’n Goedkoop testament kan duur kos. Lees hoe suinigheid tot ’n belastingnagmerrie gelei het – en hoe kundige hulp dit kon voorkom.
Kortpad met testament kan lelik by jou mense spook
Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie • 15 Junie 2025
Moenie vrekkig wees om ’n paar rand te wil spaar nie. Kry ’n kenner om jou testament op te stel en keer dat jou erfgename met ’n regsgemors sit, skryf Nico van Gijsen.
Ek is seker ons almal ken die uitdrukking “in sy graf omdraai”.
Dit word mos gesê van ’n oorledene wat iets baie sterk sou afkeur, sou hy nog gelewe het. Ek wonder soms of suinigheid in sy lewe nie dalk ook ’n rede sou kon wees vir ’n kadawer om op sy maag om te rol nie.
Ons los dié een maar vir die skeppers van spreekwoorde en gesegdes.
Waarby ek wil stilstaan, is die algehele regsgemors en geldelike ellende waarin sommige mense hul familie en naasbestaandes dompel, bloot omdat hulle kortpad probeer neem het met finansiële beplanning en die opstel van hul testament. Te vrekkig om ’n paar rand uit te haal vir kundige raad.
Ek kyk vandag na een so ’n voorbeeld, na aanleiding van ’n leser se vraag die afgelope week.
Die oorledenes, ’n egpaar wat binne gemeenskap van goed getroud was, het sommer hul testament deur hul seun laat opstel. Net meer as ’n maand later, toe sterf albei.
In die testament word landbougrond aan die oorlede egpaar se twee volwasse kleinseuns bemaak.
Die bemaking is nie uitvoerbaar nie. Wat nou?
Die wet en landbougrond
Art. 3 van die Wet op Onderverdeling van Landbougrond (70 van 1970) bepaal onder meer dat landbougrond nie verdeel kan word sonder die toestemming van die minister van landbou nie.
En dit gaan nie sommer gebeur nie; laat ek dit maar duidelik stel. Om die waarheid te sê: Vergeet dit.
Die eksekuteur sit met ’n probleem: Hy kan die grond nie aan die erfgename oordra nie.
Die twee erfgename sit met ’n probleem: Hulle erf ’n plaas, of dan ’n halwe plaas in dié geval, maar dit kan nie aan hulle oorgedra word nie.
Omdat dit nie gedoen kan word nie, oorweeg die betrokkenes nou om ’n trust te skep ten gunste van die twee erfgename en dan die grond na die trust oor te dra.
Dit klink makliker gesê as gedaan. Jy dra nie sommer bates oor na ’n trust nie. Die trust moet die bate koop, of jy moet dit aan die trust skenk. Dit so ligweg oor trusts in die algemeen.
Die eksekuteur kan ook nie sommer net ’n bate na ’n trust oordra as die testament nie so ’n bepaling in het nie. En dié een het nie.
Dit gaan aan die trust verkoop moet word.
Belastinggevolge
Hereregte is betaalbaar as die grond aan die trust verkoop word. Die Wet op Hereregte (40 van 1949) bepaal dat die persoon of entiteit wat die eiendom bekom, die belasting moet betaal.
In dié geval die trust.
Kapitaalwinsbelasting is in elk geval betaalbaar.
Maar die een belasting wat die grootste invloed gaan hê, is waarskynlik boedelbelasting.
Die waarde van landbougrond vir die berekening van boedelbelasting is die billike markwaarde van die grond minus ’n korting van 30%. Dit is as die grond vererf.
Wanneer dit uit die boedel verkoop word, verval die 30%-korting en word die volle markwaarde van die grond in berekening gebring.
Die gevolg is dat die eksekuteur boedelbelasting sal moet betaal op ’n bedrag van 30% hoër as wat die geval sou wees as die oorledenes net ’n behoorlik opgestelde testament gehad het.
Dis benewens die hereregte betaalbaar en dat die trust nou die bate gaan besit wat die erfgename gedink het hulle erf.
Ek kan my indink oor die worsteling om geld by die trust te kry om die plaas te kan koop.
’n Geldelike nagmerrie.
Herverdelingsooreenkoms
’n Herverdelingsooreenkoms sou, en kan dalk nog, ’n oplossing vir die probleem wees.
Erfgename kan ’n herverdelingsooreenkoms aangaan om te bepaal hoe erfgoed herverdeel kan word. Dit kan gedoen word by wyse van verkoop, ruil of selfs skenk.
Daar is nie ’n vaste of net een manier om die herverdeling aan te gaan nie.
Erfgename kan byvoorbeeld ooreenkom om bates te verkoop en dat die opbrengs onder mekaar verdeel sal word.
Of, waar daar, soos in ons voorbeeld, landbougrond ter sprake is, kan die een seun afstand doen van sy deel van die erfenis in ruil vir ’n bedrag geld wat die ander dan inbring. Dit sal byvoorbeeld sommer ook help met die belastingprobleme wat ek hier bo noem.
Dis nodig om te verstaan dat so ’n ooreenkoms ’n kontrak behels. Op skrif en onderteken deur twee onafhanklike getuies. Doen dit liewer onder leiding van ’n prokureur.
Dis belangrik om te verstaan dat ’n derde party, soos die trust waarna hier bo verwys word, wat nie ’n begunstigde van die boedel is nie, nie ’n party tot die herverdelingsooreenkoms kan wees nie.
Voordat die herverdelingsooreenkoms opgestel word, moet die eksekuteur ook die toestemming tot die voorwaardes van die ooreenkoms van al die bemagtigde begunstigdes kry.
Jou testament
Die probleem wat ek hier bo verduidelik, kon voorkom gewees het. Die les hier is eenvoudig: Moenie te slim probeer wees nie.
Laat ek ter afsluiting appèlregter J.A. Leach in die saak Raubenheimer vs. Raubenheimer aanhaal. “Dis ’n nimmereindigende bron van verbasing dat so baie mense op onopgeleide adviseurs staatmaak wanneer hulle testamente opstel, waarskynlik een van die belangrikste dokumente wat hulle ooit sal onderteken.”
Moenie dat jy uitgevang word nie. Jy kan dalk eendag in jou graf omdraai.