Die gebruik van polisse as spaarmedium kan baie verwarrend wees. Nico van Gijsen werp lig op die fynere nuanses van polisbeleggings vir doeltreffende boedel- en belastingbeplanning.
Die voor- en nadele van spaarpolisse
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 10 Maart 2024
Groei word bepaal deur die fonds, nie die polis nie
Ek dink baie mense is soms verward oor die gebruik van ’n polis as ’n spaarmedium.
Met goeie rede, want die twak wat soms kwytgeraak word, kan ’n mens se kop behoorlik laat draai. Daarmee saam is lesers self ook baie keer geneig om net dit wat hulle wíl hoor in te neem en die breër prentjie heeltemal te ignoreer.
Soos die belastingvrye onttrekkings (vir inkomste) wat jy uit ’n polis kan maak. En die minder belasting wat jy kan betaal in ’n polis. Om maar twee te noem.
So, kom ons kyk.
Laat ek net eers waarsku. Polisse is nie almal dieselfde nie. En die kommissies betaalbaar is in sommige gevalle skandelik. Neem kennis hiervan.
Ek verwys hier na suiwer uitkeerpolisse. Sonder bonusse en ander foefies. En sonder lewensdekking daaraan gekoppel.
’n Polis is nie ’n afsonderlike beleggingsproduk in die sin dat polisse vir jou ’n beter of mindere opbrengs gaan gee nie. ’n Polis is ’n dop.
Ons praat van ’n polisbaadjie waarin ons (sekere) kliënte se beleggings toedraai. Maar binne daardie “baadjie” word jou geld steeds in fondse belê. Dieselfde fondse as sou jy direk in die fonds self belê. Jou beleggingsgroei word bepaal deur die fonds, nie die polis nie.
Die onmiddellike vraag nou is, glo ek, hoekom? Hoekom in ’n polis? Wat maak dit anders?
Dit sal afhang van onder meer jou doelwit met boedelbeplanning (ek hoop al ons lesers se geld is belê met boedelbeplanning as die vertrekpunt) en belastingbeplanning. Dit is waar jou polisbelegging ’n rol kan speel.
Die vyf-jaar-vereiste
Die eerste belangrike punt om te verstaan is, wat vereis die wet?
Art. 29A van die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) skep vyf fondse (kategorieë) vir belasting op polisse. Vir ons bespreking geld die belasting vir die individuele polishouersfonds (wat ek verderaan bespreek).
Maar, sê die wet, om binne hierdie belastingraamwerk te val, moet die belegging vir ’n tydperk van minstens vyf jaar belê word.
Sou jy geld uit die polis wil onttrek, kan jy ’n eenmalige onttrekking of rentevrye lening teen die polis maak.
Belangrike punt: Jou geld is prakties vas vir vyf jaar.
Belasting
’n Polisbelegging kan voordelig wees – vanuit ’n belastingoogpunt alleen – vir diegene wat in die hoër belastingkoerse val. Natuurlike persone kan tot 45% belasting (marginale koers) betaal op inkomste en 18% op kapitaalwinste (KWB).
In die individuele polishouersfonds word belasting gehef teen onderskeidelik 30% op inkomste en 12% KWB.
Die belasting word direk oorbetaal deur die versekeraar. Jy hoef dus nie jaarliks jou polisbelegging in ag te neem by jou belastingopgawe nie.
Die belasting word egter steeds gehef op die groei in die belegging. Jy betaal dit. Dit is nie belastingvry nie, dis net dat dit direk uit die polis betaal word.
Belangrike punt: Die jaarlikse rentevrystelling (R23 800 as jy onder 65 jaar is en R34 500 as jy ouer is) geld nie. Net so die jaarlikse KWB-uitsluiting van R40 000. Neem dit in ag as belasting jou oorweging is.
Belastingvrye inkomste
Ná die vyf-jaar-vereiste-termyn kan jy ’n belastingvrye inkomste uit die polis onttrek.
