(Groot) kinders, bly uit ouers se sak en beursie

Daar is ‘n ou gesegde wat lui: “Voorsorg is beter as nasorg.” In ons jag na sukses en ‘n beter lewe is dit soms maklik om die mees basiese dinge te vergeet, soos die belangrikheid van lewensdekking. Jy wil tog verhoed dat jou familie in ‘n posisie beland waar hulle moet aanklop by die ouers vir finansiële hulp wanneer jy iets oorkom.


(Groot) kinders, bly uit ouers se sak en beursie

Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande  •  01 Oktober 2023

In ‘n geselsie met ‘n leser by Rapport se lesersdag in Pretoria so ‘n paar maande gelede, vertel hy hoe skraps dit gaan met sy geldsake danksy die koste van kinders hê. Skoolgeld, studiegeld, ensovoorts.

Die enigste trooswoorde waaraan ek kon dink, was, “toemaar, jy beperk darem jou boedelbelasting”.

Sommer ‘n lawwe opmerking. Maar tog met ‘n tikkie waarheid in. Jy moet dwarsdeur jou lewe jou geldsake beplan. Vir sowel die voorsiene as die onvoorsiene.

Wat my bring by ons onderwerp vandag. Een wat aansluit by waaroor ek ‘n paar weke gelede hier geskryf het, Kry kinders se hande uit jou sak en beursie (Rapport Beleef 3 September 2023).

Terloops, oor die 25 jaar as rubriekskrywer vir Rapport, het hierdie onderwerp waarskynlik die wydste reaksie van lesers ontlok, ek glo met goeie rede.

Vandag wil ek egter die onderwerp van ‘n ander kant af belig. Met ‘n boodskap aan die (groot) kinders. Maak seker jy hou jouself uit jou ouers se sak en beursie.

Dit is nie ‘n aangename onderwerp nie. Maar dit help nie jy knyp jou oë toe nie. Dit is die werklikheid soos dit is, nie soos jy wens dit was nie. So lees gerus verder.

Pa’s wat (nie) voorsien (nie)

Hier is die storie van twee jong mans, werklike situasies waarmee ek persoonlik te doene had die afgelope maande.

Albei was so rondom 40 jaar oud. Getroud, met 3 klein kinders elk, almal so 5 jaar oud en onder. Liefdevolle, versorgende vaders. En toe op ‘n dag is hulle nie meer daar nie.

Pa een se pa, eienaar van die saak, het vir sy werknemers ‘n sambreel-aftreefonds in plek gesit, waarvan die seun ook lid was. Pa twee, ook ‘n sake-eienaar, het nie.

Pa een het, benewens sy lidmaatskap van die sambreelfonds, wat risikodekking, soos ‘n sterftevoordeel ingesluit het, ook addisioneel voorsiening gemaak vir sy vrou en kinders met lewensversekering.

Pa twee had geen lewensdekking nie. Niks. En die mees tragiese daarvan was dat ek oor baie jare herhaaldelik die risiko uitgewys het. Maar uiteindelik was ander goed net belangriker.

Die nadraai vir die familie

Pa twee se vrou het haar huis verloor. Sy en die kinders moes terugtrek na haar ma toe, terwyl ma self ‘n weduwee is vir wie daar nie juis voorsiening gemaak is nie. Die oupa aan die anderkant is nou self afgetree, toevallig ook met te min voorsiening, so hy kan ook nie juis help nie.

Pa een se vrou en kinders is versorg. Sy lewenspolis en die risikoversekering van die sambreelfonds het uitbetaal en dit is belê. Daar is genoeg vir ‘n noodfonds en vir kapitaalgroei.

Die geld in sy aftreefonds is deur die trustees aan die kinders toegeken en aan die ma oorbetaal.

Sy het dit vir my gegee om te belê en ons het dit vir elke kind afsonderlik in ‘n uittree-annuïteit belê.

