Goeie aftreebeplanning gaan nie net oor geld nie. Alhoewel jy dalk finansieel goed voorsien het vir jou aftrede en skuld-vry is met ‘n eie blyplek, moet jy ook nadink oor onverwagte omstandighede. Wat as jou gesondheid agteruitgaan? Wat as jy ‘n geestesiekte kry? Daar is verskeie faktore wat in ag geneem moet word.
Wat as jy self nie meer kan nie?
Deur Nico van Gijsen • Rapport: Raad met jou rande • 15 Oktober 2023
Besin mooi oor watter finansiële roete om te volg
Goeie aftredebeplanning gaan oor meer as net geld.
Kom ons sê jy het finansieel goed voorsiening gemaak vir jou aftrede. Jy het geen skuld nie. Jy het ’n blyplek van jou eie – nie by kinders nie. Is dit nie die ideaal nie? Ja, dit is. Maar dis nog nie die einde van jou beplanning vir aftrede nie.
Het jy al jouself afgevra, wat as . . . ? Wat as jy self nie meer kan nie? Wat as demensie jou gryp? Of Alzheimer se siekte? Of ’n beroerte? Is jou geldplan dan nog ideaal vir hierdie nuwe omstandighede?
Ek kyk na ’n paar faktore ter sake en waar ek ’n oplossing aan die hand kan doen.
Handhaaf ’n gesonder leefstyl
Mense leef deesdae langer. Maar hulle leef nie gesonder nie. Inteendeel, ek wonder hoeveel mense, wanneer hulle by aftrede kom, gebruik dan nie al reeds een of ander medikasie nie. Ons moderne lewenstyl – te veel tyd op jou bas, pleks van in die bos – is eenvoudig nie bevorderlik vir goeie gesondheid nie.
Dit bring my by my eerste wenk vandag. Leef gesond. Gaan spreek jou dokter gereeld, sodat hy of sy betyds jou skete en kwale kan identifiseer. Die meeste soorte terminale kanker by mense wat ek deur die jare geken het, kon behandel gewees het as dit net betyds gediagnoseer was.
Kortliks, jou dokter is net so deel van jou aftredebeplanning as jou finansiële beplanner. Goed, jy doen alles reg soos ek tot hiertoe genoem het. Wat nou as jy dan ’n geestesiekte opdoen, soos wat ek hierbo noem? Jy raak onbevoeg om na jou eie sake om te sien. ’n Polis vir gevreesdesiekte is ’n móét, meen ek. Dit sal ’n bedrag geld uitbetaal wat gaan help met versorging. Dit is goeie voorsiening. Maar dit is al. Iemand gaan steeds na jou geldsake moet omsien. Hoe beplan jy daarvoor?
Volmag
Die sogenaamde volmag aan ’n kind is gewild. Maar wat baie min mense besef is dat ’n volmag net van krag is vir solank as wat jy, die een wat die volmag gegee het, in staat is daartoe om die volmag terug te trek.
As jy geestelike onbevoeg is weens demensie of Alzheimer se siekte kan jy nie. En die volmag is niks werd nie. Daar moet nou ’n kurator aangestel word om na jou belange om te sien. Om jou geldsake te hanteer. By die bank. By die instansie waar jou pensioen belê is.
Trust
Is jy ’n begunstigde in ’n bestaande inter vivos-trust (jou tipiese familietrust) kan die trustees (teoreties) na jou omsien. Maar waar is jou pensioenfonds? Sekerlik word dit nie deur die trust gehou nie. Baie familietrusts is in elk geval so opgerig dat daar meer as een begunstigde is. En die trustreg bepaal dat trustees na begunstigdes se belange moet omsien, nie een uitsonder nie.
