Is jou saambly-verhouding bedoel om permanent te wees? As dit so is, mag jy verbaas wees oor die regs- en belastingimplikasies wat daarmee gepaardgaan. Leer waarom ‘n eenvoudige kontrak die sleutel kan wees om jou toekoms te beskerm – selfs sonder ‘n huweliksertifikaat!
Kort en lank van saambly
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 25 Augustus 2024
Veronderstel om permanent te wees? Stel kontrak op!
Liefde, lees ek die afgelope week, moet as ’n Olimpiese sport gereken word.
Nou, ja,
En, lees ek ook, Jennifer Lopez, wat in my wêreld meer bekend is vir die versekering van haar boude (tot R600 000, word bespiegel), skei van die akteur en regisseur Ben Affleck.
Vir die tweede keer, as ’n mens hul “verlowing” in die vroeë 2000’s tel as ’n ernstige verbintenis. Tussen toe en nou is sy van drie ander mans geskei.
Liefde as ’n Olimpiese sport? Die kompeterende element is oogluikend daar. Moeg en uitasem seker ook.
Met die gewildheid van liefde as ’n sport kom ons gesels oor saambly-verhoudings ná vrae van ’n leser die week. Al hoe meer (meestal jonger) mense, skryf die leser, woon saam en trou nie noodwendig nie. En vra dat ek kyk na die regsgevolge en veral belasting en versorging ná die dood van een van die partye.
Ek het al hieroor geskryf. Gaan soek gerus op Netwerk24. Maar hier is ’n paar verdere relevante punte wat ek meen belangrik is vir diegene wat kies om liewer saam te bly as om te trou.
’n Verhouding wat bedoel is om permanent te wees
Met ’n huwelik het jy ’n gevestigde regsvorm wat die verbintenis tussen twee persone bevestig. Dit bind en skep onmiddellike wedersydse verpligtinge. En bepaalde regsgevolge.
In ’n saambly-verhouding het jy dit nie.
In ’n saambly-verhouding is hierdie die sleutelwoorde: “bedoel om permanent te wees”.
Dit is ’n vereiste voordat daar enige regsgevolge gaan wees of later opgeëis kan word. Of as daar belastingkwessies ter sprake kom.
Mense trek in en hulle trek uit. Dit is die permanente aard van die intrek wat die sleutel is.
Die beste stukkie raad wat ek hier kan gee, is as julle voel jul verhouding is van so ’n aard dat julle dit as ’n langtermynverhouding sien, een wat bedoel is om permanent te wees, stel dit op skrif.
My prokureursvriend Pieter het lank gelede al vir my gesê, stel ’n kontrak op. Gooi dit in ’n laai. Jy hoef nooit weer daarna te kyk nie. Maar as jy hom die dag nodig het, dan het jy hom.
Belasting
Ons belastingwette is al so aangepas dat dit wat geld tussen mense wat wettig getroud is, ook mense geld in saambly-verhoudings “wat bedoel is om permanent te wees”.
Daar het ons weer hierdie woorde. Maar met die stertjie daaraan: Dit is mense in ’n langtermyn-saambly-verhouding wat “tot bevrediging van die kommissaris (van inkomste)” bedoel is om permanent te wees.
Jan Taks moet eers tevrede wees dat dit ’n langtermyn-verhouding is wat bedoel is om permanent te wees.
En wat beter as ’n kontrak tussen die twee partye wat dit uiteensit? Dan sal skenkings tussen die partye vry wees van geskenkbelasting. En bemakings aan mekaar sal vry wees van boedelbelasting. Net soos die geval is tussen getroudes.
Testament (of nie ’n testament nie)
In ons land word testeervryheid baie hoog aangeslaan. Jy kan bemaak aan wie jy wil.
Daar is nie ’n plig om aan jou lewensmaat te bemaak (sien die volgende gedeelte) of aan jou wettige gade nie.
Die groot probleem gaan inkom wanneer jy nie ’n testament het nie. Want dan tree die Wet op Intestate Erfopvolging (Wet 81 van 1987) in werking (lees ook verlede week se rubriek, waarin ek hierna verwys).
Die wet bepaal dat ’n langslewende gade, in die geval waar daar geen testament is nie, ’n reg het op ’n kindsdeel van die oorledene se boedel. Kortom, alles word gelykop tussen die gade en die kinders verdeel.
Ons wag nog op bekragtiging deur wetgewing, maar die konstitusionele hof het reeds (in die Bwanya-saak) beslis dat die bewoording van die wet gewysig moet word en sal voortaan insluit by die definisie van ’n gade ook mense wat in ’n langtermyn-verhouding is wat (eenvoudig gestel) bedoel is om permanent te wees en onderneem het om mekaar te ondersteun.
Kortom, as jy nie ’n testament het nie en jy is in so ’n verhouding, weet dat jou lewensmaat in jou goed gaan deel.
Onderhoud
Ek het verlede naweek ook hieraan geraak.
Al het jy ’n testament, maar jy laat nie genoeg na vir jou lewensmaat nie, het hy of sy ook (danksy die gevolg van genoemde Bwanya-saak) toegang tot die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades (Wet 27 van 1990).
Dit is ’n eis om billike onderhoud deur die oorlewende party teen die boedel van die oorledene.
Pensioenfonds
As jy jou in ’n saambly-verhouding bevind, kom jou pensioenfonds ook in die gedrang.
Jy kan begunstigdes aanstel wat jou pensioengeld gaan kry die dag as jy doodgaan. Maar dit is nie so eenvoudig nie.
Art. 37C(1)(a) van die Pensioenfondswet (Wet 24 van 1956) bepaal dat die trustees van die fonds die finale sê het oor wie die voordele van die pensioenfonds sal kry ná jou dood.
As die trustees binne 12 maande ná die dood van ’n lid (van die fonds) bewus raak van of iemand opspoor wat ’n afhanklike is van die lid, moet die fonds die voordeel uitbetaal aan daardie afhanklike of, as daar meer afhanklikes is, dan proporsioneel aan daardie afhanklikes, soos wat die fonds “billikheidshalwe” ag.
Nog raad
’n Lewende testament
’n Lewende testament is ’n dokument wat jy opstel wat bepaal wat moet gebeur wanneer jy in ’n lewensbeëindigende situasie beland en jy nie meer in staat daartoe is om besluite te neem nie.
Jy gee byvoorbeeld aan dokters opdrag om nie jou lewe te probeer verleng as daar geen hoop meer op lewe is nie. Dit kan ook ander wense bevat.
Dit is bedoel om jou met waardigheid te laat sterf (as dit jou wens is).
’n Lewende testament het nog geen regskrag nie.
As jy ’n lewende testament opgestel het, bêre dit op ’n plek waar dit maklik gekry sal word. Maak seker dat genoeg mense daarvan weet. Jou kinders, byvoorbeeld, of ’n vriend.
Dink wie is die persoon wat eerste gekontak gaan word as jy in ’n ongeluk ernstig beseer is. Moet dit nie saam met jou (tradisionele) testament bêre nie. Jou testament sal eers gelees word ná jou dood. Soms ’n hele ruk ná jou dood.
Dit sal ook goed wees as jou dokter daarvan weet of selfs ’n afskrif daarvan het sodat hy of sy vooraf weet wat jou wense is en nie in ’n oomblik van krisis voor ’n etiese en morele dilemma te staan kom nie.