Dit is nie so opwindend soos dit klink nie. Enige onttrekking uit enige diskresionêre belegging is belastingvry – die belasting is reeds betaal op die groei. Jy trek maar net jou kapitaal.
Belangrike punt: Vir diegene in die hoër belastingkategorie kan dit tog ’n belastingvoordeel beteken ná aftrede. Die inkomste uit ’n lewende annuïteit (pensioen) is ten volle belasbaar as inkomste. Deur te spaar teen die meer gunstige koerse en dan ná aftrede as deel van jou inkomste geld uit die polisbelegging te onttrek, hoef jy minder uit jou lewende beannuïteit te trek en so jou belastingplig verminder.
By dood
’n Polisbelegging kan ’n rol speel in boedelbeplanning, want jy kan die polisopbrengs begunstig. Dit word dan direk aan daardie begunstigde uitbetaal en hoef dus nie eers deur jou boedel hanteer te word nie.
Dit kan die vertraging met die oordra van bates in ’n boedel systap. Jy begunstig die polis, jy hoef dit nie in jou testament te spesifiseer nie.
Dit is dan ook nie vatbaar vir die eksekuteurstarief nie, want die eksekuteur hanteer nie hierdie belegging nie. Moet tog net nie so vrekkig wees dat daar nie genoeg geld in die boedel is om boedelkoste te dek nie.
Belangrike punt: Die poliswaarde word steeds in ag geneem vir die berekening van boedelbelasting as geagte eiendom in jou boedel. Die storie dat dit vrygestel is van boedelbelasting is die grootste spul twak.
Buitelandse beleggings
Vir my is die polisbaadjie die enigste manier om geld direk in die buiteland te belê. Dit verskil nie veel van wat ek hierbo sê betreffende belastings, ensovoorts nie. Die spesifieke voordele lê elders.
- Jy hoef nie by dood iemand in die buiteland aan te stel om die deel van jou bates te hanteer nie. Die polis word eenvoudig oorgedra aan jou begunstigde.
- Dit is ’n skitterende manier om byvoorbeeld erfgeld by kinders in die buiteland te kry. Dit gaan nie deur jou boedel nie en jy is vry van Jan Taks se gesloer en traagheid om erfgeld in die buiteland te laat uitbetaal.
- Jy kan dit uitbetaalbaar maak in die geldeenheid van jou keuse.
Nog raad
Wat van ’n tweedehandse polis?
Jy kan ’n polis ook tweedehands koop as jy wil.
Dit is nie iemand anders se weggooi-polis wat jy sommer so goedkoop kan bekom nie. Dit is ’n beleggingsbesluit wat jy neem. Een wat uiteraard vir jou kan waarde toevoeg.
Hoekom ’n tweedehandse polis?
Tweedehandse polisse is veral gewild in tye wanneer die aandelemarkte op eiers dans. In onseker tye.
Dit is ook ’n aantreklike belegging vir mense wat in die hoër belastingkategorieë val. (Lees die hoofrubriek oor die belastingvoordele.)
Dit werk só:
- Die poliseienaar besluit om die polis vir ’n bietjie meer as sy uitkeerwaarde aan ’n ander persoon te verkoop. Die nuwe eienaar bespaar op die koste vir die aangaan van ’n nuwe polis.
- Die nuwe poliseienaar bekom só ’n belastingbeskermde belegging.
- Hy of sy kan verdere bydraes tot die polis van tot 20% maak, sonder dat ’n nuwe vyf-jaar-vereistetermyn geskep word.
- Soms is dit ook voordelig om ’n jonger lewe aan die polis te koppel om die polis uitbetaalbaar te maak by dood van die langslewende.
Die grootste nadeel is dat dié polisse onderhewig is aan kapitaalwinsbelasting (KWB), waar ’n polis wat aan sy oorspronklike eienaar uitbetaal word, nie is nie.