Daar is maniere rondom dié probleem. In 2022 het die Ontvanger van Inkomste in ’n Bindende Private Reëling ingestem dat ’n leningsrekening ten gunste van een begunstigde van ’n (bestaande) trust (die man) aan die trust gesedeer word. Die man se vrou het na hom omgesien en die doel van die reëling met die Ontvanger was dat sou sy vrou “iets oorkom” (die egpaar had genoeg ander geld
om hom intussen te versorg) die trust as ’n spesiale trust beskou sal word en dat die trustees uitsluitlik vir hom sou versorg. In ’n ander Bindende Private Reëling van 2018 is toegelaat dat ’n spesiale trust (nuut) geskep word ten gunste van ’n vrou by wie ’n geestesongesteldheid gediagnoseer is.
Die punt in albei gevalle is dat bates na die trust toe oorgedra kon word, sonder dat geskenkbelasting of kapitaalwins- belasting gehef word – wat normaalweg ter sprake sou kom wanneer bates na ’n trust toe oorgedra word. Die trust sou as ’n spesiale trust beskou word vir belastingdoeleindes. Die trustakte kon ook gewysig word, sodat die trustees eers na die belange van die geestelik onbevoegde persoon kon omsien tot by sy of haar dood. Daarna sou die trust weer as ’n “gewone” familietrust kon funksioneer ten gunste van diskresionêre begunstigdes.
Pensioengeld
Wat nou as al, of die meeste, van jou na-aftrede inkomste uit ’n eie pensioenfonds onttrek word? ’n Lewende annuïteit byvoorbeeld? Die oomblik dat jy geestelik nie meer die vermoë het om besluite oor jou geldsake te neem nie, kom die bron van inkomste onder druk.
Jy kan dit nie aan trustees van ’n trust oordra nie. ’n Kurator sou die enigste opsie wees. Maar wie? ’n Eenvoudige oorweging is om ’n lewensannuïteit te koop. Dié annuïteit bied ’n gewaarborgde inkomste lewenslank. Jy weet dus die geld kom elke maand in, of jy dit self kan hanteer of nie. Daar is geen besluite van jou kant af of oor hoeveel jy moet onttrek, of oor fondskeuses nie en geen bekommernis oor beleggingsmarkte nie.
Kortliks, al moet daar vir jou ’n kurator aangestel word, of al beland jy in ’n versorgingsoord met ’n kind wat daar van die kant af ’n ogie hou oor jou sake, is een ding seker. Die geld vir jou onderhoud en versorging kom elke maand in. Dit is gewaarborg. En as jy die kapitaalbeskermingsvoordeel geneem het, weet jy dat jou begunstigdes die geld gaan kry by jou dood.
Nóg raad
Só werk ’n spesiale trust
In die hoofrubriek het ek verwys na ’n “spesiale trust”. Wat is dit en wat maak dit “spesiaal?” Wat hom spesiaal maak, vind ons in die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962), wat ’n spesiale kategorie van belastingbetaler skep, genoem “spesiale trust”. Jou gewone familietrust word op inkomste belas teen ’n vaste koers van 45%. ’n Spesiale trust word belas teen dieselfde koers as natuurlike persone. Op ’n glyskaal tussen 18% en 45% marginaal.
Die wet onderskei tussen twee tipes spesiale trusts. Die eerste is ’n trust geskep tot die voordeel van ’n persoon wat ly aan ’n geestesiekte, soos omskryf in die Wet op Geestesgesondheidsorg (Wet 17 van 2002), of ’n ernstige fisieke gebrek het. Die vereiste is dat so ’n persoon nie in staat is om ’n inkomste te verdien, of self sy of haar eie sake te kan behartig nie. Die tweede is ’n trust geskep deur ’n testament (testamentêre trust) vir die uitsluitlike versorging van minderjarige naasbestaandes van die testateur. Dit word ook genoem ’n “onder 21- trust”. Die groot verskil tussen die twee is in die belastingonderskeid. Die onder 21-trust word nie as ’n natuurlike persoon behandel wat betref kapitaalwinsbelasting (KWB) nie.