Ontdek hoe voormalige sportsterre en ander grootverdieners in ‘n oogwink van rykdom na armoede kan tuimel. In hierdie artikel ondersoek Nico die belangrikheid van geldbestuur en die noodsaaklikheid om jou geld vir jou te laat werk.
Armoede en ellende is net ’n oogknip ver
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 12 Mei 2024
Laat jou geld vir jou werk; dit verg tyd en streng dissipline
As jy lank genoeg in die bedryf is waarin ek is, weet jy een ding: Geld, selfs baie geld, hou nie lank as jy dit nie vir jou laat werk nie.
Ek het daaraan gedink toe ek verlede naweek in Rapport Sport lees oor die voormalige Springbok-kaptein Adriaan Strauss, wat sy meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA) aan die Noordwes- Universiteit met lof verwerf het (Strauss se tesis kan spelers help met die lewe ná rugby, bl. 17).
’n Lofwaardige prestasie. Maar wat my veral getref het, omdat dit iets is wat ek al jare lank waarneem, is die gevolgtrekking van Strauss dat finansies ook ’n uitdaging is (ná uittrede uit die sport).
In die berig sê Strauss onder meer: “Met die navorsing sien ’n mens dat finansies ook ’n uitdaging is. Hoe om dit te bestuur as jou inkomste van ’n goeie inkomste skielik na nul gaan?”
My eie waarneming oor die jare sê vir ons dit is nie net in rugby nie. Dieselfde geld ander sportsoorte. En baie ander mense wat niks met sport te doen het nie.
Die raakpunt tussen hulle almal is ’n hoë inkomste met (veral in die sportwêreld) gepaardgaande status as ’n held of glanspersoonlikheid.
En dan, as die dae van glorie en roem oor die kim verdwyn, het al daardie geld intussen êrens ’n put gevind.
Ek weet van byvoorbeeld diamantduikers wat ná ’n paar jaar waarin hulle groot salarisse verdien het en byna gratis gewoon het later met groot skuld daar by die see weg is.
En dan praat ek nie eens van al die oudpolisie- en weermaglede nie wat jare lank in Irak gewerk en etlike miljoene Amerikaanse dollars (meestal belastingvry) verdien het, maar vandag in diep finansiële ellende sit. Dan moet oudmakkers inspring en help met basiese goed soos kos.
Hoe is dit moontlik?
My jare se gedink daaroor het een ding vir my duidelik gemaak: Dit is nie net ’n geldprobleem nie. Dit is eerstens ’n kopprobleem. Of as ek vir Rassie (Erasmus, Springbok-afrigter) losweg kan aanhaal uit Chasing the Sun 2: “Party van julle is beter in jul kop as op die veld.”
Skielike rykdom gaan maklik na ’n mens se kop toe. Jy glo jy is iets spesiaal. Veral as die media nog hallelujas oor jou skryf ook. En motorhandelaars vir jou spog-vuurwaens gee. Jy besef nie hoe ander jou misbruik om hul eie aansien te verhoog nie.
Met rugbyspelers sien ons dit ook in die glyjakkalse met hul bedenklike geldmaakskemas (ek los maar die name; gaan soek in Rapport se argiewe).
Omdat dit vandag goed gaan, sal dit mos altyd goed gaan.
Wat baie groot verdieners nie besef nie is dat armoede en ellende net ’n oogknip ver is.
Die einde van jou roemryke loopbaan is net een besering ver. Of dit word kortgeknip deur ’n jong laaitie wie se manier van speel beter inpas by die nuwe afrigter se spelstyl.
Sorg self vir môre
Jou geld en roem kom nie met ’n lojaliteitsooreenkoms nie. Niemand gaan jou aanhou vergoed net vir daardie verspotte haarstyl en getatoeëerde arms nie.
Jy is net werd wat jy vandag werd is. En net jy kan sorg vir môre.
As jy ná eerlike selfondersoek besef dat jy jou in hierdie kategorie bevind en jy wil seker maak wanneer die keerpunt kom jou “val” nie ook jou val na armoede beteken nie, hier is ’n paar riglyne.
Beplan vir ’n lewe ná rugby (of wat dit ook is wat jy doen wat hierdie buitengewone salaris betaal).
Wat gaan jy doen? Waar gaan jy dit doen? Wat gaan nodig wees om dit te kan doen? En dan beskerm jy eers jou verdienvermoë.
Dit neem een besering, een ongeluk om jou hele lewe van stryk te bring.
Wie gaan na jou omsien as jy ongeskik raak en die res van jou lewe in ’n rolstoel moet deurbring? Hoe gaan daardie mense dit doen as jy nie voorsiening gemaak het daarvoor nie? Of as ’n gevreesde siekte jou gryp en jou inkomste val onmiddellik weg, waarvan gaan jy leef?
En dan, maak seker dat jou geld vir jou werk.
Skuif jou ego eenkant en aanvaar dat jy bevoorreg is om dit te kan doen wat goeie geld betaal. Dis nie jou reg nie.
Laat die geld vir jou werk
Geld wat nie vir jou werk nie is betekenisloos. Dit dien dan net om in jou eie kop vir jou te kan verbeel dat jy die bure beïndruk. Maar dit is ’n wanindruk.
Hoe laat jy jou geld werk?
Deur dit kundig te belê. Nie by die blinkstefaanse wat teer op jou status nie. Belê verantwoordelik. Kry raad by kundige, gelisensieerde, finansiële beplanners wat jóú wil help, nie hulself nie.
Geld wat werk skep werklike welvaart; rykdom waaruit jy later kan put wanneer jou talente verlep raak en jou geldwaarde opdroog.
Net jy kan dit doen, niemand gaan dit vir jou doen nie. Hoe vroeër jy daarmee begin, hoe beter.
Om welvaart te kan skep (selfs vir diegene wat nie miljoene verdien nie) is twee goed nodig: dissipline en tyd. Dissipline om nie elke sent uit te leef (mors) nie. En tyd vir jou belegging om te groei.
Nog raad
Beleggings: Wanneer is die tyd reg?
Met ’n verkiesing op hande (met ’n spul negatiewe stories wat die ronde doen), en ’n aandelemark wat die afgelope maande maar bedroef lyk, hoor ek al hoe meer die vraag: Moet ek my geld skuif?
Nee, dit is nou tyd om te belê, nie om te verkoop nie. Jy koop.
Om die mark te probeer speel is meestal ’n futiele oefening. Jy gaan dit nie regkry nie. Knap batebestuurders kry dit nie reg nie.
William Strauss, wat ’n Nobelprys gewen het vir ekonomie met sy werk oor beleggings, het uitgewerk dat jy drie uit vier keer korrek moet wees om ’n strategie van mark-berekening te regverdig.
Vergeet maar eers dat die transaksiekoste elke keer ’n hap van jou geld gaan vat. As al jou geld in rentedraende instrumente (byvoorbeeld die geldmark of by ’n bank) belê is en jy skuif te laat, het jy al groot verloor.
Kyk byvoorbeeld nou met die verkiesing op hande. Mense wil nou, ná die daling in die mark, geld skuif na kontant. En dié wat in kontant is wil wag totdat die mark “gedraai het”. Dit is gatoorkop. Dis ’n verloorstrategie.
Kry kundige advies, vermy emosie en trek die voordeel.