevolge art. 3(3)(a) van die Boedelbelastingwet (Wet 45 van 1955) is daar twee belangrike vereistes vir die doel van ons bespreking vandag.

Daar moet (i) ‘n bedrag geld uitbetaal by (ii) die dood van die versekerde persoon. Oor die bedrag geld betaalbaar in ons bespreking hier gaan ons nie stry nie; dis logies.

Wat egter baie belangrik is, is dat die dood van die persoon wat verseker is, steeds die gebeurlikheid is vir die bedrag geld om uit te betaal en in die boedel ingetrek te word vir boedelbelasting. Dit is uiters belangrik om te verstaan.

Terminaal is terminaal

Nou terug by die vraag. As die polis vóór die persoon se dood uitbetaal, soos in die geval van my eie kliënte wat selfs langer as drie jaar nog lewe, is dood dan nog die gebeurlikheid wat die uitbetaling daarstel?

Na my mening ja, beslis. Terminaal is terminaal. Daar is die afwagting op ‘n seker dood. Dood is steeds die gebeurlikheid wat die uitbetaling daarstel. Nêrens is daar iets wat sê die uitbetaling kan die (seker) dood nie voorafgaan nie.

Ek sê weer: Dit is ‘n menslikheidsgebaar. Die wet is steeds die wet en daar moet steeds ooreenkomstig die wet opgetree word.

Nou die vraag oor die skuiwergat. Hoe gaan Jan Taks weet van so ‘n polis, wat byvoorbeeld drie jaar vantevore uitbetaal het?

Jan Taks weet en sal weet.

Dit, het ek die week agtergekom, is nie so bekend nie. Nie eens by gerekende versekeraars nie. Hulle meld dit aan, maar die vraag op grond van watter wet, is iets anders. So, laat ek verduidelik.

Art. 23 van die Boedelbelastingwet het die plig op versekeraars geplaas om polisuitbetalings by die Suid-Afrikaanse lnkomstediens aan te meld.

Maar dié artikel is in 2011 herroep.

Art. 26 van die Wet op Belastingadministrasie (Wet 28 van 2011) reël nou hierdie aanmelding soos in die Staatskoerant bepaal. Kortom, Jan Taks word ingelig.

Dit wat betref die hoopvolle “skuiwergat”.

Nou die werklike ‘slaggat’

Dit kan ‘n boedelbelasting-verrassing teweegbring vir die naasbestaandes van die oorledene wat dalk in sy of haar laaste jare die polisopbrengs opgebruik het. Vir watter doel ook al.

Stel jou voor jou beplanning laat jou presies met ‘n belasbare boedel van R0,00.

En skielik is daar ‘n onverwagse sê maar R3 miljoen-polis wat in berekening gebring moet word. Dit is ‘n boedelverpligting van R600 000 wat êrens vandaan gehaal gaan moet word.

Hierdie en ander probleme kan voorkom word as jy deurgaans ‘n kundige boedelbeplanner – van vroeg in jou lewe af al – saam op jou geldreis neem.


Nog raad

Voorkeurvergoeding

Voorkeurvergoeding is ‘n tegniek wat ‘n werkgewer kan aanwend om ‘n werknemer aan te spoor om vir ‘n bepaalde tyd in diens te bly en om nie te bedank nie.

Dit is nie dieselfde as sleutelpersoonversekering of ‘n uitgestelde vergoedingskema nie.

Voorkeurvergoeding is bedoel om die werknemer te motiveer om aan te bly vir ‘n bepaalde tydperk, gewoonlik ‘n minimum termyn van vyf jaar.

Dit werk so: Eers word ‘n ooreenkoms tussen die werknemer en die werkgewer aangegaan. ‘n Kontrak.

Hiervolgens neem die werknemer ‘n polis uit wat oor ‘n aantal jare sal uitbetaal.

Die premie vir die polis word bereken volgens die marginale belastingkoers van die werknemer en dit word dan as ‘n salarisverhoging aangebied.

Die werknemer betaal gewone inkomstebelasting op die verhoging (die premie).

Die werkgewer trek weer die premie (die salarisverhoging) af vir sy inkomstebelasting, synde dit deel van die werknemer se vergoedingspakket is.

Die polis word ná uitreiking aan die werkgewer gesedeer – hy word dus die nuwe eienaar van die polis.

By voldoening aan die vereiste termyn dra die werkgewer die polis weer oor aan die werknemer volgens hul kontrak.

Die werknemer kan die geld belastingvry kry, of ‘n belastingvrye inkomste uit die polis onttrek.

Scroll to Top