Annuïteite klink eenvoudig, maar as jy nie mooi verstaan hoe dit werk nie, kan jy maklik verkeerde besluite neem—en dalk selfs belastingverrassings kry!
Die (deurmekaar) waarheid oor annuïteite
Deur Nico van Gijsen • Rapport e-publikasie: Geldsake • 16 Februarie 2025
Hoe gemaak as jy ’n seker inkomste wil hê uit geld wat nie in ’n pensioenfonds-tipe-produk gespaar is nie? Oorweeg ’n vrywillige lewensannuïteit, skryf Nico van Gijsen.
Iemand vra die week ek moet sy geld vir hom belê in ’n lewende annuïteit, want sê hy, sy vriend het gesê dit is die beste opsie.
Iemand anders wil geld uit sy uittree-annuïteit onttrek en dan later weer daartoe begin bydra.
Nie een van die twee is moontlik nie.
Ek kom later terug na hierdie twee punte, maar ek moet dalk net eers verduidelik wat presies ’n annuïteit is, of dan wat alles as ’n annuïteit beskou word. Daar is meer as een definisie en dit is duidelik verwarrend vir baie mense.
Belasting
Laat ek begin by die Inkomstebelastingwet (58 van 1962). Die vierde bylae van die wet bepaal enige annuïteit wat ’n persoon toeval, moet ingesluit word onder bruto inkomste vir die berekening van inkomstebelasting.
Maar nêrens kry ons ’n definisie van ’n annuïteit nie. Dit moet ons aflei uit regspraak.
Kortweg behels dit enige gereelde betaling aan iemand volgens ’n ooreenkoms.
Byvoorbeeld, ’n gereelde betaling uit die residu van ’n boedel ingevolge ’n testamentêre bepaling is ’n annuïteit.
En, lees dit gerus twee keer: ’n Bedrag wat ingevolge ’n ooreenkoms ’n verpligting op ’n trust plaas om gereelde betalings aan iemand te maak, lewenslank, of vir ’n bepaalde tydperk, is ’n annuïteit.
En, soos gesê, annuïteite is belasbaar. Dit is inkomste. Dis soos ’n salaris.
Noudat die Inkomstebelastingwet ons koppe lekker deurmekaar het, kom ons probeer sin maak uit die verwarring met die verskillende soorte annuïteite. Gereelde betalings uit boedels of trusts buite rekening gelaat.
Uittree-annuïteite (UA’s)
’n UA is, glo my asseblief, geen annuïteit nie. Waar hy aan sy naam kom, weet nugter en hy is nie nou hier nie.
’n UA betaal nie ’n bedrag inkomste uit nie. Dit kán dus nie ’n annuïteit wees nie.
Dit is ’n produk waarin jy spaar om eendag te kán aftree en ’n pensioen mee te kán aankoop. Maar die UA self betaal nie die pensioen of annuïteit nie.
Lewende annuïteite en lewensannuïteite
Dit is twee produkte waaruit jy kan kies wanneer jy uit jou UA of pensioenfonds uittree. Dit betaal vir jou die pensioen (of dan annuïteit, dit is dieselfde ding) ná aftrede.
Hierdie annuïteite is, soos alle annuïteite, belasbaar as inkomste.
Die verskil tussen die twee, net ter wille van die baie lesers wat my gereeld hieroor kontak, is met die lewende annuïteit is jy self verantwoordelik vir die bestuur van jou beleggingsportefeulje.
Jy moet dus self sorg dat jy nie meer onttrek uit jou fonds (die lewende annuïteit) as die groei wat jy kry nie. By dood is dit wat in die lewende annuïteit oor is, beskikbaar vir jou begunstigdes.
Met ’n lewensannuïteit koop jy ’n gewaarborgde pensioen (of dan annuïteit) by ’n versekeraar wat lewenslank aan jou sal uitbetaal. Jy kan dit ook koppel aan sowel jou as jou gade se lewe in welke geval dit sal bly uitbetaal tot by die sterfte van die langslewende van julle.
Jy het die gemoedsrus dat wat ook al die beleggingsmarkte doen, jy kry jou pensioen waarop daar ooreengekom is.