En hier is die wonderlike nuus, wat vir my persoonlik baie opgewonde maak. Deur dit te doen het die ma gesorg dat haar drie kinders meer as voldoende aftreegeld gaan hê wanneer hulle by daardie ouderdom kom. Al dra hulle self nooit in hul lewe ‘n sent verder daartoe by nie.

‘n Versorgende ma wat voortbou op die nalatenskap van ‘n versorgende eggenoot en vader. So skep sy vir haarself en haar kinders finansiële welvaart en lewenslange finansiële onafhanklikheid.

Ek noem hierdie voorbeelde nie in ‘n verwytende sin nie. Ek noem dit om die boodskap tuis te bring dat elke besluit wat jy neem ‘n gevolg het. Dit kan vertroosting bring by die hartseer, of die hartseer net verder laat uitkring tot in uiteindelike finansiële ellende.

Laat ek dit reguit sê, deur nie te beplan nie, skep jy doelbewus armmoede vir jouself (as jy nie spaar vir aftrede nie) en vir jou geliefdes as jy sterf terwyl hulle nog van jou afhanklik is. Jy alleen is daarvoor verantwoordelik.

Dan moet ouma sorg

Kom ons bring dit nou terug by my punt hierbo aan kinders: Maak seker jy hou jouself uit jou ouers se sak en beursie.

Ek glo my twee voorbeelde illustreer baie goed, wat ek bedoel. Al was albei self pa’s, was albei ook kinders. Die een se dood het sy hele familie, vrou en kinders, terug in die sak en beursie van sy ma laat beland.

Die ander een het genoeg voorsiening gemaak. Die hele punt van die rubriek vandag.

Vra vir jouself, “Wat as..?” Wat as ek doodgaan? Wat as ek ongeskik raak?

Waarvan gaan jou man of vrou leef? En die kinders?

Wat as jou vrou, of man sterf en daar is kinders, en die oorlewende van julle twee sterf kort daarna? Dit gaan nie net oor wie gaan hulle versorg nie. Ouers sal altyd instaan. Maar daar moet geld wees. Is dit vir ouers om uit te sorteer? Dis mos darem baie selfsugtig.

Wanneer? Hoe vroeër hoe beter. Risikoversekering is spotgoedkoop as jy jonk is. Ons praat letterlik van eenkeer se uiteet saam met pelle in ruil vir ‘n maand se premie vir dekking van miljoene rande.

Dit is seker geld. Dood gaan jy dood. Eendag. En dan is daar geld. Vir iemand.

‘n Kundige finansiële beplanner kan die somme vir jou maak.


Nog Raad

Dink oor waar jy jou geld belê

Soms kan ‘n mens jouself in ‘n situasie bevind waarin jy geen sê gehad het nie. Met gevolge wat jou duur te staan kan kom.

Wat ek vandag wil uitlig, is die sogenaamde fondse van fondse wat deur sommige makelarye aangebied word. Daardie fondse wat die makelary se eie naam dra, byvoorbeeld die XYZ-fonds van fondse.

Nee, daar is niks onwettig hieraan nie.

Dit werk so.

Onderliggend aan die XYZ-tipe fondse is bestaande effektetrustfondse waartoe jou makelaar (en ander makelaars) in elk geval toegang het. Dit word nou net saamgevoeg onder een fonds van fondse met die makelary se naam. 

Agter die skerms word egter aan die makelary ‘n addisionele tarief betaal. Buiten dit waarop julle ooreengekom het. En dit is wat my pla. Ek kan nie sien hoe dit voldoen aan die wetlike vereiste om kliënte regverdig te behandel nie.

Geld wat uitbetaal, moet êrens vandaan kom.

Nog ‘n belangrike punt.

Sou jy van makelary verwissel, kan jy nie, soos andersins, iemand anders aanstel en jou beleggingsfondse na die nuwe raadgewer of makelary oordra nie.  

Jy gaan moet verkoop en herbelê. Met gepaardgaande kapitaalwinsbelasting gevolge.

Selfs al herbelê jy in dieselfde onderliggende fondse as waarin jy was.

Scroll to Top