Jou testament (of die hof) gaan praat as jy weg is

Het jy geweet dat ’n onduidelike of ongeldig opgestelde testament jou geliefdes met groot koste, konflik en jare se hofgedoentes kan laat? Onlangse hofsake wys hoe belangrik dit is om jou laaste wense duidelik en wettig neer te pen.


Jou testament (of die hof) gaan praat as jy weg is

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  24 Augustus 2025

Ek het oor die jare al herhaaldelik in hierdie rubriek daarop gewys dat jou testament jou laaste sê is. Dit is finaal.

As jy dood is, kan jy dit nie verander nie. Die bakleiers oor jou goed sal moet hof toe gaan as jy nie duidelik was nie, of as jy nie aan die vereistes vir die opstel van ’n testament voldoen het nie.

Neem dit ernstig op as jy ernstig is oor jou goed en jou naasbestaandes. Ek kyk vandag na enkele hofsake.

Mokgoro-saak

Die jongste saak is Mokgoro en ander v. Die Meester en ander in die hooggeregshof in Kimberley, wat handel oor die geldigheid van die testament van oudregter Yvonne Mokgoro, ons eerste swart vroueregter wat in 1994 in die konstitusionele hof gedien het.

Laat ek dit sê, want dit is belangrik: Dit verbaas my dat iemand in daardie posisie, wat in haar amp oor mense en sake moet beskik, die basiese vereistes vir die opstel van ’n geldige testament, soos duidelik vervat is in die Wet op Testamente (wet 7 van 1953), nie behoorlik nagekom het nie.

En soos ek hierbo noem, het dit in die hof beland.

Mokgoro het in 2021 klousules in haar oorspronklike testament van 2014 gewysig en dit elektronies onderteken. Ná haar dood moes haar kinders die hof nader om ingevolge art. 2(3) van die Wet op Testamente die dokument waarin sy haar goed bemaak, as haar testament te aanvaar.

Ná voorleggings van e-posse en beëdigde verklarings is dit toe deur die hof aanvaar.

Haar lewensmaat, David Mmelesi, wat verantwoordelik gehou word vir die motorongeluk waarin Mokgoro gesterf het, is, anders as in ander sulke gevalle waar die boedel vir die koste verantwoordelik gehou word, gelas om die regskoste van Mokgoro se kinders te betaal.

Blom-saak

In die appèlhofsaak Blom en ander v. Brown en ander het die oorledene se vrou sy testament uitgeskryf waarin hy alles aan haar bemaak het. Dit is gedoen op ’n skynbare voorbode dat iets met hom kon gebeur terwyl hy op reis was en hy nie sy hande op sy ou testament kon lê nie. Hy ís toe op sy reis dood.

Sy twee dogters het aangevoer die dokument is (ingevolge die wet) nie ’n testament nie, waarna ’n hof beslis het dat dit tog as sodanig aanvaar kan word omdat sy bedoeling duidelik geblyk het.

Perumal-saak

In die saak Perumal v. Janse van Rensburg NO is die feite kortliks: P en die oorledene, S, was in ’n verhouding nadat S sy verhouding met C verbreek het.

Hulle sou in Julie 2022 trou en S het in die teenwoordigheid van P wysigings aan sy testament aangebring en die gewysigde dokument aan R, sy eksekuteur, gestuur. Dit moet genoem word dat S by twee geleenthede vir R gevra het oor sy testament sodat hy dit kon onderteken.

Hy is in 2023 oorlede voor die testament onderteken is.

P het die hof genader om ingevolge art. 2(3) die gewysigde maar ongetekende dokument as S se finale testament te aanvaar. C het dit teengestaan op grond daarvan dat hy in bykans ’n jaar nie die testament onderteken het nie.

Die vraag voor die hof was of dit werklik S se bedoeling was dat dit sy laaste testament sou wees.

Die hof het beslis dit was, onder meer weens S se navrae aan R oor sy testament. C is beveel om die koste te betaal.

Wat nie duidelik blyk nie, is watter weergawe van die testament die hof aanvaar het. Is dit die wysigings wat S aan R gestuur het, of is dit die weergawe wat R aangevoer het hy vir S gestuur het? Dit sou belangrik wees, want as dit laasgenoemde is, het S nie die dokument self opgestel nie, wat ’n vereiste is.

Ek noem dit om te wys op die regsonduidelikhede, wat gevolge kan hê.

Dryden-saak

In die saak Dryden v Harrison en ander in die Wes-Kaapse hooggeregshof sien ons byvoorbeeld net die teenoorgestelde.

Die hof is genader om ’n e-pos van die oorledene as sy laaste testament te aanvaar.

Daarin het hy genoem dat dit sy laaste testament is en dat hy al sy bates, waaronder sy lewenspolisse, aan ’n spesifieke persoon bemaak.

Dit was strydig met sy oorspronklike testament waarin hy die residue van sy boedel aan sy vrou van daardie tyd bemaak het.

In dié geval het die hof beslis dat die oorledene ’n vorige testament het en dat hy ’n versigtige en puntenerige mens was. Dit is onwaarskynlik dat die e-pos bedoel was om sy testament te wees, al het hy selfs dalk daarin beloof om die applikant die begunstigde te maak.

Maak seker

Maak liewer seker met jou testament.

Hier is kortliks die belangrikste vereistes vir ’n geldige testament:

  • Jou testament moet op skrif wees;
  • Die bedoeling dat dit jou testament is, moet duidelik blyk;
  • Elke bladsy moet deur jou onderteken wees in die teenwoordigheid van twee getuies (nie erfgename nie) wat elkeen ook in jou teenwoordigheid moet teken; en
  • Enige wysiging moet eweneens so onderteken word.

Dit is maklik genoeg. Die wet is daar om vir jou en jou naasbestaandes sekerheid te bring.

Scroll to Top