Nee, Albie, gierigheid is nie krieket nie

Wanneer “opbrengste” soos sesse oor die grens vlieg, moet jy vra: is dit krieket of ’n Ponzi? Die Albie Morkel-sage wys hoe gierigheid jou skoon kan uitboul.


Nee, Albie, gierigheid is nie krieket nie

Deur Nico van Gijsen • Netwerk 24: Rapport e-publikasie  •  15 Maart 2026

Jy behou nie jou lopies wanneer jy uitgeboul word in Ponzi-krieket nie. Dit word teruggevat.

Dis dalk die les vir Albie Morkel, dog ek toe ek verlede Sondag Ruhan Friedrichs se berig in Rapport lees: “Kerkkamp-Ponzi”: Albie Morkel moet miljoene se wins terugbetaal.

Ons voormalige Protea-krieketheld en spesialis-konsultant vir die Proteas tydens die pas afgelope T20-Wêreldbekertoernooi is met ’n sierlike streepbal deur die likwidateurs van IPG Properties, ’n Ponzi-beleggingskema, vir ’n nulletjie uitgeboul.

As ek kyk na die R3,3 miljoen wat hulle van hom terugeis, kan ek nie anders as om te vermoed dat hy moes gedink het hy kan elke beleggingsbal sommer toe-oë vir ’n ses moker nie.

Of hy het nie gedink nie. Gierigheid is nie krieket nie.

Kom ons begin by die beskikbare inligting luidens die berig in Rapport. Waar moes die rooi ligte vir hom, en ander wat deur Ponzi-skemas verlei word, groot en helder geskyn het?

Die belofte van groot opbrengs

Dit is ’n ou en bekende refrein. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) beskryf mos die woord “refrein” as “motief wat elke slag terugkeer”.

Die motief hier is gierigheid. Moenie vir my kom vertel mense word mislei nie. Hulle word dalk belieg. Maar hulle glo die snert omdat hulle dit wil glo. En huil dan lang krokodiltrane as dit gebeur wat almal met ’n bietjie verstand vir hulle vooraf sou kon sê gaan gebeur: Jy gaan jou geld verloor.

Maar die motief, gierigheid, keer elke keer terug.

As dit te goed klink om waar te wees, wees verseker dat dit is. Op hierdie stukkie wysheid kan jy wel jou geld belê.

Verbeel jou iemand kom by die kerk, soos in die geval onder bespreking, beleggings werf met ’n beloofde opbrengs van soveel as 30% in drie maande. Dit skreeu donker wolke, dit skreeu reën en dit skreeu donderweer.

Maar die Duckworth-Lewis-Stern-metode is nie op Ponzi-krieket in kerke van toepassing nie.

Luidens hofstukke het Morkel sommer ’n “opbrengs” van R75 000 gekry, nog voordat hy ’n sent belê het. Praat van die duiwel loslaat.

Daarna het hy R350 000 by IPG belê. Dit was in 2021. Hy het glo 10 uitbetalings gekry ter waarde van altesaam R3,6 miljoen.

Dit beteken ’n “opbrengs op belegging” van 929%. Oor sowat drie jaar? Te goed om waar te wees.

Belasting

En terwyl ons by Ponzi-krieket in die kerk is: Ek lees in ’n bekende boek van die opdrag “gee aan die keiser wat die keiser toekom”.

En ek wonder, hoe is belasting gehef op hierdie bowêreldse groei? Is daar ooit ’n IT3(b) en IT3(c) uitgereik? Het Morkel en andere wat aan die skema deel gehad het, ooit geregistreer as voorlopige belastingbetalers om hierdie yslike “groei” te kan verklaar en wettiglik te kan hou?

Bedrieglike skemas betaal kontant uit. Dit is omdat hulle self nie belasting betaal nie. En hul “beleggers” dus ook nie belasting betaal nie.

Dit is die ander seker manier om ’n skelmstreek uit te ken. Weet dit.

Jy belê in jou kerk in die hiernamaals. Dis al.

Kerke en pastore

Jy doen nie geldelike beleggings by of deur jou kerk nie. Of by mense wat ooglopend die kerk en mense se geloof uitbuit vir hul geldmaakskemas nie.

Geloof is ’n moeilike onderwerp om te verstaan, maar wat ek weet, is dat geloof jou blind maak vir alles wat anders is as jou geloof self. En jy is meer geneig om diegene te glo wat glo soos jy glo.

As iemand dus geloof en gierigheid saam in die pot gooi, het jy ’n wenresep vir geldelike verganklikheid.

Moenie die rol van pastore en sportsterre hierin onderskat nie. Hulle help om “beleggers” vir die skema te werf. Hoekom anders sou Morkel R75 000 kry nog voordat hy ’n sent belê het?

Nie uit dierbaarheid nie. Nie omdat hy ’n gelowige is nie.

Herken ’n Ponzi-skema

Die eerste teken van ’n Ponzi-skema is die belofte van gereelde hoë opbrengste (soveel as 30% in drie maande, byvoorbeeld) met geen risiko nie. Stap weg.

Finansiële instellings moet by die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) geregistreer wees. Vra vir sy lisensie. Nie net om finansiële dienste te mag lewer nie, maar ook die soort dienste wat hy mag lewer.

En wat betref diegene wat so geld by die pastoor belê: Dis dalk nie ’n Ponzi-skema in die ware sin van die woord nie, maar ’n belegging is dit ook nie.

Ek weet van mense wat so by die pastoor geld “belê” het en op my opmerking dat dit eintlik ’n foefie is, vir my verduidelik dat hulle gereeld hul rente kry.

Ja, vir hoe lank? Vra vir die uitbetaling van jou geld en kyk waar sit jy.

En dan ook, gee die pastoor vir jou jaarliks ’n belastingsertifikaat?

Indien nie, is hy skelm en jy saam met hom.

Die ding met ’n Ponzi-skema, en die ander groot skelmstreek – die sogenaamde piramideskema (dis die een waar jy moet lede werf om te kom belê) – is dat jou finale beleggingsopbrengs baie seker is.

Jy weet jy gaan geld verloor. Jy kan alles verloor. Die ouens word altyd uitgevang. En dan sal jy jou winste moet terugbetaal.

Scroll to Top