Daar is verskillende waarborge waarop ek nie nou wil ingaan nie. By dood hou die betalings op, tensy ’n termynwaarborg daaraan gekoppel is in welke geval die annuïteit ná dood sal bly uitbetaal tot aan die einde van die termyn.
Die oorspronklike kapitaal kan verseker word om ná dood uit te betaal, maar dit vereis lewensdekking vir die bedrag. Dit is goedkoper as gewone lewensdekking.
Die belangrike punt is dat die inkomste in albei gevalle belasbaar is as ’n annuïteit soos ek hier bo noem.
Vrywillige lewensannuïteit
Indien jy ’n diskresionêre neseier het – dit is geld wat nie in ’n pensioenfonds-tipe-produk gespaar is nie – en jy wil ’n seker inkomste daaruit hê, kan jy oorweeg om ’n vrywillige lewensannuïteit aan te koop.
Dit is nie dieselfde nie, maar baie soortgelyk aan ’n lewensannuïteit wat jy kan koop met verpligte geld (afkomstig uit ’n pensioenfonds of UA).
Dit bied eweneens ’n gewaarborgde inkomste lewenslank met of sonder jaarlikse verhogings. Jy kan dit koppel aan net jou lewe, of ook aan die lewe van ’n gade in welke geval dit sal bly uitbetaal tot by die sterfte van die langslewende van julle.
Die waarborge is soortgelyk aan dié van die lewensannuïteit hierbo.
Dit moet genoem word dat hierdie annuïteit – anders as inkomste uit ’n lewende annuïteit, of lewensannuïteit, of annuïteite in die klas van wat ek in die inleidende gedeelte hierbo bespreek – nie ten volle belasbaar is nie.
Dit is eintlik ’n baie belastingvriendelike annuïteit. En die rede is eenvoudig: ’n Deel van die geld wat aan jou uitbetaal, kom uit jou eie kapitaal wat jy belê en hierdie kapitaal is nie belasbaar nie.
Wat kan en wat kan nie
Jy kan nie, soos die leser hierbo wou hê, ’n lewende annuïteit koop met diskresionêre geld nie.
Jy kan óf net inkomste uit jou bestaande belegging onttrek, wat belastingvry sal wees, aangesien dit jou eie geld is en jy reeds belasting betaal op die groei in die belegging, óf jy kan ’n vrywillige annuïteit koop as jy die gemoedsrus wil hê.
En, ai tog, moenie finansiële raad vra van vriende, bure of familie as hulle nie gekwalifiseerde finansiële raadgewers is nie. Dis ’n seker pad na Tranedal.
Jy kan ook nie, soos die tweede leser hier bo, uittree uit jou UA en dan later weer begin bydraes daarin maak nie. As jy uit is, is jy uit.
Jy kan egter ’n nuwe UA begin as jy wil.
Nog Raad
Belastingvrye spaar – jou tyd is min
Daar is nog net ’n paar dae oor om die belastingtoegewings wat beskikbaar is in ’n belastingvrye spaarrekening te benut.
Die jaarlikse bydrae wat jy mag maak om die voordeel te gebruik, is gekoppel aan die belastingjaar. En dit is einde Februarie.
So, as jy oorweeg om ’n paar rand weg te sit waarop daar geen belasting gehef gaan word op die groei nie, doen dit betyds. Doen dit sommer die week, want dit neem tyd om alles af te handel.
Jy kan R36 000 per jaar op dié wyse bydra. Tot soveel as R500 000 oor jou leeftyd.
Die balans in die belegging is nie ter sake nie, net die bydrae wat jy jaarliks mag maak.
Man en vrou kan natuurlik elkeen R36 000 per jaar bydra. Al werk een van julle nie vir ’n salaris nie, kan die een eenvoudig geld aan die ander skenk om te belê. Daar is nie geskenkbelasting tussen gades nie.
Onthou net, daar is ’n strafbelasting as jy meer as die toegelate R36 000 in ’n jaar spaar. Jy word beboet met ’n bykomende belasting van 40% op die bedrag wat meer as R36 000 is.
Praat met jou finansiële raadgewer, want die onderliggende fondse is hier ook belangrik.